Skip to main content

As ons verby al die lelike dinge kyk soos beurtkrag, rommel in die strate, onverdraagsaamheid onder mense of staats-instellings wat eers moet verbeter voordat hulle by die ‘hopeloos-kerf kom, dan is daar ‘n hele paar dinge wat weer sal help dat ons ons land en sy mense met nuwe oë sal sien.

Wat is vir jou sinoniem met ons land?

Vir my is dit Tafelberg. Hierdie kolos se ryk blomme-biodiversiteit – met meer as 8 200 spesies plante, waarvan 80% uit fynbos bestaan – het gesorg dat dit deel word van die Cape Floral Kingdom-wêrelderfenisgebied.

Ons land spog ook met die wêreld se grootste sigbare krater (vanuit die ruimte) wat ongeveer 2 030 miljoen jaar gelede deur ‘n meteoor van ongeveer 10 km in deursnee in die Vrystaat gemaak is.

Die wynliefhebbers sal bly wees om te hoor dat ons die langste wynroete in die wêreld het. Die 850 km Roete 62 loop draaie deur plekke tussen Kaapstad, vanaf Constantia na Port Elizabeth via Oudtshoorn en die Tuinroete, verby klassieke Kaaps-Hollandse opstalle, groen berge, 200 kelders en kilometers en kilometers wingerde ry.

Ons is die enigste land met drie hoofstede: Kaapstad (Wetgewend), Pretoria (Administratief), en Bloemfontein (Geregtelik).

Die eerste inboorlinge van Suid-Afrika is die San en die Khoi wat nagenoeg 300 nC in wat nou die Wes-Kaap is, gewoon het.

Iets anders waarvoor ons land bekend is, is die duisende skeepswrakke om ons kuslyn. ‘n Allemintige 3 000 van hulle! Alle skeepswrakke word nou deur wetgewing beskerm.

Ons nasionale dier: die Springbok.

Ons nasionale blom: Koningprotea (King Protea oftewel Protea cynaroides).

Ons nasionale boom: Opregte geelhout (Podocarpus latifolius)

Ons nasionale vis: die Galjoen

Ons nasionale voël: die Bloukraanvoël (Anthropoides paradisia)

Wat is daar van ons land wat vir jóú bekoring inhou?

Leave a Reply

error: Content is protected !!