Skip to main content

George April

Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing het verlede jaar aan Cederberg en Matzikama trokke geskenk om hul omgewing skoon te hou.

Daar was egter nie skipbins by nie, en die Cederbergraad het nie fondse gehad om dit aan te koop nie.  Volgens dr Ruben Richards, ‘n Cederberg Eerste (CE)  raadslid, het hul CE organisasie, inwoners en sakelui van Clanwilliam fondse ingesamel om 10 skipbins te koop. “Die Cederbergraad weier egter toe om die geskenke te aanvaar, en gee verskillende redes daarvoor.

“Dat hulle nie fondse het om diesel te koop om die trokke te laat ry nie. Ons het aangebied om vir die diesel te betaal. Toe is die raad se verskoning weer dat hulle nie ‘n geskikte bestuurder het nie. Ek het aangebied om die bestuurder te verskaf en selfs sy salaris te betaal. Ook dit wil hulle nie aanvaar nie,” het Richards vertel. “Ons dorp is vuil, en die Raad wil nie ons hulp om ‘n verskil te maak, aanvaar nie.”

Die Patriotiese Alliansie (PA) en African National Congress (ANC) is tans in beheer van die Cederberg Munisipaliteit.

Op sosiale media gaan menige inwoner gal af oor al die ongeruimdhede en swak dienslewering. Franklin Adams, ‘n inwoner van Graafwater, het selfs ‘n naam vir sy streek gegee, nl. “Skelmbos”.

Terwyl die verskillende politieke partye in die land gal afgaan oor Eskom se kragonderbrekings, is Cederberg munisipaliteit een van vier munisipaliteite in die Weskaap wat die kragreus miljoene rande skuld vir krag.

Cederberg skuld byna R48 miljoen, met Kannaland munisipaliteit wat R32,4 miljoen skuld. Dit terwyl Beaufort-Wes en Matzikama munisipaliteite in die rooi draai met onderskeidelik  R78,5 en R97 miljoen vir kraggeld aan Eskom.

Leave a Reply