Skip to main content

Isaac Cloete  

‘n Siek oom moes onlangs die gees gee omdat ‘n ambulans nie opgedaag het nie

Die hartseer verhaal het die afgelope week te Buffelsrivier in Namakwaland gebeur.

Volgens ‘n inwoner van hier, Sanita Du Plooy, het sy Woensdagaand die ambulans gebel om ‘n siek 64-jarige oom, (aan die koerant bekend), te gaan oplaai. Hy het aan asma gely.

Hy sou na die Springbok hospitaal, 60 km verder, geneem moes word. Dit het egter nooit gebeur nie en het die oom ‘n paar dae daarna gesterf.

Du Plooy, wat ook ‘n vriend van die oom se familie is, het baie hartseer vertel: “Ek het die Woensdag soveel keer die ambulans gebel vir die oom wat siek was. Tot op hede het dit nooit opgedaag nie. Die mooiste van alles was dat ek nie alleen probeer het nie. Al wat ek gehoor het was dat die operateurs besig was en so het my airtime uitgeloop.”

Volgens haar het sy wel een keer deurgekom en haar storie vinnig vertel, maar toe is haar airtime van R20 klaar. Daar het egter steeds niks gebeur nie.

Hierna het hulle koppe bymekaar gesit en besluit om private vervoer te gebruik. Die oom se familie kon dit egter nie bekostig nie. ‘n Rit na Springbok kos tussen R400 en R500, het sy vertel.

Deesdae moet inwoners van die Namakwa-streek eers die mediese nooddienste (EMS) se oproepsentrum op Upington bel vir ‘n ambulans. Dit is 400km vanaf Springbok.

Lionel Bok, ‘n aktivis teen swak gesondheidsdienslewerings, het ook probeer help deur die EMS op Upington te kontak.

Hy het die familie aangeraai om die verwysingsnommer, wat hulle na hulle oproepe ontvang, te gebruik om die “skuldiges” in Upington aan die pen te laat ry.

Du Plooy het verder gesê: “Ek weet nie hoekom ons mense so sleg behandel moet word nie. Ons moet die voorval aan die wêreld verkondig dat almal kan sien wat tans hier gebeur met die power ambulansdienste.”

Volgens ‘n suster van die oom, net as Mieta bekend, het haar broer gesê dat hy voel hy is op pad na die “ander wêreld”, na sy ander geliefdes.

Die oom word Saterdag uit die Rooms-Katolieke kerk hier begrawe het die suster vertel. Daniël Grootboom (distriksbestuurder) van gesondheid op Springbok het vroeër gesê dat die personeel maar net die beste moet doen met dit wat hulle tot hulle beskikking het.”

* Alletta van der Byl van Bergsig naby Springbok het vertel dat sy ook baie siek was. Toe sy die ambulans bel, het hulle ook nie opgedaag nie.

Sy voel dat die land in sy peetjie is en dat daar dringend opgetree moet word.

Leave a Reply