Skip to main content

Korrespondent

Wetteloosheid op Suid-Afrikaanse paaie moet hok geslaan word om die lewens en eiendom van mense te beskerm, en ekonomiese vooruitgang te waarborg, veral wanneer Suid-Afrikaanse uitvoere van kardinale internasionale belang ter sprake is.

Dis die mening van Gavin Kelly, hoof-uitvoerende beampte van die Road Freight Association (RFA), vervat in ’n verklaring uitgevaardig na protesaksie vroeër die week op die N2-hoofweg tussen Piet Retief en Pongola.

Volgens gerugte het die verkeersonwrigting vlam gevat na die verskyning in Pongola se Magistraatshof van Sibusiso Siyaya, ’n vragmotorbestuurder wat betrokke was in ’n kop-aan-kop botsing verlede September.

Siyaya het weggehardloop van die toneel waarin twee volwassenes en 18 kinders op pad skool toe hul lewens verloor het, maar het homself later aan die polisie oorhandig.

Ná Woensdag se hofverskyning waarin sy borgtogaansoek afgekeur is, het gemeenskapsleiers en hul volgelinge luidrugtig begin betoog deur versperrings op die kronkelende hoofweg tussen Pongola en Piet Retief te plaas.

Hul misnoeë het blykbaar ook gespruit uit ’n vroeëre vergadering met Pongola se burgemeester, Bheki Twala, waartydens beloftes gemaak is oor die instelling van maatreëls om te voorkom dat vragmotors spoedgrense oortree.

Daar is onder meer ook gesê dat verkeersbeamptes vragmotors in die omgewing voortaan meer gereeld gaan stop vir padvaardigheidsinspeksies.

Hoewel dié verbintenisse oor verbeterde padveiligheid aanvanklik nagekom is, het dit blykbaar nie lank geduur nie.

Die kwansuise versuim van plaaslike owerhede om beloftes gestand te doen, is ook deur die RFA bevraagteken, veral in die lig van steenkooluitvoere wat sedert einde verlede jaar drasties toegeneem het op hoofpaaie tussen Mpumalanga en Richardsbaai se hawe aan die noordkus van KwaZulu-Natal.

Die verskerpte uitvoere is van groot belang vir lande in Wes-Europa wat weens die oorlog in Oekraïne minder aardgas gebruik as gevolg van prysverhogings deur Rusland, en die verkeersontwrigting op die N2 hou ernstige gevolge in vir Suid-Afrika se steenkooluitvoere na dié lande toe.

Kelly het gesê meer duidelikheid moet bekom word oor wie die wetstoepassers nou eintlik is wat getaak was met verskerpte optrede langs die N2, en hoekom hul teenwoordigheid skynbaar van korte duur was.

Hy wil ook weet of dit bekend is wat die uitwerking, indien wel, van wetstoepassing op die padvervoersektor was, en het benadruk dat die RFA gereeld klem lê op die belang van optrede teenoor padvragdiensleweraars wat die wet verbreek.

Kelly het egter ook genoem: “Dis mos logies dat, gegewe die skerp styging in die hoeveelheid steenkool wat per pad na Richardsbaai toe vervoer word, die provinsiale verkeersowerhede meer personneel beskikbaar sal stel vir die roetes wat nou baie meer verkeer dra.”

In Desember byvoorbeeld was die N2 tussen Piet Retief en Pongola só gepak met vragmotors dat vakansiegangers op pad na bestemmings soos Sodwana en St Lucia sowat drie- na vier ure lank gevat het om die afstand van 108 kilometer tussen die twee dorpe af te lê.

Ontwettige verkeersontwrigting veroorsaak deur vandeesweek se protesaksie het beteken dat wetsgehoorsame transportmaatskappye, wat geen aandeel in verlede September se ongeluk gehad het nie, nie hul besigheidsverpligtinge kon nakom nie, het Kelly gesê.

“Dis nie regverdig, of enigsins volgens die wet nie,” het hy gesê.

Verder is dit opvallend dat niks vermeld is oor die roekelose padverbruik van taxi’s op dié gedeelte van die N2 nie.

Die Waarheid het tydens Desember self gesien hoe taxibestuurders tussen Pongola en Piet Retief die lewens van ander motoriste en hul gesinne in gevaar stel deur op blinde draaie en hoogtes ander voertuie verby te steek op hul dolle vaart van roekelose winsbelang.

Leave a Reply