Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Ongewone en vreemde suidwestelike stormwind het onlangs die pastorie van ‘n kerk getref.

Dit was die Calvynse kerk se pastorie op Bergsig, naby Springbok, wat die Saterdagnamiddag, op die Oujaar, so moes deurloop.

Die sterk wind het ‘n groot gedeelte van die dak afgeruk en dit het teen die kerkgebou langsaan gaan land. Volgens dominee André Samson het dit binne minute gebeur, terwyl hy op sy selfoon besig was.

“Ek was op pad na die kerk, maar moes eers my foon beantwoord Dit het waarskynlik verhoed dat die sinke my tref.” Samson hoop dat die voorval eerder op goeie geluk dui as ‘n voorbode vir die nuwe jaar.

Wat die rare verskynsel vreemd maak, is dat dit net die pastorie getref het en nie ander wonings in die onmiddellike omgewing nie. Gelukkig was daar geen ongevalle of beserings nie en behoort daar teen Dinsdag aan die beskadigde dak gewerk te word.

‘n Lidmaat, suster Judy Cloete, het die gerammel gehoor en toe net stofwolke gesien.

Sy het aanvanklik gemeen dat dit ‘n voertuig kon wees wat teen ‘n gebou vasgery het. “Dit was soos ‘n klein orkaan, want net stofwolke het in die lug opgeskiet en toe met die teerpad aangerol gekom. Later het die pastorie-juffrou ons per WhatsApp laat weet dat die lidmate vertel dat dit die tweede keer is dat ‘n deel van die pastorie se dak afgeruk is deur die wind. Hulle voel dat swak vakmanskap moontlik n rol kon gespeel het.

Toe Die Waarheid op die toneel opdaag, het lidmate al probeer om van die dakplate eers tydelik vas te kap. Dit sou ‘n paar duisend rand kos om die dak ten volle te herstel, is toe bereken.

* Die dak was intussen  herstel met die hulp van verskeie barmhartige persone en van die lidmate. Enige ander skenkings is egter steeds welkom.

Leave a Reply