Skip to main content

Nadat talle diereliefhebbers hulle misnoeë uitgespreek het oor die tragiese dood van die tierwyfie, Sheba, wat verlede naweek uit haar kamp in Walkerville ontsnap het, oorweeg die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) om haar eienaar, Martin Erasmus, hof toe te sleep.

“Die NDBV is besig om die saak verder te ondersoek en bekyk die situasie vanuit verskillende hoeke. Ons oorweeg dit baie sterk om die eienaar hof toe te vat vir die gebeure wat die afgelope paar dae ontvou het,” lui ’n verslag deur die diereregteorganisasie.

Die agtjarige tier, wat van klein-tyd af hans grootgemaak was, is na ’n grootskaalse soektog vroeg Woensdagoggend op ’n kleinhoewe in Walkerville van kant gemaak.

Die situasie het reeds Saterdagaand kookpunt bereik toe sy vir Willam Peki Mokoena (39) aangeval het. Hy is aan die regterbobeen en aan die linkeronderbeen gebyt. Volgens berigte beplan hy ook om regsaksie teen Sheba se eienaar te neem.

Sheba het vir etlike dae in die naby geleë koppies in die omgewing geskuil. Die Dinsdagaand het sy in ’n plaasomgewing beland waar daar inwoners en kinders was. Sy het hier ’n hond en ’n vark doodgebyt.

Volgens die DBV van Vereeniging en Vanderbijlpark asook die NDBV, was hulle vroeër betrokke by die soektog na Sheba, maar hulle was nie teenwoordig toe die dier geskiet is nie en is eers later ingelig.

“Die tier was nooit gevang en toe van kant gemaak nie. Die eienaar (Martin) het daarin gefaal om haar veilig te vang en sy het in ’n area betree waar mense gewoon het en is daar doodgeskiet.”

Volgens hulle verklaring is wetgewing so geskryf dat mense, wat hierdie diere uitbuit, die enigste party is wat daarby baat.

“Die welstand van die dier word nie in ag geneem nie en die veiligheid van die gemeenskap word ook nie as prioriteit beskou nie. Indien die welstand van die gemeenskap en die diere in ag geneem sou word, sou dit nie wettig wees om hierdie diere aan te hou nie.

“Iemand is deur hierdie dier beseer, familie het hulle geliefde troeteldiere verloor en ’n tier, wat soos enige wilde dier opgetree het, het haar lewe verloor.”

Leave a Reply