Skip to main content

David Viviers. Foto: kykNET

WEN ‘N BOEK!: Binnelanders se Dr. Liam spog met sy eerste roman

ELRI BOUCHER

In die week pronk die akteur David Viviers op die kassie in sy rol as Dr. Liam Vorster in die gewilde Afrikaanse sepie Binnelanders op DStv kanaal kykNET, maar vir nou hou hy eers sy lyf skrywer met sy eerste roman getiteld Mirage wat op Woensdag 1 Februarie die rakke tref.

“Nog voor ek sterre in my oë gehad het om ’n akteur te word het ek drome gehad om ’n boek te skryf,” vertel die 30 jarige akteur. “Ek onthou toe ek ’n kind was in George (sy tuisdorp), nog voor ek kon skryf het ek my ouma gevra om my stories neer te skryf terwyl ek dit met vele passie aan haar vertel het. En nou na 30 jaar wat ek aan díe storie geskif en skaaf het kan ek dit uiteindelik in my hande vas hou in boekvorm.”

Mirage is ’n Engelse roman wat gaan oor die storie van Michael Marais. “Hy is ’n student wat navorsing doen op ’n kosbare eeu oue tas wat in die droë, dorre Karoo opgegrawe is,” sê David. “Binne die tas word daar ’n dagboek gevind van Elizabeth Tenant. Die inhoud van die boek vind Michael fassinerend en soos hy dit verder bestudeer kom hy af op ’n skrywe wat gaan oor hom en sy ma! Dit prikkel hom en dan reis hy na die Karoo om nog leidrade te vind.”
Die boek het ’n magiese draaitjie wat daardeur loop maar volgens David is die kruks van die storie oor hoe om verlies te verwerk en te leer hoe om met pyn saam te leef.

Dit was nie maklik om die boek gepubliseer te kry nie. “Dit was ‘n lang proses,” sê David. “My mentor en skripsie adviseur van my dae toe ek my meesters in kreatiewe skryfwerk by UCT (die Universiteit van Kaapstad) voltooi het, Damon Galgut (ook ’n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer bekend vir sy romans The Quarry en The Promise) het my gehelp en Mirage se manuskrip aan sy uitgewers Penguin Random House gegee. Hulle het daarvan gehou, maar dit moes eers verskeie toetse slaag om te verseker dis verkoopbaar en toe kom die eindelose herskryf sessies en redigering. Op ’n stadium het ek gehoor dit sou verlede jaar bekendgestel word, maar die tyd is nou eers ryp, en ek kan nie wag vir die publiek om dit te lees nie.”

Wanneer David se neus nie in die draaiboek van Binnelanders is vir sy tonele op die sepie is nie, is dit in ’n boek. “Ek het verskeie gunsteling skrywer wie se boeke ek gereeld verslind soos Michael Cunningham bekend vir sy roman The Hours, en plaaslik geniet ek die boeke van oorle Olive Schreiner bekend vir haar boek The Story Of An African Farm.

Afrikaans rol gemaklik oor David se lippe wanneer hy in die skoene van Dr. Liam op TV staan, maar het jy geweet David se huistaal is Engels? “Ja, Afrikaans is nie my eerste taal nie,” sê hy. “Ek gesels en praat gemakliker in Engels, maar sedertdien ek by Binnelanders aangesluit het, het my Afrikaanse heelwat verbeter.”

David sê dit het hom aan die begin wel langer gevat om sy woorde vir ’n toneel te leer as sy mede Afrikaanssprekende kollegas. “Daar was tye wat ek ‘n week voor die opname van ’n toneel moes tyd maak om my woorde te studeer en te memoriseer, maar nou kan ek dit gemaklik ’n dag voor die tyd memoriseer en met gemak tydens ʼn toneel dit opvoer.” Omdat vele kykers David ken van Binnelanders is hy bevrees hulle gaan dink sy boek is in Afrikaans. “Ek besef ek praat die taal nou mooi,” sê David laggend. “Maar Mirage is in Engels.”

Tans in Binnelanders gaan Dr. Liam en sy verpleegster nooi Karen (Luandri Reynders) deur ’n moeilike tyd weens wedstrydknoeiery waarby Karen se neef, die krieketspeler Armand (Abel Knobel) betrokke is en haar ingesleep het. “Die storielyn gaan hulle verhouding onder geweldige druk sit,” verklap David.
En wat hou die res van die jaar in? “Nog tonne drama, daarvan kan kykers seker wees,” sê hy. “Liam se pa Dr. Dawid Opperman (vertolk deur die gesoute akteur Deon Lotz) en Liam se eksverloofde Dr. Nicolette Nortje (Kate Roothman) gaan ook weer hulle verskyning maak en hulle gaan probleme veroorsaak vir Liam waarvoor hy nie kans sien nie. . .”

Dit klink alles opwindend, maar vir nou gaan verlustig jou in David se boek, Mirage want daardie storie gaan jou nuuskierigheid prikkel en jou aandag verseker aangryp.

*Kompetisietyd: Jy kan een van twee gelukkige wenners wees wat ’n eksemplaar van Mirage kan wen! Kontak ons op Facebook Messenger en verskaf jou kontakbesonderhede en beantwoord die volgende vraag: Wat is die naam van David Viviers se hoofkarakter in sy roman. *Bepalings en voorwaardes geld.

Leave a Reply