Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die erns van oudpresident Jacob Zuma om onverpoos president Cyril Ramaphosa tot openbare verantwoording te roep, was duidelik toe die Zoeloe-veteraan vanogged opgeruimd by die Hooggeregshof in Johannesburg se middestad opgedaag het. Hy is die aanklaer in ‘n opsienbare en deurbraak-strafsaak met verreikende gevolge vir die land se politieke landskap te midde van toenemende onstuimigheid binne die regerende ANC party.

Zuma se regspan het die hof ingelig dat hulle gaan appelleer teen die volbankregters se toestaan van ‘n dringende interdik Maandag wat sy opvolger vrygeskeld het van verskyning vandag in die hof.

Dit volg nadat die drie regters Maandag in die eerste rondte van dié hofstryd tussen die twee landsleiers tydelik in die guns van Ramaphosa beslis het. Die Zuma-regspan het daarna aangedui dat die uitslag ’n “tydelike vertragingstaktiek” is, wat oudpres. Zuma gaan beveg.

Zuma is besig met ‘n reuse-terugvegaksie sodat Suid-Afrikaners vir die eerste keer die volle waarheid kan hoor oor wat regtig agter die skerms ontvou het tydens sy omstrede presidentskap toe Ramaphosa sy adjunk was. Dit behels geskiedkundige hofgedinge waarin Zuma verskeie private vervolgingsake aanhangig gemaak het. Sy private strafregtelike vervolging teen Ramaphosa is die eerste keer dat ‘n oudleier ‘n huidige een hof toe vat.

Dit sluit ook in sy aparte private vervolging teen die staatsaanklaer Billy Downer en Media24-joernalis Karyn Maughan. Daarin kla Zuma hulle daarvan aan dat hulle die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oortree het met die openbaarmaking van ’n vertroulike mediese verslag wat by die hof ingedien is tydens Zuma se vroeëre korrupsieverhoor. Dit was sonder die skriftelike toestemming van die NVG se nasionale direkteur. Dié saak word op 8 Februarie in die KZN-hooggeregshof in Pietermaritzburg voortgesit.

Zuma se privaatvervolging nou teen Ramaphosa spruit uit bg. deurdat hy beweer dat die president geen aksie geneem het teen Downer en Maughan nie. Ramaphosa betwis Zuma se bewering dat dié nolle prosequi-sertifikaat wat die NVG in die Downer/Maughan-vervolging uitgereik het, voldoende is om hom as aandadig hierin te vervolg.

In Maandag se beslissing het die hof bepaal dat Ramaphosa se aansoek wel dringend is en die tussentydse interdik om enige “verdere stappe” in die vervolging teen hom te voorkom, toegestaan. Ramaphosa se aansoek was tweeledig – om die hele proses nietig te verklaar en hangende van die uitspraak daaroor het hy versoek om nie vandag in die hof te verskyn nie.

Die drie regters het toe bevind dat Ramaphosa nie hoef te verskyn nie totdat die saak aangehoor is om te bepaal of Zuma se privaatvervolging teen hom wel geldig is, of nie. Voorts moet die regsverteenwoordigers van alle partye gesamentlik aanmeld by adjunkregter-president Roland Sutherland, wat Maandag uitspraak gegee het. Sutherland sal daartydens ‘n waarnemende regter aanwys wat die saak verder gaan hanteer en bestuur.

Adv. Dali Mpofu het vanoggend namens Zuma regter Mohamed Ismail ingelig dat die betrokke regspanne Maandag se beslissing verskillend interpreteer en nie kon koördineer soos Sutherland versoek het nie. En dat hy teen die uitspraak van die toestaan van die interdik gaan appelleer.

Die hof het die strafsaak vir die privaatvervolging teen Rampahosa tot 26 Mei uitgestel om kans te gee dat sy aansoek op hersiening eers op 17 en 18 Mei aangehoor kan word. Die hof sal dan oor die geldigheid van die hele proses beslis, wat weer sal bepaal of die saak op 26 Mei voortgaan.

Leave a Reply