Al hoe meer Suid-Afrikaanse sportliefhebbers begin belangstel in MMA – die soort gemengde gevegskuns waar twee vegters in ‘n hok toegemaak word en die wit waks uit mekaar uit wetter.
Die groot rede vir die nuutgevonde belangstelling, is die sukses wat die Pretorianer Drickus du Plessis in die UFC – die grootste MMA-gevegskunspromosie in die wêreld – behaal.
Drickus is ‘n toonbeeld van fiksheid en heilsaamheid en hy is welsprekend en intelligent as daar onderhoude met hom gevoer word. Daar is geen twyfel dat hy ‘n uitstekende ambassadeur vir Suid-Afrika en Afrikaanssprekendes is nie.
Hy is egter ‘n vars briesie in hierdie gewelddadige sportsoort, met stringe vegters wat vir skandale sorg wat die UFC se beeldpoetsers hoofbrekens gee.
Hier is ‘n dosyn van die grootste skandale waarby UFC-vegters oor die jare betrokke was:
- Die voormalige UFC-ster Phil Baroni staar ‘n vonnis van 30 – 50 jaar in ‘n Mexikaanse tronk in die gesig. Hy word aangekla van die moord op sy vriendin.
- Die voormalige UFC-weltergewig War Machine (gebore Jonathan Paul Koppenhaver) dien lewenslange tronkstraf uit nadat hy sy eks, die porno-aktrise Christine Mackinday, in 2014 verkrag en haar sowel as haar kêrel aangerand het. Hy sal 72 jaar oud wees wanneer hy in 2053 vir parool in aanmerking kom.
- Die oud-middelgewig Lightning Lee Murray word in ‘n tronk in Morokko aangehou. Hy was die baasbrein agter die gewapende Securitas-depotroof in Kent, Engeland, waar meer as £53 miljoen se banknote wat aan die Bank of England behoort, gesteel is. Dit was die grootste kontantroof in die wêreld tydens vredestyd. Na ‘n mislukte poging om uit die tronk te ontsnap en ‘n mislukte appèl, is sy tronkstraf op 30 November 2010 tot 25 jaar verleng.
- Die UFC-baas Dana White is oujaarsaand op kamera betrap waar hy sy vrou, Anne, geklap het. Anne, ‘n bokser, het eerste geklap. Albei het glo ‘n paar drankies agter die blad gehad.
- Jon Jones, die voormalige UFC ligswaargewigkampioen wat in Maart vir die swaargewigtitel veg, se loopbaan is deurspek van omstredenheid. Hy is al skuldig bevind aan dronkbestuur, hy het weggehardloop van ‘n tref-en-trapongeluk waarin ‘n swanger vrou beseer is, die nalatige gebruik van ‘n vuurwapen, dat hy sy meisie aangerand het en dat hy hope kere positief getoets is vir opkikkers.
- Die voormalige swaargewigkampioen Cain Velasquez is verlede jaar in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n man in sy motor agternagesit en op hom geskiet het.
- Die gewilde tweegewig-kampioen Conor McGregor is skuldig bevind aan die aanranding op ‘n bejaarde man in ‘n kroeg en is aangekla van die verkragting van ‘n vrou in Dublin.
- Jorge Masvidal pleit onskuldig in ‘n voortslepende aanrandingsaak. Hy en van sy makkers het na bewering vir Colby Covington buite ‘n restaurant voorgelê en aangerand. Kort tevore het Covington hom in ‘n geveg oortuigend geklop.
- Jason “Mayhem” Miller is minstens vyftien keer in hegtenis geneem vir onder meer vandalisme, dronkbestuur, verset teen arrestasie, beweerde aanranding van polisiebeamptes, oortredings van beskermingsbevele, misdadige gesinsgeweld teen sy meisie, aanranding op sy suster, poging tot ernstige diefstal en betreding. Die polisie het hom ook een keer naak in ‘n kerk in Suid-Kalifornië gevind.
- Charles Crazy Horse Bennett het al meer as twintig keer met die gereg gebots, onder meer vir dwelms, gesinsgeweld en aanranding.
- Die MMA-pionier Joe Son dien lewenslange tronkstraf uit vir gewelddadige seksmisdade. Hy word ook daarvan verdink dat hy sy selmaat vermoor het.
- Die voormalige title-aanspraakmaker Hermes Franca is drie en ‘n half jaar tjoekie toe gestuur vir die seksuele aanranding van ‘n minderjarige BJJ-student.