Skip to main content

Korrespondent

Die langafstandpassasiersdiens, Intercape, het gesê sover hul kennis strek is sekere maatreëls om busse te beveilig teen gewapende aanvalle reeds in werking gestel deur wetstoepassers in die Oos-Kaap.

Dít kom nadat die busdiens ’n aansoek tot appèl deur die Minister van Transport, Fikile Mbalula, in die hoofgeregshof in Makhanda (Grahamstad) afgeweer het.

Na Dinsdag se onsuksesvolle aansoek deur Mbalula om te appelleer teen ’n hofbeslissing verlede jaar Oktober, waarvolgens sy departement gelas is om ’n aksieplan van wet en orde teen taxibase in te stel, het Intercape weereens sterk te velde getrek teen die minister.

Intercape se hoof uitvoerende bestuurder, Johann Ferreira, het onder meer gesê dat Mbalula bloed op sy hande het.

Intercape het egter ook die uitspraak verwelkom, en geen tyd gemors om aan te kondig dat sekere bestemmings op hulle roetes van die Wes- na die Oos-Kaap heringestel gaan word nie.

Passasiers wat reis na Cofimvaba, Butterworth, Engcobo, Tshomo en Idutywa sal voortaan weer die geleentheid gegun word om dié bestemmings deur Intercape te bereik sonder om noodwendig vir hul lewens te vrees.

Tot onlangs toe was dié bestemmings uitgesluit vanweë gewapende aanvalle deur Oos-Kaapse taxibase wat winsgewende langafstandroetes vir hul eie gewin probeer manipuleer.

Intercape is sover kennis strek die enigste busdiens wat nie onder die bloedige intimidasie van die geweldenaars geswig het nie, en het tot onlangs toe nog ’n diens verskaf wat die genoemde bestemmings met die Kaapse Metropool verbind.

Desember se skietvoorval buite een van Intercape se depots in die Moederstad, waartydens ’n bestuurder ernstig gewond is, het die busdiens egter genoop om vir eers weg te skram van enige verdere lewensverlies.

Die besluit is veral geneem in die lig van verlede April se skietvoorval, ook buite Intercape se Kaapstad-depot, waartydens een van die maatskappy se bestuurders noodlottig gewond is.

Die 35-jarige Bangikhaya Machana het enkele dae nadat sy sitplekgordel hom verhoed het om vinnig genoeg van ’n koeëlreën te onstnap, aan sy wonde beswyk.

Drie ander bestuurders en ’n passasier is ook gewond in die sporadiese aanvalle teen langafstandbusdienste.

As gevolg van die geweld het sekere busmaatskappye langafstandroetes sedertdien opgeskort.

Intercape het verlede Oktober egter geseëvier in ’n hofbeslissing waarin Regter John Smith bevind het dat die staat se wetstoepassers ’n verantwoordelikheid het om busse, hul werksnemers en passasiers te beskerm.

Die MEC vir Transport in die Oos-Kaapse Wetgewer, Xolile Nqatha, het amper ’n maand later gestand gedoen aan die hof se vereiste vir ’n aksieplan teen die taxibase en verskeie maatreëls aangekondig.

Mbalula het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en gesê die die Departement van Transport wil eers die hof se bevindinge in oënskou neem.

Selfs na Desember se skietvoorval waarin nog ’n bestuurder van Intercape sy lewe verloor het, het Mbalula enkele dae later voort gegaan met sy appèl teen Regter Smith se bevindinge.

Ferreira het sy spyt uitgespreek dat hul pleidooie op dowe ore geval het, en dat dit nodig was om Mbalula en Nqatha hof toe te sleep om hul werk te doen.

Tot Dinsdag se hofuitspraak is 137 sake van gewapende aanvalle by die Suid-Afrikaanse polisiediens aangemeld, maar slegs een arrestasie is uitgevoer.

Die verdagte is sedertdien op borgtog vrygelaat omdat die polisie nie genoegsame bewyse het om ondersoek in te stel nie.

Nqatha het ná die uitspraak vroeër die week ’n ernstige waarskuwing aan taxibase gerig.

Hy’t gesê oortreders wat deur padversperrings en geweldadige intimidasie met busse inmeng, sal die volle mag van wetsowerhede in die gesig staar.

Leave a Reply