Kobie Cilliers
Die president van die UFC het uiteindelik sy stilswye verbreek oor die voorval waar hy en sy vrou mekaar deur die gesig geklap het, die SA20 lok krieketliefhebbers in hulle hordes terug na Suid-Afrikaanse stadions, en tennis se eerste Grand Slam-toernooi van die jaar is op ons.
MMA
Dana White, president van die Ultimate Fighting Championship (UFC)-gemengde gevegkunsreeks, het verlede week vir die eerste keer in die openbaar gepraat nadat hy sy vrou op Oujaarsaand deur die gesig geklap het.
Die 53-jarige Amerikaanse sakeman en sy vrou, Anne, is al vir 26 jaar getroud. Die egpaar het op die vooraand van die Nuwejaar in ’n nagklub stry gekry terwyl hulle in Cabo San Lucas, Mexiko, op vakansie was.
Die voorval is op kamera vasgevang en aan die media gelek. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe White iets vir Anne sê terwyl sy haar gesig vashou en sy dan reageer deur hom te klap. Hy klap haar terug deur die gesig voordat die egpaar deur vriende van mekaar weggetrek word.
White het Woensdag in die aanloop tot die afgelope naweek se UFC Fight Night 217 op ’n mediakonferensie verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar, maar op omstrede wyse laat blyk dat hy nie amptelik vir die hoëprofiel-voorval gestraf sal word nie.
“Ek het geen verskonings daarvoor (die voorval) nie,” het White op Woensdag se mediakonferensie gesê.
“Dit is iets waarmee ek die res van my lewe sal moet saamleef.
“Ek het geen verskonings daarvoor nie en mense moet nie vir my daaroor in die bres tree nie, maak nie saak wat nie. Al die kritiek wat ek hierdie week ontvang het, is 100% geregverdig.”
White het toe bygevoeg hy sal nie deur die UFC gedissiplineer word nie.
“Wat sou my straf dan wees? Vertel jy vir my. Ek neem 30 dae verlof? Hoe maak dit my seer?
“As ek nie hier is nie, is dit die maatskappy wat seerkry, dit is my werknemers en die vegters wat seerkry, dit maak my nie seer nie.
“Hierdie is my straf: Ek sal vir hoe lank ek ook al nog leef met hierdie etiket moet rondloop. My ander straf is dat ek seker is baie mense – hetsy die media, vegters, vriende, kenisse – wat my voorheen respekteer het, dalk voortaan nie meer vir my respek sal hê nie.
“Daar is baie dinge wat ek vir die res van lewe sal moet hanteer wat ‘n swaarder straf is, as byvoorbeeld ek wat vir 30 of 60 dae afwesig bly.”
Anne White het kort ná die voorval in ‘n verklaring gesê dat haar man se optrede “strydig met sy aard is”.
“Niks soos hierdie het al ooit tevore gebeur nie”, het sy gesê.
“Ons het albei ongelukkig op Oujaarsaand te veel gedrink en sake het wat albei partye betref, handuit geruk. Ons het die voorval as ‘n gesin bespreek en albei vir mekaar om verskoning gevra.”
Daar is op Saterdagaand se byeenkoms in die UFC se Apex-venue in Las Vegas nie ‘n woord oor die voorval tussen die Whites gerep nie.
* In die hoofgeveg het Sean Strickland die beseerde Kelvin Gastelum vervang om teen Nassourdine Imavov te staan te kom.
Strickland het met sy verskyning slegs die tweede UFC-vegter in die geskiedenis geword om aan twee agtereenvolgende hoofgevegte deel te neem. Hy het sy kragmeting teen Jared Cannonier in die laaste Fight Night van 2022 in Desember verloor, maar was die afgelope naweek teen Imavov aan die wenkant.
TENNIS
Welkom terug in Australië, Novak Djokovic.
Die wenner van ‘n ongeëwenaarde tien Australiese Ope-titels verskyn vanjaar weer in die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar nadat hy verlede jaar uit Australië geskop is.
Die Serwiese tennisster kon nie in 2022 sy titel op Melbourne Park verdedig nie nadat hy op dramatiese wyse uit die land gedeporteer is omdat hy nie ingeënt was (en steeds nie is nie) teen Covid-19 nie.
Djokovic, wat sedert sy terugkeer na Australië stadig maar seker weer in die harte van die Aussies begin kruip het (die meerderheid was verlede jaar woedend vir hom omdat hy spesiale behandeling wou kry terwyl streng Covid-19-inperkings op die plaaslike publiek afgedwing is) het ’n uitstekende rekord in Melbourne.
Djokovic, die vierde gekeurde, het sedert 2007 ‘n noemenswaardige 82 van sy 88 enkelspel-wedstryde in die Australiese Ope gewen.
Rafael Nadal, die rekordhouer met 22 major-titels en Djokovic se grootste teenstander, was vanjaar tot dusver benede peil en sy buikspier-besering lyk of dit nou en dan sy afslaanwerk belemmer.
Maar as die Spaanse tennisheld deur ‘n uitdagende pad vol taai kragmetings in die eerste week kan vorder, is hy dalk weer die man wat geklop sal moet word in die eindstryd.
KRIEKET
Krieket Suid-Afrika (KSA) se groot hoop om ‘n broodnodige geldelike inspuiting, die SA20-kitskrieketreeks, lyk soos ‘n wenner. Selfs die omstrede beheerliggaam se grootste kritici kan nie (tot dusver) die glans-reeks as ‘n mislukking afksryf nie.
Inteendeel: Wanneer laas het ons volgepakte krieketstadions in Suid-Afrika gesien?
Vir krieket-mense (en heel waarskynlik vir sport-aanhangers oor die algemeen) sal dit verblydend wees om stadions so propvol ondersteuners te sien.
Ons plaaslike spelers is ook uiters opgewonde oor die vol stadions, iets wat ’n mens glad nie meer sien in KSA se plaaslike krieketkompetisies nie. Daar is uiteraard ook die geelwortel vir toeskouers wat hul deel van ’n miljoen rand kan wen deur ’n ses met een hand in die paviljoene te vang. Dié pogings van ondersteuners, soms met met ietsie koud in die ander hand, verskaf groot genot langs die veld.
Die gehalte van die krieket is ook uitstaande.
MOTORSPORT
Die Suid-Afrikaanse geboude Toyota Gazoo Racing Hilux van Nasser Al-Attiyah van Katar en sy Franse navigator, Mathieu Baumel, het Sondag die afdeling vir motors in die Dakar-veldtydren gewen.
Hul wenmarge van een uur 18 minute en 49 sekondes is een van die grootste in die afdeling vir motors in die geskiedenis van die moordende motorsport-byeenkoms.
Die motorfietsjaer Kevin Benavides van Argentinië het dié afdeling op sy KTM gewen nadat hy die vorige dag se voorloper, die mede-KTM-jaer Toby Price van Australië, in die doodsnikke van die ren verbygesteek het. Hy was 55 sekondes voor Price by die eindpunt, maar op die algehele ranglys was sy voorsprong net 43 sekondes.
Dit is een van die kleinste wenmarges in die afdeling vir motorfietse in die Dakar-ren tot nog toe.
RUGBY
* Die Cheetahs se aanslag op glorie in Europa hang aan ‘n dun draadjie nadat hulle Vrydagaand in die European Professional Club Rugby (EPCR) se Uitdaag-beker in ‘n taai wedstryd teen Scarlets van Wallis met 20-17 geklop is.
Die Vrystaters sal hulself wil skop nadat hulle talle foute in die gietende reën in Llanelli gemaak het en gesukkel het om die Scarlets se verdediging deur te dring: Hulle het die bal op vyf geleenthede op hul teenstanders se doellyn verloor net toe dit die meeste saak gemaak het.
Die besoekers het nietemin ‘n begeesterde vertoning gelewer nadat hulle albei hul talismanne, Ruan Pienaar and Frans Steyn, vroeër in die week aan beserings afgestaan het.
Die Cheetahs sal nou noodgedwonge hulle laaste groepwedstryd eerskomende naweek teen Section Paloise moet wen om vir die uitkloprondtes te kwalifiseer. Daardie kragmeting word minstens op ‘n neutral veld in Parma, Italië beslis en die Cheetahs sal hoop dat “tuisveldvoordeel” hulle sal baat.
* Swak dissipline het die Lions Saterdagmiddag teen Stade France in Parys gekos.
Die Johannesburgers het hul kragmeting in die Uitdaag-beker op ‘n nat en winderige dag in die Franse hoofstad met 17-7 verloor.
Drie geel kaarte in die tweede helfte het die Lions, wat met rustyd met 7-0 voor was, duur te staan gekom.
Dinge was goed op dreef in die eerste helfte en die besoekers het verskeie kanse geskep om die hoop te laat opvlam vir ‘n wegoorwinning, maar die wiele het in die tweede helfte afgekom toe Gianni Lombard (losskakel), JP Smith (loskopstut) en Henco van Wyk (senter) met geel kaarte gestraf is.
Dit was die Lions se eerste nederlaag in die reeks nadat hulle het vroeër met 31-31 teen die Dragons gelykop gespeel en met 30-12 teen die einste Stade Français geseëvier het. Beide dié wedstryde is op Ellispark in Johannesburg gespeel.
Sake gaan waarskynlik nou ’n nog moeiliker vir die Lions word met ‘n kragmeting volgende naweek teen die Dragons in Newport, Wallis.
* Die Sharks het Saterdagaand op Kings Park in Durban ‘n oortuigende oorwinning met 32-3 teen die Union Bordeaux Bègles behaal om hul onoorwonne rekord in die EPCR se Kampioene-beker te bou.
Neil Powell se span het met die sege boonop die uitspeelrondtes gehaal met nog ‘n wedstryd om te gaan.
Die Sharks het vyf drieë vir ‘n bonuspunt gedruk en ná 40 minute se speeltyd was die telling reeds 22-0 in die tuisspan se guns.
Dit was ‘n baie warm dag in Durban en sake het ook op die veld warm geraak weens ’n paar onderonsies tussen sommige spelers deur die loop van die kragmeting. Een van die voorvalle was nadat die slot Gerbrandt Grobler gedruk en hy en Madosh Tambwe, vleuel van die Franse span, in ’n bekgeveg betrokke geraak het. Tambwe het voorheen vir die einste Sharks gespeel.
Die Sharks vertrek Dinsdag na Londen en kom Saterdag teen die Engelse klubspan Harlequins in hul laaste groepwedstryd van die reeks te staan.
* Die Bulls se Wandisile Simelane het Saterdagaand twee van sy span se ses drieë gedruk om wraak te neem op die Exeter Chiefs van Engeland en ‘n oorwinning met 39-26 op Loftus Versfeld te behaal.
Die Pretorianers het in ‘n Kampioene-beker-wedstryd met verskeie hoogte- en laagtepunte – onder meer ‘n rooi kaart vir die Engelse toets-senter Henry Slade in die 54ste minuut en ‘n plaasvervanger vir die skeidsregter nadat Mathieu Raynal sy dyspier in die 50ste minuut getrek het – vergoed vir hul “naasbestes” se nederlaag op Sandy Park verlede maand.
Die Bulls se agterlyn was uiteindelik weer goed op dreef en die senter Simelane het sy aanspraak op die nr. 13-trui ’n goeie hupstoot gegee.
Die span, steeds sonder sy afrigter, Jake White, wat op 8 Januarie ‘n noodoperasie op sy buik ondergaan het, is met Saterdag se oorwinning stewig terug in die wedloop om ‘n plek in die uitspeelrondtes en moet nou Frankryk toe reis vir ’n ontmoeting met Lyon, wat hulle lot in die kompetisie sal bepaal.
* Die Stormers is op die drumpel om vir die laaste 16 van die Kampioene-beker te kwalifiseer nadat hulle Sondag in Brentford met 28-14 met London Irish afgereken het.
Die Kapenaars het vier drieë gedruk vir ‘n bonuspunt in ‘n kragmeting waarin twee van hul teenstanders met rooi kaarte van die veld af gestuur is.
Maar hoewel die Stormers vir die meeste van die tweede helfte teen slegs 13 spelers meegeding het, wou dit voorkom of hulle met hul taktiek sukkel. Hulle kon slegs een drie druk terwyl London Irish twee vyfpunters behaal het.
Dit is ‘n kenmerk van die Stormers hierdie seisoen om te gaan slaap nadat hulle groot voorspronge opgebou het en iets wat eenvoudig nie wil wyk nie.
Ongeag hul swak tweede helfte sal die Stormers tevrede wees. London Irish se spelpeil in die aanloop tot die wedstryd was goed en dit was moeilik om vooraf die wenner te voorspel.
Die Stomers speel volgende naweek teen die Franse klub Clermont in Kaapstad.