Skip to main content

Sonnette Lombaard en Dirk Lotriet

Foto’s: Dawid Roux

Suid-Afrikaners moet wag tot Maandag om te weet wie die eerste rondte van die politieke stiergeveg in die hof tussen president Cyril Ramaphosa en sy voorganger oudpres. Jacob Zuma gewen het.

Adjunkregter-president Roland Sutherland het gistermiddag die Hooggeregshof in Johannesburg verdaag en uitspraak in die saak in die private strafregtelike vervolging deur oudpres. Jacob Zuma teen Ramaphosa tot Maandag voorbehou. Beide partye se regspanne het sedert vroegoggend in dié kernsaak betoog. Sutherland moet saam met die twee ander regters Edwin Molahlehi en Marcus Senyatsi Maandagoggend om 09:30 uitspraak hierin gee.

Diė uitspraak deur die volbank van drie regters in die saak van die twee groot olifante van die Suid-Afrikaanse politiek kan verreikende gevolge vir die land se politieke landskap inhou. Dit is die eerste rondte in oudpres. Zuma se terugvegaksie om sy naam in ere te herstel nadat hy langer as twee dekades in hofsake betrokke is.

Ramaphosa het die dringende interdik teen Zuma gebring in ‘n poging om Zuma te stuit in sy private vervolging van hom. Hy vra dringend vir ‘n tussentydse interdik om enige “verdere stappe” in die vervolging te voorkom en om sy verskyning in die hof op 19 Januarie om die saak aan te hoor, te verskoon.

Ramaphosa se regspan het aangevoer Zuma wil sy herverkiesing as ANC-president in Desember stuit deur die ANC se opsystaan-regulasie af te dwing. Die party se regulasies verbied ‘n lid om as party-ampsdraer te dien as daar strafregtelike sake teen hom of haar hangende is.

Volgens Ramaphosa se regsverteenworodiger, adv. Ngwako Maenetje SC, sal die president se grondwetlike regte aangetas word in ‘n persoonlike én publieke hoedanigheid indien hy op 19 Januarie in die hof moet verskyn.

Adv. Dali Mpofu, oudpres. Zuma se regsverteenwoordiger, het dit egter aan die hof gestel dat pres. Ramaphosa in sy private hoedanigheid vervolg word en nie as landsleier nie. Betoog van die president se regspan dat so saak sy regering van die land sal onderbreek, hou dus nie water nie.

“Party lande in die wêreld laat nie toe dat ‘n heersende president vervolg word nie. Genadiglik is ons nie een van daardie lande nie, want ons het ‘n grondwet wat verseker dat almal gelyk voor die hof is,” het Mpofu gesê. Voorts tref die regstelsel nie onderskeid tussen ryk bevoorregtes burgers in ons gemeenskap en die gewone stand nie. Die aansoek is dus onregmatig.

Volgens hom soek Ramaphosa bloot spesiale behandeling van die howe omdat hy die landspresident is. “Hierdie dringende aansoek is ‘n misbruik van ons regstelsel – die enigste rede waarom ons vandag hier is, is pres. Ramaphosa se poging om te keer dat hy aanstaande week in die hof moet veskyn.”

Mpofu het die hof gevra om Ramaphosa se aansoek met koste van die hand te wys.

Daar is ook aangevoer ‘n siviele hof het nie jurisdiksie om ‘n kriminele klag te stuit voordat ‘n beskuldigde gepleit het nie.

Zuma se kriminele aanklag teen Ramaphosa is dat die president by versuim betrokke is by die private vervolging wat hy teen die staatsaanklaer Billy Downer en Media24-joernalis Karyn Maughan voer. Dié private vervolgingsaak en dit wat daaruit spruit is ‘n deurbraak in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis deurdat dit onder meer daartoe gelei het dat dat ‘n voormalige president ‘n huidige landsleier vir die eerste keer privaat vervolg.

Dit speel af teen die groter politieke omgewing waarin intense woelinge binne die twee leiers se regerende party die ANC veral in die laaste paar jaar vererger het. Dit sluit in die etnisiteit-kwessie van die magsbalans tussen die twee hoofgroeperinge in die ANC – die Xhosas en Zoeloes.

In sy aparte private vervolging kla Zuma vir Downer en Maughan daarvan aan dat hulle die NVG-wet oortree het oor die openbaarmaking van ’n vertroulike mediese verslag wat later by die hof ingedien is tydens Zuma se vroeëre korrupsieverhoor. Dit was sonder die skriftelike toestemming van die NVG se nasionale direkteur.

Ramaphosa betwis Zuma se bewering dat die nolle prosequi-sertifikaat wat in die Downer/Maughan-vervolging uitgereik is, voldoende was om Ramaphosa as aandadig te vervolg.

Verskeie Zuma-ondersteuners was vandag in die hof, insluitende die sakeman Louis Liebenberg, Zuma se dogter, Dudu, Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob Zuma stigting, Nkosentsha Shezi, nasionale voorsitter van die RET faksie, en sy jarelange kameraad, Carl Niehaus.

Daar het weinig gekom van die verwagte woelinge buite die hof. Ondanks ‘n groot polisie- en metropolisieteenwoordigheid en die teenwoordigheid van verskeie pantservoertuie, was daar net ‘n enkele plakkaatswaaiende Zuma-ondersteuner.

Nie een van die presidente was by die hof teenwoordig nie.

Manyi het na die verdaging aan Die Waarheid gesê dat hulle vol moed is na die dag se verrigtinge en dat hulle optimisties is dat die uitspraak Maandag gunstig vir die Zuma-kamp sal wees.

One Comment

Leave a Reply