Skip to main content

George April

Drie mans het Maandag in die Vredenburg hof verskyn, nadat ‘n 18-jarige jongman Vrydag na bewering wreed aangerand was in ‘n beweerde rassevoorval.

Wafeeg Matheyse het nadat die skool gesluit het besluit om ‘n vakansiewerk te gaan soek. Tot sy spyt het hy sy swaarverdiende inkomste Vrydag in die aanval verloor.

Ida Julies het ‘n hartverskeurende skrywe op Facebook geplaas oor die hel waardeur die seun moes gaan.

Wafeeq het blykbaar by die werkplek in ‘n onderonsie met die voorman betrokke geraak. Toe dinge te erg raak, het die jongman besluit om liewer huis toe te loop.  Sy werkgewer, ‘n vrou, het egter agterna gery en aangebied om hom huis toe te neem. Blykbaar het hy teen sy sin ingeklim, omdat hy gevoel het iets is nie pluis nie.

“En sy voorgevoel was toe reg, want sy werkgewer ry toe met hom in die teenoorgestelde rigting.  Wafeeq het egter by ‘n stopstraat uitgespring, en begin hardloop. Na bewering het die vrou skielik geskree: “Help!”

‘n Groep van tot sewe mans wat daar naby gewerk het, het gereageer op die vrou se hulpkrete, en het die seun agterna gesit.

Wat enige 18-jarige sou doen, was hardloop vir sy lewe, al het hy niks verkeerd gedoen nie.  Een van die mans wat hom gejaag het,  kon dit blykbaar regkry om Wafeeg met ‘n baksteen teen sy rug te gooi.  Toe hy val, was hulle op hom…

Twee van hulle het om die beurt op hom gaan sit en hom gewurg.  Terwyl Wafeeg vir sy lewe gepleit het, het sy foon blykbaar gelui.  Hy kon die foon antwoord en sy ma het hom hoor skree, het Ina in haar Facebook-inskrywing vertel.

Wafeeg se ma kon ook glo hoor hoe haar seun aangerand word en benoud skree:  “Wat het ek gemaak? Ek het niks gesteel of gemaak nie!”  Sy werkgewer het blykbaar vir die mans geskree dat die jongman van haar gesteel het.

“Een het hom met ‘n ysterpaaltjie geslaan, maar die seerste … Wafeeg het sy “hardverdiende”vakansie geldjies in die proses verloor,” lui die Facebook inskrywing.

Nadat die aanranders hom ‘genoeg’ geslaan het, het hulle hom gelos. Hy het agterna agtergekom dat sy vakansiegeld weg is.

Volgens Thyron Williams, ‘n PR raadslid in St Helenabaai soek die gemeenskap geregtigheid vir die seun. “Die vroumens kon die seun se dood veroorsaak het met haar leuens,” het Williams bygevoeg. “Niemand weet wat nou gaan gebeur nie, maar sulke voorvalle is onaanvaarbaar. Die mans moes in die eerste plek ook nooit die seun aangerand het nie,” het die raadslid bygevoeg.

Die Waarheid het gister vir Sanell, die vrou wat al die ongelukkigheid veroorsaak het, geskakel. Sy het net kortaf gereageer met “geen kommentaar”.

Wafeeg het in ‘n WhatsApp-boodskap aan die media bevestig dat hy nou tuis aansterk nadat hy so wreed aangerand was.

Die mans wat Maandag in die hof verskyn het, was dadelik vrygelaat na hul hofverskyning.  Een man is die vorige dag in hegtenis geneem, en twee die oggend voor hul hofverskyning.

Mense gaan steeds gal af op sosiale media omdat hulle geregtigheid verlang vir die onreg wat die tiener aangedoen was.

Leave a Reply

error: Content is protected !!