Skip to main content

Vier mans is in hegtenis geneem nadat hulle Sondagaand ’n Kaapse pelsrob by Monwabisi-strand in Kaapstad met klippe bestook het.

Die dier moes ná die aanval van kant gemaak word.

’n Anonieme bron het die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) om 18:00 gekontak en in kennis gestel van die rob wat met klippe gegooi is.

“Plaaslike owerhede was vinnig op die toneel en kon die verdagtes aankeer tot die DBV se inspekteurs op die toneel opgedaag het,” lui ’n verklaring deur die DBV.

Die rob is na ’n private veearts geneem waar dit weens sy erge besering van kant gemaak moes word.

Volgens die veearts se verslag het die dier verskeie frakture aan sy gesig en skedel opgedoen, een van sy oë was weg en meeste van sy tande in sy mond het afgebreek.

“Ek was woedend toe ek die toestand van die dier sien toe hy van die strand afgedra is. In my 37 jaar waar ek met die welsyn van diere werk het ek nog nooit so ’n barbaarse daad op ’n hulpelose dier aanskou nie,” sê Jon Friedman, ’n beampte van die DBV.

Die verdagtes is glo deur ’n toordokter genader en R3000 aangebied om die pelsrob dood te maak.

Eddie Andrews, onderburgermeester van die stad Kaapstad, het die daad ten sterkste veroordeel.

“Mens kan nie dink deur watter pyn en lyding die dier moes gegaan het nie. Ek is geskok deur wat gebeur het en wil die publiek aanraai om nog dade te rapporteer waar diere in gevaar is of mishandel word,” sê hy.

Intussen het die vier verdagtes Maandag in die landdroshof in Khayelitsha op aanklagte van dieremishandeling en die jag van ’n beskermde spesie sonder ’n permit verskyn.

“Ons sal seker maak dat die gereg vir hierdie rob seëvier. Om enige dier te martel is onaanvaarbaar en die verdagtes moet die volle mag van die reg ervaar,” sê Jaco Pieterse, hoofinspekteur by die DBV.

Leave a Reply