Apiesrivier 1970’s
‘Mak’ mense meng in natuur in, wyl diere spasie soek …
Dis nie net natuurrampe wat met reëlmaat oral op die Aarde verwoesting saai nie, die diereryk is teen die 21ste eeu oënskynlik ewe gatvol en veglustig. Pas het ‘n aggressiewe seerob amok op ‘n gewilde Kaapse strand gemaak en berigte oor wilde diere soos seekoeie en kameelperde wat mense op land aanval en/of dood verskyn al meer. Normale gedrag? Of eerder die duur prys van snel vooruitgang en vernielsug van ‘n verwaande millenniummens, fluks onderweg na Mars, wonder Sonnette Lombaard.
Soms beland meer as een toevalligheid, of nie, saam in jou omtes wat jou opnuut laat besin oor die menswees se stand in die moderne millennium. Want die eietydse pas is meedoënloos snel en voorwaartsgerig. Binne ‘n gevorderde samelewing wat op gerief fikseer, is ons gerat om nuwe grense in die buitenste ruim te gaan karteer. Heel tydig, want teen 2023 versmoor en verstik Moeder Aarde iets allerverskriklik.
So lees ek skaars die berig oor die astrante seerob wat vandeesweek ‘n kind en vrou op Clifton-strand uit die see verwilder het, of ‘n pragfoto van ‘n nadere natuurparadys beland op my selfoon. Van ‘n skoon stadsrivier wat eens beeldskoon deur Pretoria se bekende Moot-gebied kronkel, met talle kinders wat daarin baljaar. In die 1970s gekiek, was die Apiesrivier toe nog pure paradys. Helder water wat skitterend vloei. ‘n Halfeeu later is dié einste beroemde rivier net trae stroompies deur die stad, bestrooi met rommel, nooit nié bruinvuil gekleur nie. Lank nie meer die droom-speelplek waar jy destyds vanuit die lowerbome op die oewer in blink water kon spring nie!
‘n Moot-boorling, Elmarie Swanepoel (63), het daar naby in Flowerstraat grootgeword en bevestig die Apiesrivier was ‘n stadskind se voorkeur-speelgebied.
“My broer Piet van der Merwe was drie jaar ouer as ek, en hy en sy pelle het as tieners gereeld daar geswem.” En ja, die water was so skoon dat jy tot onder op die bodem kon sien. Volgens haar is dit jammer dat die rivier, ‘n landmerk in Pretoria, nie beter opgepas is nie.”Selfs die welige bome is weg – dit het weens erosie in die slag gebly of sluipslapers kap dit vir vuurmaakhout af.”
Dat die mens sedert die draai van die eeu die eens boekgebonde wetenskapfiksie-voorspellings bewaarheid, is gewis. Vooruitgang op bykans alle gebiede geskied teen ‘n ongekende spoed. Ongelukkig gedy selfbelang en gemaksug, vraatsugtigheid en swak bestuur daarmee saam. Boonop snak die oorlopensvol blou planeet na asem: bykans 8 miljard mense tou tans vir ‘n oorlewingsgaatjie. Infrakstrukture sukkel om by te hou en gee mee. Die duur prys daarvan op veral ons omgewing is ooglopend fel, want die oorbevolkte landmassas én oseane verstik in besoedeling van rommel tot geraas, tesame met vernielsug, uitgelewer aan al wat mensvergryp is. Hoewel aksies oraloor betyds probeer red, is die skade in ons millennium-landskap weens die sneltempo van oorbevolking en moderne omdolwing en vermorsing deurlopend ingrypend.
Genoeg wetenskaplikes en toekomskundiges meen dis naby omdraai verby en dat die natuurrampe en ongewone weerverskynsels wat ons teister, as ‘t ware ‘n nood wekroep is om die mensdom in sy snelspore te stuit. Net onlangs was Suid-Afrikaners geskok oor video’s wat die ineenstorting van basiese dienste in die Duban-metropool wys. Eens ‘n gewilde uitspanmekka, is dié kusstad se rioolstelsel aan’t ingee en riool in die water en see laat al meer vakansiegangers verby hou.
In KwaZulu-Natal het een mens laas jaar beswyk nadat reuse-seekoeie besoekers en inwoners op verskeie plekke aangeval het. Aan die Kaapse kus flits dieselfde rooi ligte. In 2021 het ‘n seerob drie vissermanne in Valsbaai geteister en vandeesweek het ‘n ewe veglustige seerob blitsig vrees by ‘n volgepakte strand op Clifton ingeboesem. Die rob het eers ‘n kind in die vlak waters aangeval en wyl omstanders histeries gegil het, daarna ‘n vrou dieper in geteiken en beetgekry.
Ná die aanval het kenners bespiegel dat die robbe gifstowwe kon inkry wat ná ‘n natuurramp in die see beland het, wat hulle glo aggressiewer kan maak. Robbe en seeleeus, wat beide lomp lyk maar inderwaarheid ratser en meer soepel as dolfyne is, is gevaarlike seediere wat woes kan byt.
Inderdaad so, bevestig duiker Petro Vorster wat haar mediahuis vanuit Tugela Mouth aan die KZN-noordkus bedryf. “Jy kan nie die see se wilde diere onderskat nie. My swem saam met dolfyne in Mosambiek was ‘n voorreg maar plek-plek ook vreesaanjaend. Die natuur se waters, insluitende die see, is nie jou swembad of speelmaat nie. Dis ‘n wilde watermassa wat saam met die inwoners daarvan kennis en deurgaanse ontsag eis.”
Sy meen die seerob in Clifton was waarskynlik moeg vir toeriste en indringers in sy natuurlike habitat. Haar dogter Jana Vorster-Broodryk het as student by uShaka Marine World in Durban se akwarium gewerk en beaam dat robbe van die gevaarlikste seediere is wat verwoed kan aanval en byt.
Riëtte Bryant, boervrou in die Swartland wat lank ‘n selfonderhoudende lewe na aan die natuur leef, meen menslike onkunde speel ‘n groot rol in diere se aggressie. “Die mens se drang om altyd betrokke te wil wees waar hulle nie noodwendig betrokke moet wees nie, skep probleme. Ons moet leer om die natuur uit te los maar almal wil die hele tyd inmeng, vat, kyk, naderkom … as jy slange uitlos, gaan hulle hul eie gang.
“Kom jy te naby aan diere, raak hulle gou geïrriteerd. Hulle soek spasie,” verklaar dié oudjoernalis wat dekades gelede Kaapstad se stadslewe vir plattelandse eenvoud verruil het. Sedert haar man Jeremy se dood, boer sy alleen op hul eko-vriendelike gasteplaas Kruistementvlei bo-op die Piketberg.
‘n Stedeling wat ook meen die balans tussen mens, dier en natuur is teen nou ernstig versteur, is Eben Venter, sakeman van Pretoria, pas terug van die gesin se Kaapse seehuis in Stilbaai. “Die mens raak mak en ag homself belangriker as die natuur. Ons moet ons posisie in die natuur herevalueer.”
Anita van der Walt, ‘n mediese dokter en Kaapse digter, stem. “Wanneer besef die mens dat hy nie die enigste op Aarde is nie én boonop vervangbaar is?” Sy glo die robaanval is bloot anger management vanuit the diereryk!
Charles Thompson, plantkenner-boer en digter van buite Pretoria wat werk aan sy droom van ‘n eksotiese kwekery, is dit eens. “Die mens moet wakkerskrik omdat hy besig is om sy ekwilibrium met die natuur te verwoes. Ons vernietig en neem die natuur oor.” Dit herinner hom aan die boek Animal Farm, “van die beste filosofie nog”. Hy is oortuig dis ons eie skuld dat diere ons aanval.” Ons vernietig hul ekosisteme, hulle moet noodgedwonge terugbaklei.”
Ook die Kapenaar dr. Bruce Copley, sportwetenskaplike, musiekkenner en holistiese lewensafrigter, meen die seerob se aanval is ‘n noodroep. “Dit mag verskillend geïntrepeteer word, maar die feit bly daar is tans 18 000 spesies op die rooi bedreigingslys. Ons is die eerste generasie in die geskiedenis wat bewustelik vir ons kinders en nageslagte ‘n onsekere en gevaarlike toekoms agterlaat.”
Die woord homo sapiens verwys na die mensspesie. Dit stam uit die Latyns en beteken regstreeks vertaal: wyse man. Die hoop beskaam nie dat die mensdom tog tydig en wys die balans kan herstel, en die dobberende toekomstuig kan omkeer en na groener weivelde mik.
Fantastiese artikel! Die foto van die Apies Rivier is kosbaar, kan ons dit in ‘n museum plaas asb? Geniet al die verskillende bronne en opinies. Verseker sielskos/food for thought. Anger management natuurlik. Animal Farm so toepaslik. Laat my skaam kry oor ons generasie se nagedagte/legacy dat ons werklik net afbreekend is. Dankie Sonnette nog ‘n fantastiese artikel vanuit jou pen.