Skip to main content

Korrespondent

Wat veronderstel was om ’n aangename nuwejaarsvakansie saam met sy eggenote van 27 jaar te wees, het aardig uitgedraai vir ’n 55-jarige man toe hy sy vrou langs die pad verloor het.

Boonton Chensu en sy metgesel, Amanuy Chaimoon (49), was op Kersdag laataand na Mahasara Kham provinsie in Thailand op pad toe die nood begin druk.

Omring met die tropiese plantegroei so kenmerkend van dié land, het mnr Chensu van die pad af gedraai om water af te slaan.

Vroutjie was aan die slaap op die agtersitplek en hul bestemming nog sowat 160 kilometer ver weg.

Hoekom dan knyp as jy nog so ver het om te ry?

Wat hy nie geweet het nie is dat mev Chaimoon wakker geword het en self besluit het om ’n nagtelike ‘natuurbesoek’ te maak – in ’n teenoorgestelde rigting van die bos.

Mnr Chensu het blykbaar eers besef sy vrou is nie meer op die agtersitplek toe hy reeds hul bestemming bereik het.

Naarstigtelik het hy haar begin bel, maar dit was tevergeefs want sy wederhelfte het haar selfoon op die agtersitplek gelos.

Teen daardie tyd het mev Chaimoon reeds sowat 20 kilometer te voet afgelê tot in Kabin Buri, ’n nabygeleë dorp waar sy die polisie om hulp gevra het.

Mnr Chensu moes uiteindelik al die pad terug ry om sy vrou te gaan haal.

Ook maar goed Thaise burgers vier nie Kersdag nie, anders sou dié dag nooit weer dieselfde gewees het vir mnr. Chensu nie.

Leave a Reply