Skip to main content

Almal ken sekerlik die Amerikaanse aktrise en sangeres Marilyn Monroe, en almal weet ook moontlik dat sy ‘n baie spesifieke liedjie in die 1953-rolprent Gentlemen Prefer Blondes gesing het. Die lied, ‘Diamonds are a girl’s best friend’ was uiters gewild sedert 1949 tot in die sestigerjare.

Dié blink steen bly egter steeds vandag immer gewild.

Die Waarheid het gaan uitvind hoekom diamante ‘n meisie se beste vriend is.

“Dit simboliseer vir my iets kosbaars,” het Bennetta Swanepoel gesê. “Vir my dui dit ook op tydlose elegansie.”

“Vir my is dit iets wat liefde simboliseer,” het Linda Vermaak gesê. “En rykdom,” het sy stuitig bygevoeg. “Veral as dit ‘n knewel is…”

Die woord “diamante” kom van die Griekse woord “adamas”, wat “onoorwinlik en onvernietigbaar” beteken.

Diamante is inderdaad onvernietigbaar, hou vir ewig en is al miljarde jare oud. Dit is ook die hardste stof op aarde. Trouens, die MOHS-skaal wys dat diamante 50 keer harder is as enige ander stof. ’n Diamant is ook vier keer harder as die volgende hardste materiaal op die skaal – Saffiere, Korund en Robyne.

Om as ‘n kwaliteit diamant verklaar te word, moet dit getoets en gesertifiseer word, en die 4 C’s (cut, clarity, carat en colour) slaag.

Ek kan verstaan hoekom diamante mense betower. Hulle skitter, hou vir ‘n leeftyd en pas by enige uitrustings.

Om nie eers van die vorms te praat nie!

Daar is twaalf klassieke diamantvorms wat in die algemeen vir juweliersware en verloofringe gebruik word: rond, prinses, kussing, (het ‘n vierkantige of reghoekige vorm met geronde rande), ovaal, smarag, peer, markies, stralend (‘n silhoeëtvorm wat baie soortgelyk is aan ‘n smaragvorm, maar sy fasette is op ‘n meer soortgelyke manier as dié van ronde diamante gesny), vierkantig stralend, asscher (lyk soortgelyk aan smaragsnitte met die belangrikste verskil dat hulle vierkantig is, in teenstelling met reghoekig), hart en triljoen (word ook na verwys as Trilliant, Trielle of Trillian Cut. Dit is ‘n relatief moderne diamantsnit wat in die 1960’s ontwikkel is. Soos die naam aandui, produseer hierdie snit ‘n driehoekige diamant met drie gelyke sye, ‘n plat tafel aan die oppervlak en plat of puntige rande).

Diamante is boonop waardevol en behóú hul waarde.

Diamante verteenwoordig beslis status, en was veral gedra deur koninklikes. Hoe hoër in die hiërargie, hoe meer diamante.

Elke diamant is uniek en het sy eie DNA, of voetspoor. Jy kan twee diamante neem wat presies dieselfde 4 C’s het, maar dit beteken nie dat hulle dieselfde is nie. Die insluitings kan ‘n bietjie anders wees, of die gordel en die afmetings sal net ‘n bietjie verskil, maar jou diamant sal altyd enig in sy soort wees.

Die eerste rekord van ‘n diamantring as verloofring dateer uit 1477 toe aartshertog Maximillian van Oostenryk ‘n skouspelagtige een aan sy verloofde, Maria van Boergondië, se vinger gesteek het.

Hier is nog ‘n paar interessante feite oor diamante:

Die woord ‘karaat’ is vermoedelik afgelei van die Carob Bean – ‘n antieke eenheid van gewig.

Rondgesnyde diamante het slegs 57 fasette.

D, E en F is kleurlose diamante. Die enigste verskil in hierdie diamante is die deursigtigheid. D is meer deursigtig as E, E is meer deursigtig as F.

Die antieke Grieke het geglo dat diamante splinters van sterre was wat op die aarde geval het.

Die grootste diamant wat ooit ontdek is – die Cullinan diamant – het 3106.75 karaat geweeg.

Die grootste geslypte diamant is die Groot Ster van Afrika – 530 karaat.

Slegs een diamant uit ‘n miljoen weeg een karaat of meer.

Gemiddeld sal ‘n diamant ongeveer 50% van sy oorspronklike gewig verloor wanneer dit gesny en gepoleer word.

Hoekom het sommige diamante kleure in?

Die meeste natuurlike gekleurde diamante word geskep wanneer spoorelemente met die koolstofatome inwerk tydens die diamant se skepping. Die teenwoordigheid van chemiese elemente soos stikstof, swael en boor kan diamante in skakerings van geel, groen en blou kleur.

Pienk diamante is egter ‘n ander storie. Spoorelemente is nog nooit in pienk diamante gevind nie. In plaas daarvan word die kleur veroorsaak deur ‘n vervorming in die diamant se kristalrooster, geskep deur intense hitte en groot druk uit alle rigtings (nie-isotropiese spanning) ná die klip se vorming in die aarde.

Hierdie vervorming verplaas baie koolstofatome van hul normale posisies en verander die kwaliteite van lig wat deur die diamant gereflekteer word. Dit is hierdie spesiale konfigurasie van die molekules wat ons toelaat om die klip as pienk waar te neem.

Pienk diamante is nie net spesiaal vanweë hul struktuur nie; hulle is ook ongelooflik skaars.

Leave a Reply

error: Content is protected !!