Volgens Eighty20 se nuutste kredietverslag gaan dit broekskeur met middelklas Suid-Afrikaners. Die steeds stygende voedsel- en brandstofpryse, asook hoë rentekoerse, knak enige positiewe hoop vir 2023.
Mense wat huislenings van ongeveer R1,5 miljoen het, betaal gemiddeld R3 000 per maand meer omdat die prima uitleenkoers die afgelope jaar met 3,25% gestyg het.
Statistieke SA se rekords toon dat die pryse op nie-alkoholiese drank en kos met 12,5% toegeneem het. Vervoerkostes het met 15,3% gestyg en ander dienste met 4,8%.
Die totale massakredietmark (leners) bestaan uit 11,9 miljoen volwassenes, wat tipies tussen R3 000 en R8 000 per maand verdien, het Eighty20 gesê.
Die konsultasiefirma het bygevoeg dat byna 80% van hierdie groep kredietaktief is, met die meeste van hierdie krediet wat nie verseker is nie: 80% het kleinhandelkrediet, 32% het onversekerde krediet, en 16% het kredietkaarte – met slegs 1% wat huislenings het, en selfs minder het voertuigbatefinansiering (VAF).
“Dit lyk of hierdie klante onversekerde kleinhandel- en kredietkaartskuld gebruik om te oorleef,” het Fulton gesê.
Die middelklas-werkersgroep bestaan uit 4,1 miljoen volwassenes, wat gewoonlik tussen R8 000 en R30 000 per maand verdien, het Eighty20 gesê.
Byna 75% van hierdie groep is kredietaktief en begin tekens van aansienlike kredietstres toon aangesien die inkomste nie meer die middelklaswerkers se lewenstyl kan ondersteun nie, het Eighty20 bygevoeg.
Die gemiddelde paaiement-tot-inkomste-verhouding het die afgelope jaar met byna 9% gestyg tot 66%, wat beteken dat twee derdes van die gemiddelde middelklas-salarisgroep met hoë skuld sit.