Skip to main content

Het jy geweet dat jou vingerafdrukke reeds in die baarmoeder gevorm word, en dat jou beweging in dié veilige hawe, samestelling van die vrugwater asook die ligging van die baarmoeder die uniekheid daarvan skep?

Ons vingerafdrukke bestaan uit lusse – geboë riwwe wat in ‘n langwerpige C-vorms lê – asook spirale – riwwe in konsentriese sirkels – en boë, wat soos die kontoer van ‘n berg lyk.

‘n Vingerafdruk kan vir mens miljoene rande in die sak bring – mits dit die regte lusse, spirale en boë bevat. ‘n Vrou in Amerika het ‘n ongetekende skildery by ‘n tweedehandse winkel vir $5 gekoop. Sy het die vingerafdruk daarop laat toets, en die uiteinde was dat haar skildery, ‘n ongetekende een deur Jackson Pollock, miljoene dollars werd was.

In sekere lande sal ‘n polisieman, wanneer hy ‘n motoris van die pad af trek, sy vingerafdrukke op die voertuig se kattebak of agterlig los, in geval die ‘gesprek’ met die drywer wat afgetrek is, skeef loop.

In die VSA is daar masjiene wat voorgeskrewe medisinale dagga per vingerafdruk-bevestiging aan verbruikers ‘verkoop’ mits hul afdrukke in ‘n mediese sisteem se databasis opgeneem is.

As jy weet van iemand wat sonder vingerafdrukke gebore is … ja, dit gebeur soms … staan dit bekend as adermatoglyphia. Sover bekend is daar slegs vier uitgebreide families in die wêreld wat hieraan ly.

7 300 jaar – dis hoe oud die wêreld se oudste vingerafdruk is. Dit is in Koeweit op ‘n skerf van ‘n Steentydperk-kleipot ontdek.

As jy dalk ‘n Apple iPhone het en Touch ID gebruik – en te sterf kom – sal niemand jou vinger na die tyd kan gebruik om jou foon oop te sluit nie.

Wat is die doel van vingerafdrukke? vra jy. Onlangse navorsing bewys glo dat vingerafdrukke ons gevoel van aanraking (tas-sin) verbeter.

Gorillas, orangoetangs, sjimpansees en koalas het ook almal unieke vinger- oftewel pootafdrukke.

Leave a Reply

error: Content is protected !!