Die gemak waarmee pres. Cyril Ramaphosa vandag by die ANC se leiersverkiesing herkies is tot die party se president, is skrikwekkende nuus vir beide die land en die heersende party.
Ramaphosa het, ondanks die rammelende geraamtes van Marikana en Phala Phala in sy kas, die onbeholpe hantering van die Covid-pandemie en die verdwyning van die meeste van die R500 miljard se hulpfondsgeld, die Eskom-fiasko en die kwynende ekonomie, steeds byna 600 meer stemme as Zwele Mkhize gekry.
In die meeste ontwikkelde lande sou daardie bagasie hom gediskwalifiseer het vir ‘n tweede termyn as partyleier, laat staan nog ‘n tweede termyn as president van die land.
Kan dit waar wees dat die eens magtige ANC van Thambo, Sisulu en Mandela nie ‘n leier met integriteit kan oplewer wat die leisels kan oorneem en ons moeilike pad na herstel kan lei nie?
Die ANC is ‘n verdeelde, hinkepink-party. Ofskoon dit lyk of die party steeds stewig agter die president staan, is dit nie noodwendig die geval met die res van die land nie. Die openbare mening het opmerklik teen Ramaphosa begin draai.
Wat veral uitstaan, is dat daar vir die tweede agtereenvolgende verkiesing niemand uit KwaZulu-Natal tot die top-7 verkies is nie. Die feit bly staan dat ons nog baie lank nie vry is van etniese grense in politiek nie, en die party se ignorering van die grootste etniese groep in die aanwys van sy leiers gaan nie goedsmoeds in Zoeloegeledere aanvaar word nie. Die IVP – ‘n party wat nog altyd sy Zoeloe-identiteit met trots dra – kan selfs na dese KZN in die volgende provinsiale verkiesing van die ANC afrokkel, soos hulle in ’94 gedoen het.
As daar iets ergers as ‘n te sterk heersende party vir die land se toekoms is, is dit ‘n regerende party wat te swak is. Dit is nie ‘n verregaande voorspelling dat die ANC se steun in 2024 se verkiesing tot onder 45% kan val nie. Gewone Suid-Afrikaners is keelvol vir armoede, werkloosheid, beurtkrag en afwesige dienslewering.
Daar is baie Suid-Afrikaners wat handevryfend uitsien na die vooruitsig van ‘n koalisieregering na 2024. Die waarheid is egter dat ‘n koalisie nie die ideaal is nie. ‘n Koalisie is altyd ‘n kompromie. Die eerste prys bly ‘n bekwame regerende party wat deur ‘n sterk, bekwame opposisie in toom gehou word. Maar ons het nie een van die twee nie.
Voor vanoggend se verkiesing het Ramaphosa kritiek van binne sy party in die gesig gestaar. Oudpres. Jacob Zuma het hom daarvan beskuldig dat hy stemme sou koop en die demokratiese proses sou manipuleer. Ramaphosa is openlik daarvan beskuldig dat hy baie geld bestee het om sy posisie as ANC-president te koop, en ons weet nie waar die geld vandaan kom nie,” het Zuma gesê.
Die finansiering van Ramaphosa se vorige veldtog vir die ANC-leierskap in 2017 het omstredenheid veroorsaak. Hy is daarvan beskuldig dat hy vir die parlement gelieg het oor ‘n R500 000-skenking van ‘n nywerheidsgroep.
Bespiegeling is in 2017 egter oorheers deur die optimisme dat Ramaphosa korrupsie in die land land die nek sou inslaan, die kragkrisis sou oplos en die ekonomie sou red. Die hartseer waarheid is dat Suid-Afrika nou, na vyf jaar onder hom, veel slegter daaraan toe is.
Vanjaar is die proses van stemwerwery steeds met groot wantroue benader en beskuldigings van stemme koop is weer openlik rondgegooi – veral in die lig dat Ramaphosa se vertrouelinge teen die verwagting in skoonskip gemaak het. Dit alles dra niks by tot vertroue in die party se leierskap nie.
Elke Suid-Afrikaner wat die land liefhet, wil graag sien dat Ramaphosa sy mandaat aangryp en die land tot voorspoed en rykdom vir almal lei. ‘n President se eerste termyn is egter gewoonlik ‘n redelik akkurate voorspeller van wat in sy tweede termyn wag. Die Waarheid vrees vandag se leiersverkiesing baan die weg vir die geskiedenis om Matamela Cyril Ramaphosa te onthou as een van Tuynhuis se grootste mislukkings ooit.
Die ANC het vandag ‘n gulde geleentheid verspeel om Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak.