Skip to main content

Die bedanking van Andre de Ruyter as grootbaas van Eskom is baie meer as bloot nog ‘n terugslag in ‘n lang lys mislukkings wat die land tref – dis die begin van die politieke eindspel in Suid-Afrika wat die land totaal ten gronde sal laat gaan of ‘n dekadelange, pynlike proses van herstel kan inlui.
De Ruyter verlaat die kragvoorsiener in ‘n groter chaos as waarin hy dit ontvang het, maar geen intelligente mens kan die elektrisiteitskrisis voor sy deur lê nie. Dit was duidelik dat hy van die begin af ‘n verloorstryd teen sistemiese korrupsie gevoer het.
Sy uitdagings was nie net bestuurs- en kundigheidsprobleme nie – dit was die minste van die struikelblokke in sy pad. Hy is deurgaans geteister deur die politieke wil om hom te laat misluk en ‘n veldtog wat gedryf is teen sy velkleur.
Sy bedanking volg op ‘n aanval op Eskom verlede week deur Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, wat gesê het die kragvoorsiener probeer om die regering omver te werp deur nie beurtkrag te beëindig nie. Beurtkrag het reeds byna 15 jaar voor De Ruyter se aanstelling as uitvoerende hoof van Eskom begin weens ‘n vlaag van onderhoudsversuim, tegniese onkunde en georkestreerde sabotasie.
Tog het Mantashe dit goedgedink om te sê Eskom “agiteer aktief vir die omverwerping van die staat” met voortgesette implementering van beurtkrag.
Mantashe se ad hominem-aanval was ongevraag en onopbouend, maar wat meer kommerwekkend was, was pres. Cyril Ramaphosa se stilswyende goedkeuring van die brutale kritiek teen die belangrikste staatsbeheerde instelling in die land.
Suid-Afrika het stabiele elektrisiteit nodig om te oorleef. En die nuwe towerwoord – volhoubare krag – is nog nie naastenby in hierdie stadium die oplossing nie. Veral nie omdat die staatshoof familielede het wat ‘n binnebaan in hierdie opsig geniet nie.
Die antwoord is dat De Ruyter vervang sal word deur iemand wat op grond van tegniese- en bestuursvaardighede aangestel word – nie weens sy of haar politieke konneksies nie. En dat daardie persoon deur die staatshoof ondersteun word.
‘n Staatshoof wat hopelik na die ANC se verkiesingskonverensie nie meer Ramaphosa sal wees nie. Want dis onvermydelik dat die kragfiasko by die ANC se groot konferensie een van die hoofpunte sal wees. En hy kan nie skotvry daarvan afkom nie – maak nie saak hoeveel hoofregters hy skors of by watter koning hy gaan kuier nie.
Soos die vryheidsvegters van weleer, wil Die Waarheid die ou vryheidskreet laat opklink: Power to the people! En met Ramaphosa en sy kornuite sal ons dit nooit hê nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!