Skip to main content

Isaac Cloete 

Die staatsaanklaer op Frazerburg is glo weens veediefstal in die pekel.

Dit spruit uit ‘n saak wat ‘n bekende skaapboer van die Van Wyksvlei-gebied, Carel van de Merwe, in Maart hierdie jaar aanhangig gemaak het.

Hy het gesê: “Ek kry nou (Dinsdag) ‘n oproep van die veediefstal-eenheid met goeie, maar skokkende terugvoer oor ‘n veediefstalsaak wat ek sowat nege maande gelede gemaak het.”

Volgens hom het hy en sy vrou Shanie Taljaard toe die diewe, met nog messe in hul hande, persoonlik  vasgetrap.

Dit blyk nou, na  intensiewe speurwerk, dat die baasbrein agter die veediefstalnetwerk die streekshofstaatsaanklaer, Mortland Kiewiets op die Karoodorpie kon wees. En dat hy dalk deel van ‘n sindikaat is wat nooit voorheen vasgetrek kon word nie.

Kiewiets is Dinsdagoggend in verband met die diefstal van die vee en saak wat van der Merwe in Maart gemaak het, in hegtenis geneem.

Hy het verder gesê: “Dis goeie nuus, maar ook bitter skokkend. ‘n Regstelsel bestaan uit regsdienaars wat die stelsel verrot gemaak het. Omkopery, diefstal, die kaping van sake, die wegraak van hoflêers en swak kennis van hul werk, begin nou sy tol eis.”

Volgens van der Merwe was dit ongeveer sewe skape en kan die waarde tot R 20 000 per skaap beloop. Dit was ‘n skaars en unieke tipe skaapras. Die aanklaer se staatsvoertuig was glo ook betrokke in die diefstal, volgens hom.

Van der Merwe het ten slotte gesê dat daar al sowat 1 000 skape oor ‘n tydperk gesteel was, maar die diewe nooit gevang kon word nie.

Die vervolgingsgesag het reeds aangedui dat hulle vir Kiewiets gaan vervolg. Hy is reeds uit sy werk ontslaan.

Intussen het ‘n ander boer wat vroeër in dieselfde omgewing op Victoria-Wes geboer het, vertel dat hy ook ‘n bloutjie geloop het met ‘n staatsaanklaer, nadat ‘n plaaswerker sy tuie gesteel het. Die staatsaanklaer in die saak het hom herhaaldelik versoek om die saak terug te trek.

Hy het egter geweier en eers na nege maande kon hy sy tuie terugkry, nadat die beskuldigde uiteindelik in die hof getuig het.

Hy voel nou dat die staatsaanklaers en polisie baie keer saamwerk om diewe te beskerm.

Intussen word verwag dat die staatsaanklaer van Frazerburg binnekort hier in die hof sal verskyn vir veediefstal.

Inwoners in dié area wonder egter wat gaan met hom gebeur. En of die dossier van sy saak nie sommer ook gaan verdwyn nie.

Leave a Reply