Skip to main content

Katar se sokkerskouspel betower nie almal 

Die Wêreldsokkerbekertoernooi in Katar bereik nou kookwaterpunt met ‘n Afrikaland in die kwarteindstryde. Tog is dit opvallend en ietwat vreemd dat van die bekendste sportmallande nooit ten volle teenoor die gewildste sportsoort op Moeder Aarde opgewarm het nie. Sonnette Lombaard wonder hoekom en het die redes gesoek.

Oor die gewildste sportsoort op ons planeet kan min stry. Die syfers bevestig sokker is grensloos gewild. Die Wêreldsokkerbekertoernooi waarvan die 22ste een tans in Katar onderweg is, onderstreep dit telkens. Diė vierjaarlikse toernooi waar die heel bestes kragte meet, is selfs meer gewild as die Olimpiese Spele met die Wêreldsokker-eindstryd wat meer kykers die Aardbol oor trek.

Hoewel die toernooi vir die groot kanonne is, is sokker op amateurvlak eweneens gewild. Volgens die wêreldsokkerliggam FIFA het meer as 240 miljoen mense van meer as 200 lande met die draai van die eeu gereeld sokker gespeel. Sokker word ook losweg deur die meeste kleinkassiekykers wêreldwyd gevolg. Met die Wêreldbeker-eindstryd in Duitsland in 2006, het 715 miljoen kykers – ‘n negende van die planeet se bevolking – die eindstryd gekyk!

Boonop laat sokker jou nie lou nie – waar ookal en op alle vlakke is dit deel van die lewens (plesiere en pyne!) van die passievolle aanhangers. Die groot Poolse joernalis wyle Ryszard Kapuściński het tereg gemerk dat sokker Europeërs, gewoonlik ordentlik, gematig en nederig, maklik in woedende, aggressiewe wesens verander. Op ‘n groter skaal kan ‘n kernsege inderdaad ‘n hele nasie in ‘n staat van euforie plaas wyl ‘n nederlaag ‘n volk blitsig in rou dompel. ‘n Sege van die Ivoorkus se nasionale sokkerspan het gelei tot ‘n skietstilstand in dié land se burgeroorlog in 2006. Terselfdertyd het sokker die spanning verhoog aan die begin van die Kroasiese Onafhanklikheidsoorlog toe ‘n wedstryd tussen Dinamo Zagreb en Red Star Belgrade in oproer ontaard het in 1990.

Die gasheerland vir vanjaar se Wêreldsokkerbekertoernooi Katar breek juis ‘n lansie vir sokker se heerskappy as universeel-geliefde brugbouer wat nasies verenig; al is stryde tussen sportvyande op die veld vuurwarm. Dié skatryk-olieryke land is die eerste Midde-Oosterse, Moslem- en Arabiese land om die toernooi aan te bied. Daarmee hoop die sokkerbase om die gewilde sportsoort se aansien nog verder uit te brei. Vanjaar het ‘n rekordgetal van 32 lande se spanne gekwalifiseer om na Katar op te ruk.

Die keuse vir die volgende toernooi in 2026 is ewe interessant. Dit word in drie buurlande gehou: die VSA, Kanada en Mexiko. Wat die sport ‘n verdere hupstoot sal gee, want van dié trio lande is dit net Mexiko waar sokker ook supergewild is. Die VSA en Kanada is deel van die bekende en groot sportlande waar sokker nog nie dieselfde afmetings as elders aangeneem het nie. Nog reuse in die sportarena wat spog met stewige sportprestasies soos China, Australië en selfs Rusland is weliswaar bekend met sokker maar presteer nie op dieselfde skaal daarmee as in ander sportsoorte nie. En waar is die krieketgrotes soos Indië en Pakistan in sokker?

Zoem jy in op amptelike sportstatistieke, sien jy dat hoewel sokker in meer as 200 lande koning kraai, ook Suid-Afrika, is bofbal nommer een in Panama, Venezuela, Nicaragua, Kuba, die Dominikaanse Republiek, Japan, Noordelike Marianas en Taiwan. Krieket is weer bobaas in Brits-Guyana, Antigua en Barbados, Trinidad en Tobago, Indië, Pakistan, Bangladesh, Sri Lanka en Australië. Die handvol rugbymallande is Fiji, Wes-Samoa, Tonga, Nieu-Seeland en Wallis. Basketbal is die gewilste sport in die Filippyne, Litaue, Puerto Rico, Marshall-eilande en die Bahamas. Yshokkie beklee die topposisie in Kanada, Finland, Letland en Estonië. Die volgende sportsoorte is slegs in een land die gewildste: boogskiet in Bhutan, stoei in Mongolia; Gaeliese sokker in die Ierse Republiek en Amerikaanse voetbal in die VSA. Sokker tel darem saam met voetbal, bofbal, basketbal en yshokkie onder dié Westerse leierland se vyf top sportsoorte.

Wat die vraag laat waarom sokker nie ook in sekere lande, soos elders, die kitaar die hardste tokkel nie. Australië, bekend vir sy aktiewe buitelug-leefstyl, rol sportkampioene met reëlmaat uit. Sokker byt egter aan die agterspeen naas sportsoorte soos Australiese voetbal, rugby, krieket, tennis, swem en gholf. In koue Kanada kraai, wel, yshokkie koning, maar sokker is wel van die vinnig-groeiende sportsoorte. Ook in koue Finland, wat al vele sportgrotes opgelewer het, is yshokkie nommer een met Formule 1 die naasgewildste.

Oor na warm Indië, wat aanstons China as die land met die meeste mense op Moeder Aarde sal verbysteek, waar sokker ook tweede viool speel naas krieket, wat heilige status geniet. In sokkermal Suid-Amerika met sy vele sokkerkampioene insluitende die duo reuse Brasilië en Argentinië is daar ook die swart skaap. In Venezuela is sokker derde gewildste naas bofbal en basketbal.

Die debat oor sokker se trae ontvangs in die VSA kom ‘n lang pad – interessant, is rolbal die sport met die meeste deelnemers. Die gemiddelde toeskouersgetalle by sokkerwedstryde in Yankland haal skaars 25 000 mense. Yank-sportkommentators meen beperkings op TV-regte, en nogal die nasionale vrouesokkerspan se veel beter vertoningsrekord, dra daartoe by dat dié land se mans-sokkerspan gereeld vasval. Sokker kry glo nie ‘n lekker vastrapplek in die Amerikaanse psige nie omdat dit nie relevant tot die Yankkultuur is nie. “Ander lande leef vir sokker, ons nie,” het sportliefhebbers in ’n onlangse meningspeiling verklap. Voorts is daarin bevind dat Amerikaners meen sokker is te stadig en nie opwindend genoeg nie.

Volgens sielkundiges is daar vyf kernmotiewe waarom ons sport volg, naamlik identiteit, selfwaarde, ontvlugting, positiewe stresontlading en ‘n begeerte om te behoort.

Vir eers is die mensdom gefikseer op die spreekwoordelike middelpunt van die Aarde, oftewel Katar waar die Wêreldsokkertoernooi met die gewone drama en fanfare tans ontvou. Twee oudkampioene, Duitsland wat al vier keer die wenners was en Spanje, wat in 2010 in Suid-Afrika die gesogte goue trofee omhoog gehou het, is uitgeskakel voor die prestigerondte van die laaste 16. Ná die groepfases is net agt van die aanvanklike 32 spanne nou oor. Insluitend Marokko, wat die hele Afrika se vlag moet laat wapper. As die mees wesgeleë land in Afrika, is Marokko wat met ‘n skoksege Spanje uitgeskakel het, net die vierde Afrika-land om die toernooi se kwarteindronde te haal.

Gepas dat ‘n Moslemland in Afrika dié gulde kans op die wêreldverhoog aangryp om in nog ‘n vaandeldraende Moslemland in die Arabiese wêreld te presteer. Dalk begeester dit ook ons nasionale sokkerspan Bafana Bafana (“The Boys”) oor wie se treurmares mens eerder swyg. En kan hulle opnuut slyp en hul roemsege as Afrika-kampioene in 1996 herhaal. Die span is tans 12de op die Afrika- en 68ste op die wêreldranglys. Die hoop beskaam nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!