Skip to main content

Soeterny wat (non)chalant verlei, is wêreldwyd gelief

Ná ‘n klipharde jaar vir Suid-Afrikaners op vele fronte, is ‘n ‘heilige’ sirkelvormige soetigheid op die tong sagte doepa om die russeisoen behaaglik binne te gaan. Johannesburgers weerstaan deesdae moeilik ‘n Hollandse hoekwinkel in ‘n gewilde woongebied se klassieke Franse verleiding, skryf Sonnette Lombaard wat saam in dié lekkerbek-koor jubel.

Teen die draai van die eeu was my voorkeur as laaste begeerde dis op Moeder Aarde voor ek groet, kant en klaar uitgemaak. Ek was oortuig van my saak, want die Portugese se wêreldberoemde vla-tertjies Pastéis de Belém of kortweg Natas, was lankal my doodsteek. Maar die vlees is verleidelik swak en min wetend sou ‘n ewe beroemde, helaas Franse, soet nommer my wenskaarte hier aan die verre suidpunt van Afrika ewe (v)romerig kom deurmekaar krap. Blameer die Hollandse bakkery ‘n paar blokke van my blyplek in Johannesburg want dis daar waar ek keer op keer swig …

Suzanne van Weely (24), in Joburg gebore vanuit ‘n dik Hollandse stamboek, het kleintyd geweet haar kop staan kok se kant toe. Ma Ellen se kook- en bakkuns was bekend en sy het haar toe al graag in die kombuis gehelp. Teen haar tienerjare was Suzanne se passie vasgelê – sy wou bak vir ‘n lewe. Nadat sy haar ten volle as sjef gekwalifiseer het, het pa Ronald gehelp om haar droom vlerke te gee. Sy het die Supercalifragilistic Bakkery in 2018 geopen waar sy saam met nog twee bakkers vir die daaglikse fees van vars gebak sorg.

Jy kan nie die wit-en blou-winkel, ‘n ode aan haar wortels, mis op die hoek van Linden se besige Vierdelaan en Vyfdestraat nie. Die bakkery en koffiewinkel is ‘n gewilde aandoenplek vir inwoners en besoekers van oral. Mense ry van ver vir Suzanne en haar klein span se daaglikse vars gebak van brode, pasteie en die mooiste en lekkerste soeterny. Boonop teen billike pryse. Dit was juis haar brode wat gesorg het dat sy dwarsdeur die grendeltyd kon besigheid doen, omdat sy dit as noodsaaklike item aan besighede moes verskaf, vertel Suzanne trots.

Haar rye soetighede onder die toonbank is, wel, ewe onweerstaanbaar. ‘n Kaapse vrind met wie ek ‘n swak plek vir fyn soetgebak deel, het tydens ‘n kuier ‘n paar jaar gelede met die “wit boksie vir nagereg” opgedaag. Binne-in het ‘n pikant-plesierige duo gepryk: onmisbaar eclairs maar in ‘n ietwat ongewone sirkelvorm. Dit was die begin van die oorgawe. Wees gewaarsku: Byt jy eers deur daai sjokfondant-bolaag en proe jou tong die sagte fluweelroom op die choux-deeg, is dit tiekets. ‘n Mens bly moeilik by net een. Dit beaam my geliefdes (vroue én mans) aan wie ek sedertdien Suzanne se eclairs gaan bekendstel het.

Kom ons kyk eers hoe dié bekende lekkerny die weg na roem die Aardbol oor gevind het. Vir miljoene lekkerbekke is die ikoniese eclair die beroemde Franse cuisine se spreekwoordelike kersie op die koek – min plekke op die planeet ken nié een of ander vorm daarvan nie. Dié land se koskkuns is immers ook vereer as ‘n lid van UNESCO se wêreldlys van “ontasbare kulturele erfenis”.

Eclair beteken “lig wat flits”, daterend uit toentertyd toe bakkers (tereg) gemeen het dís hoe vinnig mens dit verorber. Eclairs het in die 19de eeu in Frankryk gedebuteer en die beroemde sjef Antonin Carême (1784-1833), was een van die eerstes om die soetkuns onder die knie te kry. Hy het later vir Napoleon se troukoek gesorg. Terloops, die VSA vier selfs jaarliks ‘n Nasionale Eclairdag op 22 Junie.

Die tradisionele eclair het ‘n langwerpige vorm en kan met room of vla gevul word, afgerond met gesmelte sjokolade of karamel vir die soete fondant-bolaag. Die bekende Franse choux-deeg se bros buitenste en holsagte binneste kan egter ook in sirkelvorm gemaak word. Só ronde eclair heet ‘n Religieuse, Frans vir godsdienstig en verwysend na nonne. Nouja, dis dié einste hemelse soetigheid wat Suzanne se bakkery ‘n voorkeur-stopplek maak.

Die man wat my in die eclair-versoeking ingelui het, Kaapse journo Jacques Liebenberg, ken van en kan goeie koskuns enige plek waardeer. Hy meen Linden se gewilde eclairs is veel meer as ‘n peuselhappie. “O ja, en tog ook altyd lekker as ‘n tradisie bietjie aangepas word – hier kry jy ‘n smaaklike eclair in sirkelvorm!”

Oud-stedeling en nou Karoo-inwoner Matty Strydom het onlangs uit Van Wyksdorp kom draai en die eerste keer die eclairs geproe. “Dis nie verniet na ‘n flitsende lig vernoem nie, want soos ’n weerligstraal verbly en verlei dit jou mond.

“En ek vind dit prettig dat die ronde éclair ‘n godsdienstige verwysing het. ’n Mens snak na jou asem as jy dié klein “nonnetjies” eet, beslis nagenoeg aan ‘n godsdgienstige belewenis,” verklaar Matty, ‘n oudonnie wat deesdae skryf.

Johan Jack Smith, skrywer-redakteur van Johannesburg, gee homself nie as koskommentator uit nie, maar sy ervaring met dié eclairs is ook smaaklik. “Dis inderdaad smelt-in-jou-mond-lekker. Eet jy te veel, is die gevaar van naar egter ook daar.”

Nog ‘n bekeerde is Gerda van Heerden en manlief Ben van die WesRand. Gerda, wat eens ‘n spysenieringsbesigheid gehad het, beskryf dit as ‘n “hemelse sagte wolkryk-sjokoladelekkerte!” Net jammer die verleiding uit ʼn ander wêreld hoop ook blitsig op die heupe op, voeg sy by.

Volgens Suzanne bevestig kliënte se terugvoer dat hulle eclairs, boonop teen net R10 stuk, wyd gewild is. Saam met die roomgevulde oliebolle (doughnuts) en die wortelkoek. Noudat die besigheid fluks optel ná die pandemie hoop sy om haar aanbeiding uit te brei met die bak van verjaardagkoeke, bakklasse en die aanbieding van funksies in die winkel.

Die bakkery wat ook ‘n Facebook-blad het, is Maandag- tot Saterdag van seweuur soggens oop en Kersgebak soos gemmerbroodhuise en vrugtekoek pryk reeds op die rakke. Skakel 011 782 4542 vir bestellings.

Leave a Reply