Skip to main content

Die nuwe Blitsbok-held Ricardo ­Duarttee. Foto: Twitter / @Blitzboks

Kobie Cilliers

Die Blitsbokke is terug. Suid-Afrika se sewesrugby-trots het Saterdag in Dubai vir die eerste keer ‘n toernooi gewen sedert die nuwe afrigter, Sandile Ngcobo, die leisels by Neil Powell oorgeneem het.

Die Sharks, Stormers, Bulls en Lions het ook al vier met hul oorsese teenstanders in die Verenigde Rugbykampioenskap (URC) afgereken.

Sokker se Wêreldbeker-toernooi het verlede week weer vir verskeie massiewe opskuddings gesorg, terwyl daar nie ‘n enkele Afrika-span deurgedring het om die vasteland se naam in die kwarteindronde hoog te hou nie.

En in die bokskryt het Kevin Lerena van Suid-Afrika en Derek Chisora van Brittanje albei hul gevegte in die Tottenham Hotspur-stadion in Londen verloor.

RUGBY

* Die Blitsbokke het Vrydag hul vyfde agtereenvolgende nederlaag in Wêreldrugby se sewesreeks gely voordat hulle in hul tweede groepwedstryd in Dubai weer na die wenpad teruggekeer het.

Siviwe Soyizwapi en sy span het daarna nie teruggekyk nie en Saterdag vir Ierland in die eindstryd met 21-5 geklop om die Dubai-kroon vir die tiende keer te wen.

Die sege is welkome verligting vir die span en sy ondersteuners nadat die Blitse se seisoen in Hongkong op ’n bra treurige wyse begin het.

Die toernooi in die woestyn het wel Vrydag nie na wense afgeskop nie toe die Suid-Afrikaners met 5-14 teen Groot-Brittanje verloor het. Die span het egter ‘n oplewing beleef en sy volgende twee groepwedstryde teen Kenia en Australië  gewen voordat hy in die kwarteindronde met Samoa (24-19) en die halfeindronde met Nieu-Seeland (26-19) afgereken het.

Die Blitse het eenvoudig net van krag tot krag gegaan en uiteindelik ’n skitterende vertoning in die eindstryd gelewer om Ierland om die goue medalje te klop.

Die nuweling Ricardo ­Duarttee was ‘n uitblinker vir die Blitse en het dadelik as ‘n gunsteling onder die span se aanhangers en selfs die kommentators na vore getree.

Die 24-jarige skrumskakel was vroeër vanjaar op die nippertjie om ‘n loopbaan in MMA (gemengde gevegskuns) te volg. Duarttee het gelukkig vir die Blitse besluit om hom eerder by die Stellenbosse Sportakademie (SAS) se sewesprogram aan te sluit.

Duarttee, ’n oudleerling van die Hoërskool Stellenberg in Bellville in die Wes-Kaap, moes sy motor verkoop om die finansiering te bekom om die program te voltooi. Dit was daar wat Philip Snyman, tans hulpafrigter van die Blitsbokke, wat toe aan stuur van SAS se sewesprogram was, hom raakgesien het.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

* Die Sharks het Vrydagaand ‘n dramatiese week met ‘n oorwinning van 25-10 teen die Ospreys van Wallis op Kings Park behaal, maar die vertoning was nie juis wat die span se aanhangers voor gehoop het of verwag het nie.

Die Ospreys, reeds sonder minstens nege internasionale spelers wat die vorige naweek teen die Wallabies gespeel het, was voor die afskop in Durban selfs verder deur ‘n geheimsinnige virus verswak.

Die besoekers moes op die ou einde elke liewe oorblywende speler in die toergroep betrek om diegene wat siek was te vervang.

Gegewe die ontwrigting is daar verwag dat die Sharks met die wind in hul seile ‘n vertoning sou lewer om te vergoed vir die vorige Sondag se vernederende tuis-nederlaag met 0-35 teen Cardiff.

Maar die wen-marge van 15 punte het die gasheer gevlei en die Sharks se oorwinning was ver van oortuigend.

Die Sharks lê na dese tiende op die URC-punteleer met 19 punte, maar het twee wedstryde minder as meeste van die ander spanne in die kompetisie gespeel.

* Die Stormers het Saterdagmiddag in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) die krane in die eerste helfte teen die Dragons oopgedraai om ‘n voorsprong van 28-0 te behaal. Maar ‘n onderskep-drie deur die Walliesers nadat die toeter vir rustyd geblaas het, het die tafel gedek vir ‘n baie beter vertoning deur die besoekers in die tweede helfte.

Die terugvegpoging was egter nie genoeg om die Stormers van ‘n oorwinning met 34-19 te ontsê nie en die verdedigende URC-kampioen pronk derde op die punteleer met 34 punte.

* ‘n Fikse en selfversekerde Johan Goosen was Saterdagaand op Loftus Versfeld op sy stukke in die Bulls se klinkende oorwinning met 45-9 oor Cardiff van Wallis.

Dit was die losskakel Goosen, wat aanvanklik ná sy terugkeer van die soveelste ernstige besering werklik gesukkel het, wat die beste uit sy mede-Springbokke Kurt-Lee Arendse (heelagter) en Canan Moodie (vleuel) op die aanval gehaal het.

Die tuisspan het twee keer in die eerste helfte agter Cardiff se doellyn gaan kuier vir ‘n rustyd-telling van 17-9.

Die Bulls het hul oorheersing in die tweede helfte voortgesit met nog vier drieë en die besoekers verhoed om ‘n enkele punt aan te teken.

Moodie, met twee drieë, is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Jake White se span is tweede op die URC-punteleer, gelyk op 34 saam met die Stormers, maar met ‘n beter punteverskil van agt en een wedstryd meer agter die rug.

* Die Lions-agtsteman Emmanuel Tshituka se drie ses minute voor die einde was die kersie op die koek van ‘n oortuigende oorwinning Sondagmiddag teen die Scarlets van Wallis op Ellispark in Johannesburg.

Die tuisspan was stukke beter as teen die Dragons op dieselfde veld sewe dae vantevore. Maar die Lions se vinnige speltempo het nie heeltemal die impak op die besoekers gehad as verwag nie.

Die Lions het teen die 74ste minuut steeds net drie drieë agter hul naam gehad en met die indrukwekkende losskakel Jordan Hendrikse in die koelkas, was die tuisspan met 14 spelers op die veld se kans om ‘n bonuspunt in te win, vinnig aan die kwyn.

Maar Ivan van Rooyen se span het daarin geslaag om hulself in die Scarlets se helfte te bevind en Tshituka het verskeie verdedigers geklop op pad na die Johannesburgers se vierde drie. Die bonuspunt-oorwinning het verseker dat die Lions vier plekke opskuif na die vyfde plek op die URC-punteleer.

Tshituka, wat twee drieë aangeteken het, is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

GHOLF

* Ashleigh Buhai het Sondag die Australiese Ope vir vroue in Melbourne met een hou gewen. Die 33-jarige Suid-Afrikaner het ook vroeër vanjaar op Muirfield in die Britse Ope vir vroue geseëvier.

Buhai, wat voor die toernooi 28ste op die wêreldranglys was, het prysgeld van A$270 000 (R3,2 miljoen) verdien en sy sal ’n hele paar plekke op die wêreldranglys klim.

* Thriston Lawrence van Nelspruit is die nuwe Suid-Afrikaanse Ope-kampioen. Hy het die nasionale ope Sondag met een hou gewen om ‘n wentjek van $255,000 (nagenoeg R4,4 miljoen) in sy sak te steek.

Dit is Lawrence se derde oorwinning in die Europese DP World-reeks nadat hy verlede jaar ook die Joburg-Ope en in Augustus vanjaar die Europese Meesterstoernooi in Switserland gewen het.

BOKS

Die 30-jarige Johannesburgse swaargewig-bokser Kevin Lerena het Saterdagaand sy wêreldtitel-geveg teen die verdedigende kampioen Daniel Dubois verloor.

Dit was Lerena se derde nederlaag in 31 gevegte as ‘n beroepsbokser.

Dubois het in die Tottenham Hotspur-stadion in Londen vir Lerena met ’n tegniese uitklophou in die derde ronde verslaan om sy Wêreldboksvereniging “gewone” swaargewigtitel te behou.

Die Suid-Afrikaner sal nou eers weer op die wenpad moet kom voor hy weer ’n titelkans sal kry.

Derek Chisora (38) het op dieselfde byeenkoms teen Tyson Fury waarskynlik die einde van sy loopbaan bereik.

Fury het sy Britse landgenoot met ’n tegniese uitklophou in die tiende ronde platgeslaan om sy titel as die Wêreldboksraad se swaargewigkampioen te behou.

Chisora, wat ná 46 gevegte in die beroeps-kryt 33 gewen het, gaan nou sekerlik ná ‘n uiters eensydige geveg sy boks-handskoene wegpak.

Leave a Reply