Skip to main content

Ons tande bestaan uit emalje – die buitenste laag wat hoofsaaklik uit minerale bestaan – asook dentien en senuwees en mense spandeer in die algemeen slegs 40-50 sekondes op ‘n keer om hul tande te borsel terwyl tandartse ‘n goeie 120 sekondes vir hierdie belangrike taak aanbeveel.

Maar wag … inligting oor tande is nie so vervelig soos wat jy dink nie.

Die Romeine het tandepasta gemaak van fyngemaakte eierdoppe en heuning. Alhoewel tandepasta soos ons dit vandag ken reeds in 1908 die lig gesien het – dit het 30 jare geneem om dit te vervolmaak – het die borsel-maat eers drie dekades later sy verskyning gemaak. Ek wonder hoe die gebruikers die tandepasta toegepas het sonder ‘n borsel…

Chinese tandeborsels was oorspronklik van die hare van dassies, varke en perde gemaak.

Die Egiptenare was genadelose tandartse. Mummies wys dat los tande sommer met goue draad in lewende mense se monde vasgemaak is.

Maar dis nie so erg soos die Middeleeuse Duitsers se geloof vir tandpyn nie: hulle het geglo as hulle ‘n donkie soen, dit die pyn sou laat verdwyn.

George Washington se gebit was nie van hout soos bespiegel is nie. Inteendeel, sy tande was van ‘n mengsel van seekoei-, donkie- en menstande asook lood, ivoor en goud gemaak.

Tandeflos is nie net geskik om tussen jou tande skoon te maak nie. Dit kan ook as ‘n ontsnappingsmiddel gebruik word. Vra maar vir ‘n tronkvoël wat in 1994 oor ‘n muur uit ‘n VSA tronk ontsnap het deur ‘n tou daarmee te vleg.

Ons tande, in watter vorm ookal, huisves meer as 300 verskillende soorte bakterieë. Iets wat ek nooit gaan vergeet wanneer iemand ‘n gesig nader bring vir ‘n lekker (tong)soen nie…

Onsigbare kieme kan vanuit jou toilet tot op jou tandeborsel beland. Bêre dit eerder minstens sewe voet van die toilet af, of iewers in ‘n laai.

Ek hoop julle het die inligting geniet. Ek gaan nou eers my tandeborsel wegskuif van die toilet af.

Leave a Reply