Skip to main content

Spinasie, die groente wat ‘n ‘slegte reputasie’ vanweë ‘n 1928 spotprent gekry het, is eintlik een van die gesondste groentes wat mens kan kry.

Daar is drie soorte spinasie: die Platblaar, wat gladde, traanvormige blare het, en dan die Savoy en Semi-Savoy, wat beide geriffelde blare en ‘n sterker geur het.

Hierdie ongewilde groente is propvol yster, dieetvesel, B-vitamiene, Vitamien A, C, K en E, magnesium en kalsium. Alles wat goed is vir jou immuunstelsel.

Spinasie moet so vars as moontlik gepluk en geëet word aangesien dit daagliks voedingstowwe verloor sodra dit gepluk is. Na ‘n week in jou yskas kan dit reeds 50% minder ‘gesondheid’ bevat.

Daar is ‘n manier om die verlies te voorkom: vries dit terwyl dit nog vars is.

Spinasie kan honger en drange na ongesonde kos verminder.

Iets wat ons nie geweet het, en hopelik nooit hoef te toets nie, is dat spinasie se nitroreduktase-ensieme plofstof neutraliseer. Dit ‘eet, verteer en transformeer’ TNT aangesien die reaktiewe effek die plofstof verander in onskadelike produkte soos koolstofdioksied en water. Ons sal egter nie aanraai dat jy hierdie bevinding toets nie.

Wat ons wel sal voorstel, is dat jy hierdie heerlike spinasie-resep probeer:

Suurlemoen roerbraai-spinasie

Voorbereiding 5 min.

Kook 5 min.

Totaal 10 min.

Maak 4 porsies

Resep:

2 eetlepels olyfolie

2 tot 3 knoffelhuisies, in dun skywe gesny

Skil van ‘n halwe suurlemoen

8 tot 10 koppies spinasieblare

Ruim knippie seesout

Knippie fyngedrukte rooipepervlokkies/poeier (opsioneel)

Aanwysings:

Gooi die olyfolie, knoffel en die suurlemoenskil in ‘n wye pan en sit jou stoofplaat op ‘n matige hitte. Roer dit heel tyd totdat die olie om die knoffel borrel. Dit sal sowat 30 sekondes neem.

Gooi die spinasieblare in die pan en voeg ‘n ruim knippie sout by.

Wag vir ongeveer 30 sekondes of totdat die onderste laag blare in die pan begin verlep lyk.

Roer dan die blare goed en hou so aan totdat al die blare gaar is. Maak seker dat al die blare ‘n beurt kry om onder in die pan te beland.

Sodra jou spinasie heldergroen (en heeltemal verlep) vertoon, verwyder die pan van die stoof en sit voor met ‘n ekstra knippie sout by.

As jy ‘n effense byt in jou kos verkies, voeg nou jou rooipepervlokkies/poeier by.

Leave a Reply