Skip to main content

Almal is nou gerat vir die feesseisoen, en alhoewel sommiges kerm oor die kersliedere wat oral in winkelsentrums uitgebasuin word, is die meeste mense opgewonde oor ‘n welkome breek na ‘n jaar se harde werk.

As dit wel so was dat Kersvader inderdaad – nes in die kinderstories – al die kersgeskenke in die wêreld op Oukersaand moes aflewer, sou dit beteken dat hy teen 1046km/sekonde moes beweeg om 822 huise/sekonde te besoek. Dit sal dan beteken dat hy binne geen land se spoedgrense bly nie.

Dit laat ‘n hele paar gedagtes van onwettige bedrywighede aangaande dié rooi-oorpak-man posvat…

Volgens Dirk Lotriet en Niekie van den Berg van Die Waarheid kán die volgende heel moontlik op ‘n klagstaat teen die blitsige ou verskyn:

  • Hy oortree beslis die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting want hy hou kinders regdeur die jaar in die geheim dop
  • Hy maak ouers medepligtig aan emosionele afpersing. (Klink ‘as jy soet is sal Kersvader vir jou ‘n mooi geskenk bring’ bekend?)
  • Hy bedryf ‘n bedrieglike skema waar kinders vir hom briewe moet skryf na ‘n adres wat nie werklik bestaan nie, en meeste van die kere kry kinders nie die geskenke waarvoor hulle gevra het nie
  • Hy is die rede dat daar soveel nabootsers van homself is, maar Dirk en Niekie meen dat dit net gedoen word om die geheime polisie op ‘n dwaalspoor te bring sodat hulle nie die ware glyjakkals vastrek nie
  • Hy reis regoor die wêreld sonder enige paspoorte of visums en betree dus lande onwettig
  • Hy voldoen nie aan BEE-vereistes nie
  • Hy voldoen nie aan lugvaartwetgewing nie – wanneer laas is sy slee gediens, en is dit toegerus met die nuuste navigasiestelsels?
  • Hy is ‘n slegte voorbeeld wat gesondheid betref
  • Hy bedryf ‘n maatskappy wat nie geregistreer is nie en betaal dus nie belasting nie
  • Hy ag homself verhewe bo die wet
  • Hy voeldoen nie aan immigrasie of valutabeheer nie
  • Hy betree mense se eiendomme onwettig
  • Sy slee is oorlaai, wat dui op dieremishandeling
  • Een van sy rendiere is beslis siek (die rooi neus een)
  • Hy skend mense se regte op privaatheid
  • Sy elfies werk sonder betaling en behoort nie aan ‘n vakbond nie
  • Dirk en Niekie reken hy is betrokke by die Phala Phala skandaal
  • Sy EFF uniform is nie toevallig nie…

Hier volg ‘n paar ander interessanthede omtrent die feesseisoen:

Die klein vrugtepasteitjies wat ons deesdae eet was in die Victoriaanse tyd met beesvleis gevul.

Kersliedere, wat nie in kerke gesing is tot dit deur St Francis van Assisi in die 13de eeu bekendgestel is nie, was oorspronklik gesing om mense se bure ‘n lang lewe toe te wens.

Europa is die voorloper vir kersbome kweek. Hulle kweek ongeveer 60 miljoen ‘n jaar.

Die wêreld se hoogste Kersboom wat ‘n enorme 221 voet die lug in gestrek het is in 1950 in ‘n Washington winkelsentrum opgerig.

Die immergewilde liedjie Jingle Bells was eers onder die titel One Horse Open Sleigh gesing.

Hierdie volgende ‘interessantheid’ laat my maag effe draai: voordat kalkoene as die tradisionele vleis by kersetes in Engeland ingesluit is, was hul tafels versier met ‘n varkkop wat met mosterd gegeur was.

Grieke vier Kersdag op 7 Januarie, en hulle maak hul geskenke op Nuwejaarsdag oop.

Het jy geweet dat jy ‘n regte kersboom, ‘n denneboom, kan eet? Die ‘naalde’ is eintlik ‘n goeie bron van vitamien C.

Leave a Reply