Amanda Doman
Teen die tyd van die jaar is die meerderheid Suid-Afrikaners moeg gewerk en reg vir vakansie hou. Al waarop daar nou gefokus word, is die naderende Kersseisoen en wenslysies wat geesdriftig deur oud en jonk voltooi word.
Oorwerktes se hoofitem op hul lysie is heel waarskynlik iets soos die musiekgroep Die Heuwels Fantasties se liedjie, Pille vir Kersfees, propageer. Maar, waar gaan koop Suid-Afrikaners deesdae hul medisyne?
Die JSE-genoteerde apteekgroep Dis-Chem het gedurende Oktober ‘n herrie onder wit Suid-Afrikaners veroorsaak toe hulle ‘n moratorium op die aanstelling van wit personeel geplaas het. ‘n Brief, gedateer 19 September 2022, wat deur die uitvoerende hoof van Dis-Chem, Ivan Salzman, onderteken is, het basies gelui dat daar volgens die maatskappy se personeelbeleid te min swart werknemers teenoor wittes was en dat geen aanstellings en bevorderings van wit personeel mag plaasvind nie.
Hierdie brief het ‘n ongelukkigheid onder veral wit Suid-Afrikaners ontketen en heftige teenkanting ontlok. Skielik het “medisynekopers” besef dat daar ‘n baie groter speelveld daar buite is as net Dis-Chem se gepakte gange. Mense is van oral aangemoedig om hul plaaslike gemeenskapsapteke te begin ondersteun om sodoende hul ongelukkigheid met die stand van sake bekend te maak.
Na ‘n gesprek met ‘n apteker by een van die Van Heerden Familie Apteke, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het sy bevestig dat daar by al die apteke wat deel van hul groep vorm, ‘n daadwerklike verhoging in kliëntgetalle was. Sy het ook verder genoem dat die getalle oor die laaste bietjie meer as ‘n maand vandat die Dis-Chem debakel begin het, nie getaan het nie, maar eerder konstant gebly of selfs by sommige apteke verder gestyg het.
Etlike kliënte by verskeie apteke aan wie Die Waarheid die vraag gestel het of hul voorheen Dis-Chem kliënte was en of hul na die debakel van apteke verwissel het, het positief geantwoord. Die algemene gevoel is dat hul bereid is om duurder by gemeenskapsateke te betaal eerder as om Dis-Chem verder te ondersteun. Dit was veral die ouer kliënte wat sterk gevoel het oor die skuif na gemeenskapsapteke. Daar was wel mense wat nie bereid was om die skuif te maak nie.
By ‘n volgepakte apteek in Randparkrif aan die Wes-Rand was personeel kort na die uitlek van die brief behoorlik uitasem gewerk. Volgens ‘n apteker het sy die apteek nog nooit so besig gesien nie. Verreweg die meeste van die rye mense was daar om hulle voorskrifte van die Dischem-tak verder in die straat oor te plaas.
Hoe dit ookal sy, of mense nou genoop voel om van apteek te verwissel of nie, Dis-Chem se rasdebakel het die trollie geskud. Net tyd sal leer of die geskud mense permanent van die apteek sal vervreem.