Skip to main content

Akteurspaar Kaz McFadden en Lara Lourens van Pretoria en hul brakke Cash en Twiggy spring beurtkrag tuis vry.

Sonnette Lombaard

Bloubulhartland. Die Pretoriase Moot, ‘n heerlike mengsel-woongebied, is deesdae om meer as net sy breë strate en bome, groot erwe en gesinsvriendelike atmosfeer gewild. Dis een van die minder plekke in die land waar genoeg inwoners nié weet hoe voel beurtkrag aan eie lyf nie – langer as ‘n dekade nadat dit ons ander se lewens begin versuur het.

Die Moot het nie net meer as een hospitaal wat alvolgens ‘n nasionale lys met strategiese punte beurtkrag vryspring nie, maar Pretoria is die woonplek van ministers en regeringslui en ambassades wie se inwoners ook onder die gelukkige duiwels tel wat nie beurtkrag beleef nie.

Boonop is Capital Park, ‘n groot woongebied in die Moot, ook die netwerkhoofaar van waar die Tshwane Metro se Departement Elektrisiteit sorg dat die stad Pretoria bly funksioneer en word ook van beurtkrag vrygeskeld.

Op die nuutste nasionale lys van strategiese punte landwyd waar krag ten alle tye moet aanbly, is daar tans 72 hospitale gelys. Die Minister van Gesondheid, dr. Joe Phaahla, het in Oktober gesê dat nog 35 hospitale op dié lys gevoeg is. Voorts word tans dringend gepoog om in samewerking met Eskom op die kort- na medium-termyn gesondheidsentrums in die Noord-Kaap en Noordwes daarby te voeg.

Van die 72 hospitale tans gelys, is net een in die Noord-Kaap en geen in Noordwes nie, wyl 17 in Gauteng, 15 in KwaZulu-Natal, 14 in die Vrystaat, 10 in Limpopo, sewe in die Oos-Kaap, en vier elk in Mpumalanga en die Wes-Kaap beurtkragvry is. Dis moeilik om onmiddellik alle hospitale en noodsaaklike gesondheidsentra vry te skeld weens tegniese uitdagings – bestaande elektrisiteitstelsels waar dié geriewe geleë is, is nou verweef met dié wat die groter gebied bedien. Nuwe infrastruktuur om dít te onderskraag, sal sowat R100 miljoen kos.

Intussen steier die res van die land tuis en/of by die werk onder Eskom se al strenger toepassing van beurtkrag wat gereeld tot fase 6 strek. Dan is daar nog grootskaalse kabel- en koperdraaddiefstal en wye waterprobleme. Dat beurtkrag, wat die eerste keer in Suid-Afrika in 2007 toegepas is, gekom het om te bly, is vir die meederheid Suid-Afrikaners ‘n onlekker gegewe.

Die Waarheid het met van die gelukkiges gesels vir wie die begrip van daaglikse beurtkrag, wel, effe volksvreemd is.

Dis verwarrend, erken aktrise/regisseur Lara Lourens van Pretoria. Sy en haar liefie, akteur Kaz McFadden, tel onder diegene wat tuis nie beurtkrag ken nie. Hulle ervaar wel beurtkrag by die werk. By die PALI Incubation in Lynnwood lei en slyp hulle die volgende geslag akteurs.

Die akteurspaartjie het twee jaar gelede hul eerste huis saam gekoop in die kunsdorpie Clydesdale, neffens Loftus Versfeld. Gelukkig vir hulle, is dit omring van o.a. hospitale, ambassades en die Presidensie is net ‘n klipgooi ver. “Dit voel effe vreemd. Ons klein woonbuurt het altyd krag, maar ry jy ‘n paar donker strate aan, is die ligte af.

“Dit gooi my so bietjie as ek op kantoor is en die krag gaan af, omdat ons is nie gewoond daaraan nie. Minstens weet ons nou dat ons in die regte area gekoop het,” lag Lara.

Twee straatbrakke wat na legendes vernoem is, Cash en Twiggy, deel die huis met hulle. Kaz kyk dus breër. “Ander mense sien dit as ‘n voordeel om nie beurtkrag te hê nie. Maar dis tog belangrik om te onthou: ons honde se nagvisie is as gevolg van vol krag, swakker as dié van brakke elders,” laat hy lakonies hoor.

‘n Ent verder, oor die koppies na die Moot se kant, is daar talle dele wat ook beurtkrag vryspring.

Hiervan wis veearts Laura Lopez goed. Sy en haar lewensmaat Alma Steyn, het tot onlangs in Capital Park gewoon waar geen beurtkrag was nie. Toe koop hulle ‘n nuwe blyplek in Sinoville, agter die berg in Pretoria se noorde waar daar beurtkrag is en dit boonop soms tot sewe ure lank af is. Maar eers het hulle tydelik in Rietondale/Riviera gebly waar daar ook nie beurtkrag was nie.

Dit is ‘n groot aanpassing, bieg Laura. “Hoewel ek by my werk in Onderstepoort aan beurtkrag blootgestel word, vereis dit nou tuis ook fyner beplanning. Gewone Suid-Afrikaners moet noodgedwonge na dese alternatiewe soos opwekkers ondersoek om tydens beurtkragfases te bly funksioneer.”

Volgens Laura is dit interessant dat slim eiendomsagente blitsig uit die blokke was om gebiede wat beurtkrag vrysping, rondom dié voordeel en gerief te bemark. Veral die feit dat dit minder veiligheidrisiko’s kan inhou.

Dis egter nie net stedelinge wat plek-plek landwyd onder die gelukkige beurtkrag-vryspringers tel nie. Jy vind hulle tot in die verre Namakwaland. Buks Potgieter, bestuurder van Forever Diamonds and Gold se uitgebreide mynbedrywighede op die noordelike Weskus, vertel dat die dorpies Koingnaas en Kleinzee onder die gebiede val wat nie beurtkrag beleef nie. Dis vanweë die lyne waarlangs die diamantmyne geleë is en dateer uit vroeëre ooreenkomste tussen mynmaatskappye en die regering omdat mynproduksie nie net summier onderbreek kan word nie.

Volgens Buks is dié twee dorpies sowat 70km uitmekaar, met nagenoeg 3000 mense wat op Kleinzee woon en 1500 op Koingnaas. Verder aan loop die kontrei se hoofdorp Springbok wel onder beurtkrag deur, en moet die myn daar ‘n reuse-kragopwekker gebruik sodat bedrywighede nie terstond stop nie. “Dit verstom my dat ‘n afgeleë streek soos die Noord-Kaap, wat ook die grootste provinsie maar met die minste mense is, enigsins beurtkrag moet kry.”

Soos dit is, staan hulle hierdie tyd van die jaar bont weens vloede wanneer die Oranjerivier ná goeie reëns afkom. Dié rivier is kern vir Namakwaland se oorlewing. “Als is egter tans onder die water, en die pompe bly skuif. Die water raak ook op wat beteken dat ons tot ‘n week lank nie kan myn nie.”

Leave a Reply