Skip to main content

Sonnette Lombaard

Suid-Afrika is by ‘n keerpunt in sy geskiedenis en sonder uitreik en hande vat oor raslyne, is die Afrikanervolk se toekoms aan Afrika se suidpunt gedoem.

Só het die sakeman Louis Liebenberg gister gesê by ‘n byeenkoms in Midrand waar hy ‘n vol saal met vennote in sy maatskappy Forever Diamonds & Gold toegespreek het.

’n Vurige Liebenberg het by die gehoor gepleit om die ware chaotiese toedrag van sake in die land betyds in die oë te kyk. “Eskom is R400 miljard in die rooi. Die land is bankrot.” Dit terwyl 54% Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef en die grootskaalse bedrog op regeringsvlakke voortwoed met die ANC wat stemme landwyd koop en tot R70 000 daarvoor sal betaal.

“Hoewel die Boerevolk dit nog altyd moeilik vind om in vrede saam met mekaar te leef, kan die Afrikaners soos in die verlede weer ‘n kernrol speel in die oplossings en reddingsaksie vir ons land met die oog op oorlewing en ‘n vreedsame voortbestaan hier. Ongelukkig oorheers selfsug en eie belange tans en baklei ons onder mekaar, het hy gesê.

Volgens Liebenberg is dit sy opdrag van Bo en sy persoonlike droom reeds vanaf 2004 om versoening in ons land te help bewerkstellig. Daarom reik hy die laaste paar jaar al uit na onder meer oudpresident Jacob Zuma, die Zoeloekoning, asook die Namas. “Die tyd van rassisme en eng skeidslyne is verby. Hierdie is ons broers wat ons stryd as ‘n volk verstaan. Hulle wil met ons hande vat om saam oplossings te soek en vorentoe te kyk.”

Hy beskou die ANC-veteraan Carl Niehaus wat ook gister gepraat het, as ‘n vriend en ‘n broer in hierdie oorleefstryd. “Praatjies dat ek aan die ANC uitverkoop het, is snert. Ek is en bly hartstogtelik ‘n Boer wat my volk lief het en hulle belange altyd eerste sal stel. Ek baklei dan daadwerklik vir die Boervolk en hulle toekoms.”

Daar is ook nie die luukse van tyd in die Suid-Afrika van vandag nie, want “ons is bitter naby aan ‘n oorlog en bloedbad”. Intussen bedrieg en belieg die landsleiers ons en is die amptelike opposisie, die Demokratiese Party, ook korrup. Op ‘n wyer front skep en kweek regerings wêreldwyd ‘n klimaat van vrees waarbinne gewone landburgers vandag moet probeer aanbeur.

Liebenberg, wat hoop om in 2024 tot die politiek toe te tree, sê een van sy sterk punte is sy oop ingesteldheid teenoor alle mense, die vermoë om na ander sieninge en standpunte te luister en begrip daarvoor te hê.

“Ons het weggedwaal van God. Gesien ons geskiedenis, moet die Boer soos die Bybel juis vir ons leer, nederig die eerste tree gee en na die Ngunis en die Namas uitreik en hande vat, om mekaar te versterk vir oorlewing en in die bedinging van ‘n beter uitkoms vir almal.”

Liebenberg het betoog dat indien dit nie gebeur nie, sal die middelklas vinnig verdwyn, al hoe meer besighede sink en staatskuld ons oorval en verswelg. Die oplossing lê in ons land se ryk minerale skat. “Tans trek net ‘n klein groepie bevoorregtes, oftewel die superrykes, voordeel daaruit. Intussen is daar algehele agterguitgang en verval en selfs polisse bied nie meer veilige en voldoende versekering vir die ernstige krisisse wat die grootste meerderheid mense in ons land in die gesig staar nie.”

Dis die rede waarom sy maatskappy sedert laas jaar 140 000 ha myngrond in Namakwaland bestuur en hoewel ontginning nog in ‘n beginstadium is, is die belofte blink. “Ons is oppad om 2,5 duisend karaat per dag uit al ons 24 permitte te myn.”

Liebenberg het ook verwys na die verwoede en aangehoue aanslag op hom deur die media, veral Media24 en die deurlopende vals beriggewing oor hom en sy sakebedrywighede sedert middel Oktober. Hy word as ‘n “monster” voorgehou en het erken dat dit seermaak, veral omdat sy uitlewing van sy sterk geloofsoortuigings as Christen ook bevraagteken word.

Hy het toegegee dat dit die maatskappy en sy vennote skade berokken het en ‘n nuwe bestuurstrategie vereis. Dit het ongelukkig ‘n groot aantal getroue vennote verwar en tydelik ontspoor. Die goeie nuus is egter dat die omdraai reeds begin het en die daaglikse inkope in die diamantpakkies nou weer flink optel.

Nog goeie nuus is dat die maatskappy vanaf 15 Desember weer begin om pakkies uit te betaal sodat die vennote Kersfees saam met hulle geliefdes kan vier.

One Comment

Leave a Reply