Skip to main content

’n 67 jarige boer van die Bethlehem-distrik in die Vrystaat is Sondag gewelddadig deur aanvallers aangerand en in ’n varkhok op sy plaas vir die dood gelos.

Sakkie Bell van die plaas Fairview het ernstige beserings aan sy kop, lyf en bene opgedoen en is in die hok gevind waar sy hande met draad vasgebind was.

Volgens ao. Mmako Mophiring, polisiewoorvoerder, het die aanvallers glo die oggend toegeslaan en vir Sakkie onkant betrap.

“Die slagoffer se verloofde het die plaaslike polisiestasie gebel nadat sy gesien het die deur het oopgestaan toe sy om 11:00 die oggend by die huis aangekom het. Sy het na haar man geroep, maar geen antwoord gekry nie. Sy het onraad begin vermoed toe sy ammunisie op die grond sien rondlê het. Sy het ook opgelet dat ’n geweer en ’n pistool uit die kluis vermis was,” sê Mophiring.

Volgens Mophiring was die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) eerste op die toneel en hulle het vir Sakkie op die werf in die varkhok aangetref.

“Die slagoffer is na die plaaslike hospitaal geneem en met verdere ondersoek het sy verloofde ook agtergekom dat Sakkie se selfoon, huissleutels, motor en skoene ook gesteel is.”

’n Saak van huisbraak en poging tot moord word ondersoek.

Leave a Reply