Dankbaar-vir-my-hond-dag is ‘n redelike nuwe viering. Hierdie dag is in 2020 geskep om mense te herinner dat honde nie net oppassers is nie.
Honde, watter ras of kruising ookal, se onmiskende lojaliteit maak ‘n groot deel van hul karakters uit. So ook hul onomwonde liefde, wat vir enige mens opbeurend is.
Hierdie vierpotiges val onder die klas Caniformia, wat ook muishonde, bere, wasbere en jakkalse insluit.
Daar word geglo dat honde waarskynlik aasdiere was en mense gevolg het omdat hulle geweet het dat die mense vir hulle bene sou gooi nadat laasgenoemde self geëet het. In ruil vir die bene het die honde die mense begin beskerm. Dié wilde honde het met elke nuwe generasie, wat oor 12 000 jaar strek, al makker geword totdat hulle deel van gesinne – as troeteldiere en beskermers – geword het.
Vandag maak honde ‘n integrale deel van diere-ondersteunende terapie uit waar hulle mense met angs, depressie of ander fisiese en geestelike gesondheidsprobleme bystaan.
Daar is wel lande wat honde nie as bogenoemde beskou nie, maar oor hulle wil ek nie berig nie.
Gee jul hond ‘n ekstra lekker bederfie vandag. Nét om te wys hoe lief julle hulle het.