Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die gebore Boeremeisie van Benoni en nou Hollywoord-superster Charlize Theron se verwysing op Yank-TV na haar moedertaal as vinnig aan’t uitsterwe en van min belang, het Afrikaanssprekendes hoogs de josie in.

Haar gewraakte woorde dat net 44 mense nog Afrikaans praat, het soos ‘n veldbrand van die Hoëveld na die platteland versprei – selfs CNN het daaroor berig en die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad genoop om Charlize te berispe oor haar “onrusbarende” opmerkings. Want 17 miljoen Suid-Afrikaners praat Afrikaans en as die derde mees geprate taal, is 60% gebruikers swart!

Niks nuut egter nie, want Benoni se Bom het lankal uitverkoop en verraai haar moedertaal en geboorteland sedert sy roem oorkant geproe het, skandelik maklik.

Trots Afrikaans is nie moeilik nie, al is jy ‘n oelala-aktreez met ‘n Yank-paspoort in beroemde heuwels doer vêr. Dis immers een van net vier tale wat saam met Hindi, Katalan en Maleisies in die 20ste eeu volledig taalwetenskaplik ontwikkel het. Vatso! As ‘n Brakpan-boorling, buurdorp van Benoni, die nederige geboorteplek van ons Hollywood-superster, wis ek eerstehands.

Een Boeremeisie van die Oos-Rand ontsyfer ‘n ander een tjoeftjaf. Nie ál Hollywood se klatergoud kan Oos-Randse mynstof-gene verkleur nie – dit kom saam met die domein. Wat waar is, is dat Charlize lankal die pad gevat en gekies het (haar reg) om VER van die reënboognasie haar pot goud te soek. Sy het dit raakgeboor, en pryk sedertdien in pas met die moderne mensdom se grenslose beheptheid met glans en goud, as bevoorregte lid van celebville. In BBP-styl, ag sy haarself nou verhewe bo, wel, my en jou.

‘n Hollywood-blondine met gravitas wie dikwels haar minagting vir haar nederige wortels uithang. Gits nee, om in private stralers na Cannes en wyer te rits en vanuit jou bederfte tuisparadys en gemaksone jou as politiek korrekte propagandaprofeet uit te stal, is soos Jesus Bono en Kie té oppervlakkig-deursigtig (gaap, gaap). Toegegee, tekenend van die siek samelewing met die groterwordende kloof tussen ryk en arm, baljaar jy in die boonste blink, speel jy in ‘n liga wat die meeste ander drommels nooit beskore is nie. Wat lol, is hoe KAN ‘n stinkryk rolprenster, met min na geen kommer aan eie lyf, haar wil vereenselwig met die daaglikse bitterswaar op Moeder Aarde? Helaas nie eens in jou wildste, duur Dior-drome nie, Charly! Wyl jy skouers skuur in jou sexy ontwerp-pakkies op uithangtedoes, is jy bitter VER verwyderd van Afrika en jou eks vaderland se oorlewingstryde!

Ja, ons bereis die selfvoldane 21ste eeu met die selfie-fiksasie tot die werlikheidstelevisie-sirkus. ‘n HOL samelewing met kits-alles, insluitende roem, nou die grootste versugting van menssiele. Bultende ego’s laat die millennium-mensdom gedienstig wentel en ‘n spekvetbeurs koop deesdae vir jou ‘n eksklusiewe reis na die buitenste ruim.

Gelukkige duiwels – nie ons plat-op-die-Aarde Sanne en Janne beskore nie! Het jy die dikste beurs van almal, lei jy, ala Elon, sommer die epiese droom om aanstons na die Maan terug te keer en vandaar die afgewagte grense na Mars aan te verskuif! Dis binne diė milieu wat ons “onse” (oeps!) Charlize en haar glanskader doer anderkant moet beoordeel en seker vergewe. Bankbalanse verwyderd van die regte lewe se werklikheid! Die tekens was vroeg daar. Benoni se stof was nog aan haar hakke toe sy met haar, let wel, looks Hollywoodroem getref het. Dis gedokumenteerd hoe vinnig sy haar bloesie sou oopknoop in Boystown.

Sy was ewe flink op haar kas oor Suid-Afrika en haar eertydse volksgenote. Vanaf haar vroegste onderhoude op die kassie-seepkas verwys sy graag gemanikuurd neerhalend na haar wortelland en sy mense – selfs dat ons glo nie Kersfees hier onder die Afrikason ken of vier nie (jip!) tot dat sy op ‘n plaas grootgeword het pleks van die beskeie Benoni-hoewe. Blablabla.

Nouja, van die Oos-Randse hoewe na Hollywood se heuwels is ‘n lange reis, so geniet jou smuk genot en gerief, Charlize. Jy het mos vooraf beloof dat wen jy die Oscar vir Monster (2003), jy ‘n paar woorde in jou bedankingstoespraak in jou moedertaal sou besig. Met die gesogte goue beeldjie in jou hande, is jy toe tjoepstil oor jou patriotiese (HA!) belofte. Tydens die skiet van Southern Sun se advertensie in jou eens tuisland is gegons oor jou diva-maniertjies.

Soos die deel in jou kontrak dat die ander akteurs op stel jou nie in die oë mag kyk nie. Bid jou aan! Seker hoe Hollywood se goue stof verre pelgrims toor. Barry Ronge het my vertel hoe jy dit pes as Suid-Afrikaners jou herehuis in Lalaland wil sien of jou wil ontmoet.

Als jou prerogatief nou as Yank- en hip wêreldburger, Ms Charlize. Maar spoel jy jou vuil mond grootbekkig oor ons patriotiste agterblyers en oor ons geliefde moedertaal uit, kry asb. eers jou feite agtermekaar. Jy kan mense betaal om dit tjop-tjop (sorrie, jerky-jerky) vir jou te doen.

Verder as dit, hang ek nie aan jou verskietende sterretjie nie. Charlize Therron het lankal geseil. Beweeg aan, mense!

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!