Skip to main content

Isaac Cloete

Aartappels, wat deesdae so duur is, het die week behoorlik op arm gemeenskappies gereën.

‘n Interlink-trok met honderde sakkies aartappels vanaf Leopoldtville het die naweek op die dorpie Komaggas naby Springbok aangekom. Honderde mense het toe opgedaag om die welkome manna te ontvang.

Dit was afkomstig van boere soos Johan De Waal en twee van sy vriende, Buks Toerien en ene Hermien, wat ook mede-groenteboere is. Plekke soos Springbok, Matjieskoof, Hondeklipbaai, Soebatsfontein, Spoegrivier en Buffelsrivier het van die groente ontvang.

Beukes Potgieter, ‘n inwoner op Springbok, het die verspreiding van die groente help koördineer.

“Dit is nog ‘n manier om die verhouding tussen die witman en Nama te verstewig. Dis beter om saam te werk en hande te vat as om hare te kloof.”

Volgens Beukes was daar ongeveer 3 500 sakkies aartappels, 1 000 butternuts en 500 sakkies patats. Die waarde hiervan is oor die R250 000.

Een van die ontvangers van die groente, ‘n 68-jarige oompie van Komaggas was baie aangedaan en dankbaar oor die skenking.

“Daar moet ‘n verhouding wees tussen die Nama en die witman. En as die houding reg is, sal die verhouding ook reg wees.”

De Waal het gesê dat die video’s op sosiale media oor die swaarkry van dié Namakwalanders hom geraak het. Hulle het toe koppe bymekaar gesit en die groente geskenk, het hy vertel.

Hy het belowe dat hulle weer so gou as moontlik so ‘n plan sal maak om die mense se nood te help verlig.

“Ons het ontdek dat baie mense hier sonder kos sit en van hulle werkloos is. Ons is vennote in die Forever Diamonds and Gold maatskappy en dit is ons bydrae.”

Beukes het sy dankbaarheid teenoor die drie boere uitgespreek. Hy ten slotte vertel dat hierdie boere “harte van goud” het. Hy het ‘n beroep op andere gedoen om ook sulke skenkings te maak.

“Ons moet ons harte oopmaak en net ‘n bietjie gee. Ons moet lewe en laat leef, want almal van ons is in ‘n ekonomiese stryd gewikkel. Ons moet egter na mekaar kyk met ons harte en nie na kleur nie.”

Ook raadslid Amos Polori van Komaggas was baie in sy noppies met die skenking. Volgens hom was dit ‘n baie goeie daad aan die gemeenskappie wat so sukkel. Polori het die gemeenskap se waardering teenoor die boere uitgespreek.

* In Augustus het die Buffelsrivier-gemeenskap ook pakke vleis vanaf die MAFISA-mymaatskappy ontvang.

Die vleishampers was ter waarde van R103 600-00. Dit het bestaan uit beesvleis- en hoenderpakke. Ongeveer 400 huishoudings het toe voordeel getrek volgens Polori.

Leave a Reply

error: Content is protected !!