Skip to main content

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Wes-Kaap het saam met ander wetstoepassingsagentskappe onder die vaandel van die Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (ProvJoints) ‘n streng waarskuwing uitgereik na aanleiding van verspreide boodskappe oor ‘n taxistaking wat vir volgende Maandag en Dinsdag beplan word. Die waarskuwing is gerig aan diegene wat dalk van plan is om gewelddadige optrede en ontwrigtings tydens die taxi-staking aan te pak wat ‘n impak op die lewens van pendelaars, ander vervoeroperateurs en motoriste in die Stad Kaapstad-distrik kan hê.

Die geïntegreerde wetstoepassingsagentskappe bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag in afwagting van talle pendelaars wat weens die taxi-staking gestrand gelaat sal word en daarvolgens ander maniere van vervoer sal gebruik.

Openbare Orde Polisie (POP), onderskeie polisiestasie en wetstoepassings-eenhede, die Stad Kaapstad se metropolisie, wetstoepassingsbeamptes, verkeersdienste en sekuriteitsmaatskappye sal by strategiese posisies ontplooi word vir spoedige en gekoördineerde reaksies. ’n Groep speurders sal byderhand wees om enige geopende sake te ondersoek.

‘n Pleidooi word hiermee gerig aan diegene wat beplan om aan die staking deel te neem om binne die grense van die wet op te tree. Wetstoepassingsagentskappe sal nie huiwer om beslissende stappe te neem teen diegene wat die wet oortree en die regte van ander skend nie.

Die polisie sal van Maandagoggend af ‘n wakende oog hou oor alle groot roetes en geïdentifiseerde brandpunte binne die Stad Kaapstad-distrik.

Pendelaars en vervoeroperateurs wat ontwrigting ervaar word versoek om die SAPD te kontak by 021 4660011 of die Stad Kaapstad se noodnommer 107 alternatiewelik 021 480 7700

Leave a Reply