Skip to main content

Tientalle mense is dood en honderde beseer toe Indonesië se hoofeiland Java gister deur ‘n aardbewing geruk is.

Die aardbewing het ‘n sterkte van 5,6 gehad, met sy episentrum geleë in die Cianjur-streek in die weste van die eiland, het die Verenigde State se Geologiese Opname (USGS) gesê.

Die skuddings het groot verwoesting in die gebied veroorsaak, met die woordvoerder van die plaaslike administrasie in die dorp Cianjur wat aan AFP gesê het dat “daar dosyne mense dood is”.

“Honderde, selfs dalk duisende, huise is beskadig. Tot dusver is 44 mense dood,” het die amptenaar bygevoeg.

Die hoof van Cianjur se administrasie, Herman Suherman, het vroeër aan Metro TV vertel van ‘n paar dosyn sterftes en ten minste 300 mense wat beseer is, met die meeste van hulle in die hospitaal opgeneem met “frakture omdat hulle vasgevang is deur die ruïnes van geboue”.

Die dorp en distrik Cianjur, wat ‘n geskatte bevolking van byna 175 000 mense het, is sowat 120-kilometer suidoos van Indonesië se hoofstad, Jakarta, geleë.

Die skudding van die aardbewing is ook in Jakarta gevoel, maar daar was tot dusver geen berigte van sterftes of skade in die hoofstad nie.

Die land se meteorologiese agentskap het inwoners gewaarsku dat “daar moontlike naskokke kan wees” en het ‘n beroep op huisbewoners gedoen om voorlopig nie na hul huise terug te keer nie.

Indonesië, geleë langs die sogenaamde ‘Pacific Ring of Fire’ – waar verskeie tektoniese plate ontmoet en wat lei tot die meerderheid van die wêreld se vulkane en aardbewings – is geen vreemdeling vir dodelike aardbewings nie.

’n Aardbewing van 6.2 op die Richterskaal het die land se Sulawesi-eiland in Januarie verlede jaar getref en meer as 100 mense gedood en duisende huise vernietig.

Leave a Reply