Isaac Cloete
Nog drie digtende vroue het hulle onderskei van vele ander skrywers.
Hulle gedigte is opgeneem in ‘n digbundel, Woordenaars, saamgestel onder die bekwame leiding van die befaamde Elias P. Nel en uitgegee deur Naledi-uitgewers. Die drie Namakwalandse digters, Elize Willems, Shanell Brandt en Edwina MacDonald, se gedigte pronk nou in hierdie digbundel.
Woordenaars was op 5 November by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland & Vlaandere te Pinelands, Kaapstad, bekendgestel.
Brandt van Nababeep is ‘n voltydse maatskaplike werker wat haar honneurs- en meestersgraad by die universiteit van Stellenbosch, verwerf het. Sy is tans besig met haar doktorale (PhD) studie by die universiteit van Wes-Kaap. Haar passie is maatskaplike werk en die liefde vir haar medemens.
Digkuns het haar altyd na aan die hart gelê. Sy het gesê: “Ek leef my uit in woorde en in my skryfwerk probeer ek stem gee aan die kwesbare persoon. Ek het veral ‘n groot liefde vir die eiesoortige Namakwalandse streekstaal. Hierin kan ek my ten beste uitdruk.”
Edwina Mac Donald is woonagtig in Okiep. Reeds vanaf hoërskool het sy begin om gedigte te skryf. Haar droom was om “eendag” ‘n boek te publiseer. En nou het dit gebeur.
Sy het dit so verduidelik: “Ek het op Steinkopf Hoërskool gematrikuleer. Na skool het ek ‘n sertifikaat in skoonheidsorg verwerf. Ek het hierna die arbeidsmark betree en eindig in die geleentheidsbeplanningbedryf. Na tien jaar as werknemer het ek besluit om my eie onderneming te begin.”
Sy het verskeie kort besigheidskursusse voltooi om haarself as entrepreneur te bemagtig. Sy bedryf die Fairytale Decor and Hire Pty Ltd, ‘n dékor en spysenieringsbesigheid.
Haar boodskap is: “Dis nooit te laat om te studeer of om nuwe vaardighede aan te leer nie. Glo in jouself en werk hard om jou drome te laat realiseer. Met God aan jou kant is alle dinge moontlik.”
Elize Willems is die “veteraan” onder die drie en woon op Garies. Sy skryf al van 12-jarige ouderdom, net nadat haar mammie gesterf het. Op die wyse kon sy die pyn verwoord en later hanteer.
Willems, het al voorheen ‘n digbundel, “Die liefde in ink,” laat publiseer. Boonop is haar tweede bundel, Splinter jou Woorde, reeds geproeflees en gereed vir publikasie
“Ten spyte daarvan was die bekendsteling van die gesamentlike digbundel ‘n groot eer en voorreg vir my.”
Volgens Willems het alles verlede jaar in Worcester begin tydens ‘n weeklange skryfskool wat deur Nel aangebied was. Nes die ander twee is sy trots om saam met uitgelese digters deel te wees van hierdie bundel.
Nel het gesê dat die bundel ‘n mengsel is van uiteenlopende taalvariëteite. En dat elke Afrikaanssprekende dit behoort aan te skaf. Woordenaars is ook te koop en verkrygbaar by die drie digters.