Skip to main content

Sonnette Lombaard

‘n Tweede bloedbad binne twee jaar is afgeweer. Maak nie saak waar jy in die nasionale politieke kamp wei nie, die afgewagte uitspraak vandag in oudpresident Jacob Zuma se appèlaansoek in Bloemfontein is uit talle oorde verwelkom, veral as in die beste belang van die land.

Hoewel die volbank van die Hoogste hof van Appèl se vyf regters vandag bevind het dat oudpres. Zuma nie laas jaar op mediese parool vrygelaat moes gewees het nie, beteken die uitspraak nie dat hy nou na die selle moet terugkeer nie. Daar was wye vrese dat só ‘n besluit sou lei tot ‘n herhaling van die KZN-oproer in die winter van 2021 toe die land gebrand het nadat Zuma in hegtenis geneem is. Die onluste het toe vinnig na elders in die land uitkring en tot reuse-skade en lewensverliese gelei.

Die Departement van Korrektiewe Dienste het lverlede maand bekend gemaak dat oudpres. Zuma uit die korrektiewe stelsel vrygelaat is nadat sy vonnis van 15 maande gevangenisstraf op 7 Oktober verstryk het. Die 15 maande beteken dat sy straf effektief uitgedien is. Hy is in Junie 2021 deur die grondwethof tronk toe gestuur nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Oudpres. Zuma is ná net twee maande op mediese parool vrygelaat, maar die Pretoriase Hooggeregshof het in Desember 2021 bevind dat sy parool onregmatig is en dat hy terug moet gaan tronk toe. Hy het geappèlleer en die Appèlhof in Bloemfontein het tot vandag uitspraak voorbehou.

Intussen het oudpres. Zuma begin met sy eie regstryd om sy naam weer skoon te kry en om na die Suid-Afrikaanse politiek terug te kan keer. Sy privaatvervolging teen die staatsadvokaat Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan is ‘n deurbraak in ons regsgeskiedenis siende dit die eerste oudstaatshoof is wat sy grondwetlike regte as burger beskerm. Downer is die aanklaer in verskeie van die staat se sake teen Zuma en het na bewering onwettig private inligting oor Zuma se gesondheid aan Maughan gelek.

Prokureur Walter Niedinger, deel van oudpres. Zuma se regspan, het aan Die Waarheid gesê die hof het ‘n versigtige lyn gevolg met vandag se uitspraak. “Die toestaan van mediese parool aan hom is weliswaar uitgewys as onregmatig.

“Die hof was egter nie bereid om enige uitspraak te lewer oor die kwessie van parool en of dit deel moet vorm van oudpres. Zuma se straf van 15 maande wat hy reeds uitgedien het nie.

“Volgens my is dit straf wat uitgedien is en dit moet dus tel. As die hof bepaal die Kommissaris van Korrektiewe Dienste het hier die verkeerde besluit geneem, kan jy tog nie die slagoffer en beskuldigde daarvoor straf nie,” meen Niedinger.

“Die feit is oudpres. Zuma was in daai tyd ingeperk en as dít ‘n fout van die staat was, kan jy dit nie teen hom hou nie.

“Dis belangrik om te verstaan die hof het vandag nie oudpres. Zuma aan enigiets skuldig bevind nie, maar wel besluit die toestaan van sy parool in 2021 was verkeerd.”

Volgens Niedinger sal dit interessant wees om te sien hoe die Kommissaris van Korrektiewe Dienste gaan reageer en of hy nie net weer die hof se beslissing oor mediese parool nogeens in oudpres. Zuma se guns gaan uitoefen nie.

Die politieke analis prof. Andrė Duvenhage, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, bevestig daar was kernrisiko’s indien oudpres. Zuma weer vandag tronk toe gestuur sou wees. Dit kon die land weer blitsig in onluste dompel. “Die vorige onluste in 2021 ná sy arrestasie was ongetwyfeld die grootste geweld post-1994 in Suid-Afrika. Voorts moet in ag geneem word dat oudpres. Zuma al langer as ‘n dekade in die hof besig met sake is.”

Duvenhage wys daarop dat vandag se uitspraak wel negatief reflekteer op Arthur Fraser as die Kommissaris van Korrektiewe Dienste wie die paroolaansoek aan oudpres. Zuma toegestaan het. “Dit lei nou opnuut tot vrae oor sy motiewe teenoor pres. Cyril Ramaphosa en die Phala Phala-skandaal.

“Persoonlik dink ek nie Ramaphosa is onskuldig nie, eerder skuif hyself nou politieke prosesse om die verkiesing te kan wen. Die hof se bevinding dat Fraser onregmatig met Zuma se paroolaansoek opgetree het, gee egter ‘n wyer politieke kleur hieraan.”

Duvenhage meen nie dis in die ANC se belang dat oudpres. Zuma terug moet keer tronk toe nie. “Dit sou ook verreikende implikasies op die hofsaak hê. Dis jammer dat ons politici se hofsake hulle landgenote bekommerd laat oor die regbank se status in ons groter demokrasie.”

Leave a Reply