Skip to main content

Foto: Ondersteuners van Katar se nasionale span verlaat die openingswedstryd tussen die gasheer en Ecuador in die tweede helfte nog voordat die kragmeting met 2-0 in die Suid-Amerikaners se guns beslis is. Foto: Twitter / @FifaWorldCup

Kobie Cilliers

‘n Redelike bisarre sportweek is met die sing die volksliedere voor Saterdag se rugbytoets tussen Suid-Afrika en Italië goed opgesom. Die Italianers se “Il Canto degli Italiani” is deur ‘n sanger in ‘n volwaardige aandpak (ja, ‘n genuine tuxedo) gesing, terwyl die Kaapse gebore sangeres en aktrise Nicole Magolie se dralende, trekkerige en uitgerekte weergawe van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” talle Springbok-ondersteuners laat skaamkry het.

Voordat ons die naweek se aksie in oënskou neem, kom ons erken ook net die volgende feit: rugby staan voor ‘n kruispad weens ‘n reuse, ingewikkelde reëlboek wat homself blootstel aan interpretasie, en dus skeidsregters wat sukkel om daardie reëlboek met bestendigheid toe te pas.

Wêreldrugby, die sport se beheerliggaam, loop tans vanweë sy versuim om bogenoemde probleem aan te spreek, die byna onvermydelike risiko dat die kampioen van volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk deur omstrede skeidsregter-beslissings bepaal sal word, eerder as die span wat deurlopend die beste vertoon en egte wenrugby speel.

SOKKER

Sokker se Wêreldbeker-toernooi het Sondag in Katar onder ‘n geweldige groot wolk van omstredenheid met ‘n Groep A-wedstryd tussen die gasheerland en Ecuador afgeskop.

Was daar al voorheen enige sportbyeenkoms wat deur soveel drama en ontevredenheid voorafgegaan is?

Katar is die eerste Midde-Oosterse land wat die toernooi aanbied, maar talle mense bevraagteken Fifa se besluit om Katar as gasheer aan te wys weens die land se behandeling van trekarbeiders, sy beperkende maatskaplike wette, sy behandeling van vroue en die feit dat homoseksualiteit daar teen die wet is. Katar se verdagte rekord wat menseregte betref, het ook tot ’n beroep op spanne en beamptes vanuit verskeie oorde gelei om die toernooi te boikot.

Dan was daar selfs gerugte dat Katar se sokkerbeamptes hul teenstanders vir die openingswedstryd probeer omkoop het om die wedstryd te beknoei.

Moet ook nie van die drama oor die verkoop van alkohol vergeet nie. Bier is verlede Vrydag, twee dae voor die begin van die sokkerskouspel, op die versoek van die Katarse koninklike gesin in al agt stadions verbied. Dit nadat die organiseerders van die toernooi voorheen gesê het hulle wil drank “toeganklik” vir toeskouers maak en dat Katar selfs bereid is om alkohol teen laer pryse te verkoop.

Bierverkope sal tot goedgekeurde ondersteunersparke en tot sekere tye beperk word. Binne die stadions sal alkohol, wat ander drank soos wyn en spiritualieë insluit, egter in losies beskikbaar wees, maar die koste van ’n suite vir ’n enkele wedstryd begin by $22 450 (R389 000).

Maar die sage oor die trekarbeiders, wat betrek is om die stadions te bou en infrastruktuur vir die toernooi op te knap, is waarskynlik die grootste kwessie.

Hierdie mense is grotendeels van Indië, Bangladesj, Nepal en die Filippyne af “ingevoer”. Hulle het in haglike omstandighede en uiterste hitte gewerk en na raming is honderde op konstruksieterreine dood. Al is lig op hul lot gewerp, het dit geensins ’n noemenswaardige verbetering aan hul aaklige werkstoestande gebring nie.

Wat die openingswedstryd betref was Katar met 2-0 deur sy Suid-Amerikaanse teenstander geklop. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die toernooi wat die gasheer sy eerste kragmeting verloor. Selfs Suid-Afrika se sukkelende Bafana Bafana het in 2010, toe die sokkerskouspel op tuisbodem aangebied is, ‘n gelykopuitslag teen Mexiko behaal.

Ons sal moet wag en sien of die aksie op die veld sal sorg dat al die omstredenheid rondom die toernooi mettertyd vergeet sal word. Die kans is groot dat sokkerondersteuners dalk reeds voor die einde van die eerste week so verdiep in die toernooi sal wees dat hulle hul nie juis meer oor enige maatskaplike kwessies sal bekommer nie.

FORMULE EEN

Die vraag op almal se lippe voor Sondag se laaste F1-Grand Prix van die seisoen in Abu Dhabi was of Max Verstappen sy spanmaat, Sergio Perez, van hulp sou wees om die tweede plek in die wêreldkampioenskap te beklink.

Die 25-jarige Nederlander het die vorige naweek in die voorlaaste wedren van die seisoen op die Interlagos-baan in Brasilië geweier om die sesde plek aan Perez af te staan – tot groot ontsteltenis van sy spanmaat en Red Bull-ondersteuners.

Red Bull, die vervaardigerskampioen, het nog nooit ’n seisoen met sy renjaers eerste en tweede afgesluit nie.

Verstappen het sy tweede F1-titel reeds verlede maand in Japan beklink en het dus niks gehad om te wen of verloor nie, maar Perez was steeds in ’n stryd met Charles Leclerc van Ferrari om die tweede plek op die punteleer gewikkel.

Die Fransman Leclerc en Meksikaan Pérez was voor die begin van die Grand Prix in Abu Dhabi gesamentlik in die tweede plek met 290 punte elk en die wedren in die woestynstad sou dus bepaal wie tree as naaswenner uit die stryd.

Verstappen, wat in die aanloop tot Sondag se Grand Prix gekla het dat sy gesin aanlyn gedreig en sleggesê word nadat hy in Brasilië spanbevele verontagsaam het, het die wedren uiteindelik inderdaad gewen.

Hy het van die begin tot die einde die wedren oorheers, maar was nie in staat om sy spanmaat te help om die algehele tweede plek te beklink nie.

Leclerc was takties beter as Perez. Sy strategie om net een keer vir nuwe bande te stop – teenoor Perez wat twee keer vir vars rubber in die kuipe gaan kuier het – was onsuksesvol. Leclerc het dus die tweede plek in die wêreldkampioenskap beklink en verseker dat sy Ferrari-span ook die tweede plek in die vervaardigerskampioenskap behaal.

RUGBY

Rassie Erasmus, die direkteur van rugby van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), se skorsing in die aanloop tot die Bokke se derde toets op sy toer in Europa teen Italië, was ongetwyfeld die grootste besprekingspunt voor Saterdag se kragmeting in Genua.

Wêreldrugby het Erasmus oor sy twiets ná die verloortoets teen Frankryk in Marseille vir die tweede keer binne ‘n jaar geskors en hom verbied om verlede naweek se toets teen die Italianers en komende Saterdag se een teen Engeland op Twickenham by te woon.

Wêreldrugby was erg omgekrap nadat Erasmus hom tot Twitter gewend het om op ‘n sarkastiese wyse en die gebruik van videogrepe die Engelse skeidsregter Wayne Barnes se foute in die toets teen Frankryk uit te wys.

“Wêreldrugby het die saak oorweeg en ’n verbod van twee wedstryde teen Rassie Erasmus uitgereik,” het die beheerliggaam Donderdagaand in ‘n verklaring gesê.

“Hy mag gevolglik nie aan enige wedstryddag-aktiwiteit deelneem met die twee komende toetse wat Suid-Afrika op 19 November 2022 teen Italië en op 26 November 2022 teen Engeland speel nie.

“Die verbod sluit in interaksie met die media en sosiale media met betrekking tot wedstrydbeamptes.

“Wedstrydbeamptes is die ruggraat van die sport en sonder hulle is daar geen spel nie. Ons veroordeel enige openbare kritiek op skeidsregters ten sterkste.

“Die gedrag van afrigtingspersoneel en wedstrydbeamptes word wyd waargeneem deur aanhangers, media en deelnemers op elke vlak, en sulke gedrag beïnvloed hoe die waardes oor die hele spel toegepas word.”

Suid-Afrika se toets teen Ierland in Dublin op 5 November was Erasmus se eerste een terug in ’n stadion nadat hy ’n lang skorsing uitgedien het oor ’n video wat hy ná die eerste toets tussen die Bokke en Britse en Ierse Leeus van die Australiese blaser Nic Berry gemaak het.

Die Fransman Joël Jutge, Wêreldrugby se baas van skeidsregters, was ook uiters ontevrede met Erasmus se twiets en het hom veroordeel omdat hy nie Wêreldrugby se amptelike kanale van kommunikasie gevolg het nie.

“Dit is teenproduktief en totaal onvanpas. Maar as hy dit doen, is dit omdat sy beheerliggaam hom magtig om dit te doen. Dis jammer …” het Jutge met ‘n hou in die rigting van Saru gesê.

“Sy houding is ’n bron van kommer vir Wêreldrugby en teenstrydig met ons waardes, selfs al word hierdie woord (waardes) soms te veel gebruik.

“Erasmus dien nie sy saak nie en dit is verstommend om te sien hoe hy so voortgaan.”

Skeidsregters, volgens Wêreldrugby “die ruggraat van die spel”, is nie immuun teen foute nie, maar genugtig hulle is onbestendig, om dit sagkuns te stel. En die rugbypubliek moet dit eenvoudig net aanvaar?

Erasmus en sy plasings op Twitter is slegs ‘n simptoom van die groter probleem: ‘n rugby-reëlboek wat gans en al te ingewikkeld is en heeltemal te veel spasie laat vir interpretasie. Skeidsregters gaan swak en wisselvallige vertonings lewer so lank as wat hierdie kwessie nie aangespreek word nie.

Ek stem saam dat die wyse waarop Erasmus te werk gegaan het om sy punt te maak, geen nuwe vriende vir die Bok-span gewen het nie. Maar hy het beslis die aandag van voor af op die kwessie gevestig. So bly nou stil, verfyn daardie wedstrydplan en wen, wen, wen.

Die drama van die veld af het die Bokke egter skynbaar eenvoudig net aangespoor om ‘n Italiaanse span, wat ‘n week vantevore ‘n geskiedkundige oorwinning teen die Wallabies behaal het, met ‘n absoluut oorheersende vertoning in die tweede helfte van die veld af te speel.

Die eindtelling in Genua, op ‘n sokkerveld kleiner as ‘n normale rugbyveld, was 63-21 in die guns van die sogenaamde “vervelige en verbeeldinglose” Bokke.

Die Suid-Afrikaners het reeds verlede week teen die Franse tekens getoon van ‘n opwindender wedstrydplan met ‘n baie groter klem op hardlooprugby. Saterdag se toets teen die Azzuri het verskeie uitstekende drieë en puik aanvallende spel deur die Bokke opgelewer.

Die Bokke, met ‘n agterste driehoek van Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Cheslin Kolbe aan die spits, was kookwater.

‘n Geweldige sterk “Bomb Squad” het ook ‘n massiewe impak gemaak toe die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, kort ná rustyd sy plaasvervangers die een na die ander op die veld begin stuur het. Eben Etzebeth, Cobus Reinach, Manie Libbok, Steven Kitshoff en Kwagga Smith was van die impakspelers wat uitgetroon het.

Die Bokke se nege drieë, waarvan sewe in die tweede helfte gedruk is, help om die teleurstelling van die voorafgaande naelskraapse nederlae teen die twee voorste spanne ter wêreld, Ierland en Frankryk, te verlig. Dit sal die Bokke ook selfvertroue gee voor hulle laaste toets van die jaar Saterdag teen Engeland op Twickenham.

* Engeland se plaasvervanger-stut Will Stuart se twee drieë laat in hul toets teen die All Blacks het hulle in staat gestel om ‘n onoortuigende gelykopuitslag met 25-25 af te dwing.

Die Nieu-Seelanders het by twee geleenthede in die kragmeting met 14 punte voorgeloop, maar die Engelse het danksy Stuart en die heelagter Freddie Steward drie drieë in die laaste nege minute gedruk om die span van ‘n nederlaag te red.

Die losskakel Marcus Smith het twee van daardie doodsnik-drieë verdoel om te help verseker dat die spanne slegs hul tweede gelykopuitslag in 43 toetse teen mekaar behaal. Die ander een was ‘n kragmeting op Twickenham in 1997 wat 26-26 geëindig het.

Dit was die eerste ontmoeting tussen die spanne sedert Engeland se oorwinning met 19-7 in die halfeinronde van die Wêreldtoernooi in Japan wat die All Blacks se heerskappy van agt jaar as wêreldkampioen beëindig het.

* Die Ierse senter Bundee Aki het met sy terugkeer van ‘n skorsing af ‘n vyfpunter behaal om sy span te help om Australië op die Lansdowne Road-stadion met 13-10 te klop.

Al moes die Iere klaarkom sonder hulle talisman en kaptein, Johnny Sexton, was dit hul 12de agtereenvolgende oorwinning op hul tuisveld in Dublin.

‘n Strafdoel laat in die wedstryd deur die losskakel Ross Byrne was die verskil tussen die twee spanne in ‘n dramatiese einde aan ‘n wedstryd vol foute.

Ierland is die eerste span sedert Engeland in 2002 om die All Blacks, Bokke en Wallabies almal in dieselfde jaar te klop.

Dit was die Aussies se derde naelskraap-nederlaag op ‘n streep nadat hulle vroeër vandeesmaand op hul Europese toer met ‘n punt deur Frankryk geklop is en ‘n geskiedkundige nederlaag teen die Italianers gely het.

* Argentinië se dissipline het hom lelik in die steek gelaat in sy nederlaag Saterdagaand met 29-52 teen Skotland op Murrayfield.

Die Poemas se wenkans is ‘n aansienlike knou toegedien nadat hul losvoorspeler Marcos Kremer reeds in die 22ste minuut met ’n rooi kaart van die veld af gestuur is. Die Argentyne het boonop in die tweede helfte drie geel kaarte gekry – twee hiervan binne 30 sekondes.

Met 12 spelers op die veld teen die Skotte, voor ’n vurige tuisskare, was die uitslag op die einde dus geen verrassing nie.

Darcy Graham se driekuns aan drieë het die aanvoorwerk gedoen vir Skotland se oorwinning.

Dit was egter die losskakel Finn Russell, wat aanvanklik uit die Skotse groep vir die jaareindtoetse weggelaat is, wat spel dikteer het.

Die Skotse oormag in die eerste helfte was te veel vir die Poemas en die voet is nie in die tweede 40 minute van die pedaal gehaal nie, met die tuisspan wat uiteindelik agt keer gaan druk het teenoor die besoekers se vier vyfpunters.

Russell was ook op dreef met sy stelskopwerk en het met ses suksesvolle doelskoppe geslaag.

TENNIS

Die eindstryd van die ATP-jaareindtoernooi, wat vir die eerste keer in die geskiedenis van die byeenkoms deur deur ‘n vroue-skeidsregter beheer is, was Sondagaand tussen Novak Djokovic en Casper Ruud beslis.

Djokovic het sy Noorweegse teenstander met 7-5, 6-3 geklop om die legendariese Roger Federer se rekord van ses titels in die jaareind-byeenkoms te ewenaar.

Die 35-jarige Serwiër het ook die oudste speler geword om die toernooi te wen.

Sy veldtog in Turyn, Italië, waar hy vir die duur van die toernooi nie ‘n enkele wedstryd verloor het nie, het boonop aan hom die grootste prysgeld in die geskiedenis van tennis besorg – $4 740 300 (byna $82 miljoen).

GHOLF

Rory McIlroy het Sondag vir die vierde keer in sy loopbaan die seisoen boaan die Europese DP World-ranglys afgesluit nadat hy op die Jumeirah-gholfbaan in Dubai gesamentlik vierde in die DP World Tour-gholfkampioenskap geëindig het.

Die 33-jarige Noord-Ier is slegs die tweede speler in die geskiedenis van die sport om die Europese “Road to Dubai”-titel en die Amerikaanse PGA-reeks se FedEx-beker in dieselfde seisoen te wen.

McIlroy het sy laaste ronde in 68 houe voltooi om die toernooi op -16 af te sluit, vier houe agter die wenner van die byeenkoms, Jon Rahm.

Bogenoemde Spanjaard het die toernooi vir die derde keer gewen ná oorwinnings in 2017 en 2019.

Daar is slegs vier dae tussen die einde van die DP World-reeks se 2022-seisoen en die begin van sy 2023-seisoen.

Die Fortinet Australiese PGA-kampioenskap op die Royal Queensland-baan in Brisbane en die Joburg Ope op die Houghton-baan in Johannesburg, begin albei Donderdag.

Leave a Reply