Novak Djokovic het by Roger Federer aangesluit as ‘n rekord sesmalige wenner van die ATP-eindstryd nadat die Serwiër die wêreldnommer vier Casper Ruud in Sondag se titelwedstryd by die seisoeneindstryd in Turyn verslaan het.
Nadat hy onoorwonne uit die rondomtalie-groepfase getree het en Taylor Fritz Saterdag in die halfeindronde verslaan het, het Djokovic weer gebruik gemaak van sy ervaring en ‘n bietjie skitterende tennis om die vasberadenheid van die 23-jarige Ruud te breek.
Djokovic het met 7-5 6-3 in die Pala Alpitour-arena geseëvier, wat aan hom ‘n bedrag van byna $4,75 miljoen as ‘n onoorwonne toernooikampioen besorg het.
Na ‘n paar uitmergelende wedstryde gedurende die week in Turyn – insluitend sy drie uur lange stryd teen die Rusland se Daniil Medvedef in die groepfase – het Djokovic merkbaar fisies gesukkel tydens die eerste stel teen Ruud en is gesien met sy hand wat bewe terwyl hy sy gesig afvee tydens ‘n oorskakeling.
Maar die 21-malige Grand Slam-kampioen het homself reggeruk en die deurbraak op die Ruud-diens in die 12de pot gemaak om die openingstel te wen, nadat hy drie vorige afbreekpuntgeleenthede afgeweer het.
Die Serwiër het verder die inisiatief in stel twee aangegryp toe hy Ruud se afslaan in dei vierde pot gebreek het.
Terwyl die titel by die ATP-eindstryd ‘n sesde was vir Djokovic, was dit sy eerste by die byeenkoms sedert 2015.
Dit beteken Djokovic (35) het die jaar in styl afgesluit, na ‘n seisoen wat begin het met sy onsmaaklike deportasie uit Australië, maar later die hoogtepunte van sy Wimbledon-oorwinning en ATP-titels by die Rome Masters, Tel Aviv en Astana ingesluit het.