SONJA BROWN
‘n Tekort aan beddens en nalatigheid het na bewering gelei tot ‘n pasiënt se dood in die Tembisa-hospitaal.
Die Tembisa-hospitaal gaan voort om siek en kwesbare mense toegang tot voldoende gesondheidsorgdienste te ontneem weens oorbevolking en ‘n gebrek aan beddens om pasiënte op te neem.
Verlede week, 8 November 2022, het Refiloe Nt’sekhe, die DA Gauteng Skaduminister vir Maatskaplike Ontwikkeling asook Burgemeesterkandidaat, ‘n telefoonoproep van ‘n woedende inwoner ontvang oor haar ouma, Sarah Dimakatso Ndou, van 67 jaar oud wat in die Tembisa-hospitaal opgeneem is.
Daar word beweer dat Gogo Ndou oornag in ‘n rolstoel by die ongevalle-eenheid gelaat is om te slaap. Haar familie het haar die volgende dag besoek en was geskok om te ontdek dat sy nog geen mediese bystand gekry het nie.
Deur Nt’sekhe se ingryping by die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Ralehoko, is Gogo Ndou uiteindelik ‘n bed toegeken. Die familie het Nt’sekhe egter meegedeel dat die hospitaal Ndou ontslaan het weens ‘n tekort aan beddens by die hospitaal al was sy sigbaar siek.
Verskeie pogings is aangewend om haar hertoelating te eis, maar dit het misluk.
Nt’sekhe het die hospitaal besoek om te bepaal hoekom die hospitaal nie die pasiënt kon akkommodeer nie en was geskok oor die oorvol situasie in die hospitaal.
Verskeie pasiënte kon nie in sale geakkommodeer word nie en was steeds in ongevalle; sommige vir langer as drie dae.
Gogo Ndou is intussen oorlede.
“Tembisa-hospitaal is in ‘n haglike toestand en benodig meer beddens om ons mense van voldoende gesondheidsorgdienste te kan voorsien.
“Hierdie hospitaal, in sy poging om die oorbevolkingsuitdaging aan te spreek, kan nie net summier pasiënte ontslaan wat gehospitaliseer moet word nie,” meen Nt’sekhe.
“Dit is dieselfde Tembisa-hospitaal wat ontbloot is omdat hy meer as R200 miljoen vir gesighanddoeke betaal het, leersitplekke gekoop het en meer as R2000 vir skinny jeans betaal het terwyl pasiënte nie genoeg beddens het nie.
“Ek sal aan die LUR skryf om te eis dat ‘n onmiddellike ondersoek gedoen moet word oor die omstandighede waaronder Gogo Ndou ontslaan is en om aanspreeklikheid te neem vir diegene wat haar verwaarloos en vroegtydig ontslaan het.
“Ek het nog altyd daarop aangedring dat die Kempton Park-hospitaal heropen word en sal voortgaan om dit te doen. Wanneer dit heropen word, sal dit die druk op die Tembisa-hospitaal verminder.
“Tembisa-inwoners kan nie voortgaan om getraumatiseer te word deur die herhalende vinnige dood van hul geliefdes nie,” sê Nt’sekhe.
Volgens Nt’sekhe ontneem vertragings met die heropening van die verlate Kempton Park-hospitaal nie net kwesbare inwoners van toegang tot gesondheidsorgdienste in hul omgewing nie, maar plaas ‘n erge druk op naburige fasiliteite soos die Tembisa-hospitaal.
Sy het voorheen kommer uitgespreek en deurlopend antwoorde geëis oor hoekom Kempton Park-hospitaal gesluit bly terwyl dit die druk op die Tembisa-hospitaal behoort te verlig.
“Daar is dalk nie genoeg fondse om die hele hospitaal te heropen nie, maar die Gautengse departement van gesondheid moet ‘n gefaseerde benadering gebruik om die hospitaal te heropen.”
Nt’sekhe het ook die departement versoek om die strukturele integriteitsverslag oor Kempton Park-hospitaal bekend te maak en dit is nog nie gedoen nie. Die departement het egter gereageer om te bevestig dat die hospitaal in 1978 gebou is en ‘n leeftyd van 100 jaar het.
“Die vertragings met die opknapping en heropening van die Kempton-hospitaal het gelei tot die oorbevolking by die Tembisa- en Edenvale-hospitale.
“Afgesien hiervan word Kempton Park-hospitaal na bewering vir kriminele en immorele aktiwiteite gebruik in plaas daarvan om opgeknap en heropen te word tot voordeel van inwoners wat dringend toegang tot gesondheidsorgdienste nodig het.
“Ek eis dat die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die heropening van die Kempton Park-hospitaal moet bespoedig. Tembisa- en Edenvale-hospitale hanteer nie die oorbevolking nie.
“Ek sal voortgaan om druk op die departement te plaas om die Kempton Park-hospitaal te heropen. Ons sal nie net sit en hierdie broodnodige fasiliteit soos hierdie hospitaal aan die hande van misdadigers en opportuniste oorlaat nie.”
“Die bevestiging van ‘n nuwe Kempton Park hospitaal is ‘n wrede leuen.
“Dit is roekeloos van die Gautengse departement van gesondheid en welstand LUR, Nomantu Nkomo-Ralehoko, om onbeskaamd voort te gaan om die vatbare inwoners van Kempton Park te mislei dat ‘n nuwe hospitaal gebou gaan word, maar daar is geen begroting en tydlyne nie.
“Die departement het verskeie kere belowe om hierdie nuwe Kempton Park-hospitaal met 300 beddens te bou; ons het egter nog nooit enige verbintenis in die vorm van ‘n amptelike tydlyn of begrotingstoewysing gesien nie.
“Sedert 2014 is daar besprekings dat die departement die ou hospitaal vir R1,5 miljard gaan sloop of dit vir R1,4 miljard gaan opknap.
“Tyd het verbygegaan en daar was geen aksie nie en die beloftes het nog nie gerealiseer nie.
Die DA eis dat LUR Nkomo-Ralehoko haar woorde in dade moet omsit deur ’n spesifieke tydlyn uit te wys oor wanneer haar departement die Kempton Park-hospitaal gaan begin opknap en waar die begroting vandaan sal kom.
“Die inwoners van Kempton Park en Tembisa is moeg vir hierdie leuens en leë beloftes. Hulle het nou sigbare optrede nodig om toegang tot voldoende gesondheidsorgdienste in hul omgewing te verkry,” sê Nt’sekhe.