Skip to main content

Sokkermal Duitsland omarm Amerikaanse voetbal

Terwyl Iran brand vir vroueberegtiging, wêreldvrede wankel en ekonomiese nood oraloor druk, het nog ‘n grensverskuiwende rewolusie aan die vooraand van die omstrede Wêreldsokkerbekertoernooi in Katar ‘stilweg’ op die sportveld afgespeel. Die Yanks se geliefde sport, voetbal, het in pas met ‘n soomlose millenniummensdom grense ver gaan verskuif, skryf Sonnette Lombaard.

Welkom in die mega-sportarena van die 21ste eeu waar trou gesweer word aan wie die meeste geld die vinnigste kan opdok vir, wel, eietydse sportdivas om waar ookal teen ‘n prys te presteer. Dat die vinnig-veranderde en migrerende millennium ook die sportwêreld op sy kop sou keer, was onvermydelik en kom ‘n lang pad. Hedendaagse sportsterre op alle vlakke is nié haaks om truie blitsig te verruil en op podiums ander volksliedere te sing nie. Die moderne mensdom ploeg immers diep met al wat lyk en ruik na heilige koeie van ouds. Eertydse, afgebakende nasietrots en patriotisme, en nederige sporthelde wat vooraf volbors ‘n volkslied eg kon uitpak en wie se sportglorie hul volksgenote ewe breëbors gehad het, het plek gemaak vir pronkende supersterre wat geld najaag en as deel van celebville kerjakker.

Sport as groot geldgenereerder is nou onlosmaaklik deel van die internasionale mega-vermaakarena met dollars die grenslose lingo. Die kuberruim se koms en global village het verder korte mette met eng sportgrense gemaak. Eens “volksvreemde” sportsoorte ding nou 24/7 mee om ‘n internasionale gehoor wat hulle na sitkamers in alle uithoeke van die Aardbol neem.

Voorts is die mensvlees welgedokumenteerd swak bestand teen roem en rykdom. Diegene wat dit weerstaan, is rare wesens. Tel twee van ons super-sportsterre in. Die swemhelde Roland Schoeman en Ryk Neethling het ná hul goudglorie by die Olimpiese Spele in Athene in 2004 ferm nee gesê om voortaan vir miljoene dollars vir Katar te swem. Al bly swem ‘n afskeepsport in Suid-Afrika en kon hulle steeds hier woon maar moes net vir dié skatrykland swem. Helaas daai één soet oomblik op die podium wanneer jou landvlag gehys en volkslied gespeel word, maak áls reg en die moeite werd, het waterpatriot Schoeman toe aan my verduidelik.

Die einste Katar met sy onuitputlike geldkoffers is nou weer in die nuus met die aftel na die skouspelagtige en peperduur opening van die Wêreldsokkerbeker wat Sondag in die hoofstad Doha afskop. Reeds met die toekenning van sokker se spogtoernooi agt jaar gelede aan Katar – die eerste Midde-Oosterse, Moslem- en Arabiese land om dit aan te bied – het die tonge geklap. Dit bly sentraal in die geldknoei-skandaal wat die gewese en omstrede Fifa-baas Sepp Blatter sy presidentsamp gekos het en gissinge oor omkopery en geldwassery in die kiesproses van Katar het nooit verdwyn nie. Intussen is die olieryke land en sporttoernooi dieper in die spervuur oor belangegroepe wat luid kapsie maak oor Katar se swak mensvergrype-rekord, soos die skandelike behandeling van migrantwerkers, asook die streng wette teen gays.

Elders waai sport se durende kruisbestuiwingswinde gunstiger en warrel wyer. Jy hoef nie meer na die VSA te reis om een van die Yanks se mees geliefde sportsoorte, voetbal, eerstehands te aanskou nie. Deesdae sit jy dit sommer op jou Europese besoeklysie in Duitsland, want dié gewilde Amerikaanse instelling het ook die sokkermal Duitsers oorrompel.

En nie sommer so-so nie – die groot kanonne is uitgebring, boonop in Duitse sokkerheiligdom. Geskiedenis is gemaak toe voetbal se lewende legende Tom Brady en sy Buccaneers-span laas Sondag in Munich se “sokkertempel” Allianz Arena uitgedraf het. Dit is die spogtuiste van die Duitse sokkertrots Bayern Munich. Brady en sy Bucs het ‘n kookwaterontvangs geniet en hul landgenote die Seahawks met 21-16 getroef.

Held Brady (45) wat reeds in sy 23ste NFL-seisoen speel, het agterna aan verslaggewers gesê die sokkermal Duitse skare se geesdrif vir voetbal en die “elektries-gelaaide” atmosfeer in die sokkerstadion het hul stoutse verwagtinge oortref. “Dit het hemels gevoel en is beslis ‘n hoogtepunt in my lang loopbaan.” Brady het daarmee ook die eerste agterspeler geword om ‘n NFL-wedstryd in drie lande buite die VSA te wen: Duitsland, Engeland (2 keer) en Mexiko. Wat op sigselwers bevestig hoe wyd sportsade deesdae saai en maai.

Amerikaanse voetbal is saam met bofbal, basketbal, yshokkie en sokker dié land se vyf top sportsoorte. Die Yanks se nasionale sport, bofbal, baljaar deesdae ook buite landsgrense. Londen het ná uiters suksesvolle proeflopies sedert 2019 pas ‘n langtermyn-vennootskap gesluit met die Amerikaanse Major League Baseball vir gereelde MLB-wedtryde in die Britse hoofstad in 2023, 2024 en 2026.

Londen se stadsvaders en sportbase wil daarmee die stad se leierstatus as internasionale sportmekka verder versterk. Presies wat Katar ook hoop gaan gebeur met sy groot kans wanneer hy nou die 22ste Wêreldsokkerbeker van 20 November tot 18 Desember aanbied. Sokker is die gewildste sportsoort op Moeder Aarde. ‘n Rekordgetal van 32 lande sal aan vanjaar se skouspel deelneem.

Dat Katar sy beste voet voor gaan sit is altemit. Veral ook om die omstrede wolk tans oor hom te verjaag en te wys waartoe die land en sy burgers in staat is wanneer die mensdom se oë vir bykans ‘n maand op jou gefikseer is. Katar het verklaar dat hy hoop die sokkerskouspel sal ook die kloof tussen die Westerse – en Arabiese wêreld verklein.

In die warm woestynland sal sokkertoeskouers vir die eerste keer wedstryde in lugverkoelde stadions geniet, wat tot  20 °C afgekoel gaan word. Meer as een miljoen besoekers sal na verwagting na Katar – ligginggewys die middelpunt van die Aarde – opruk. Suid-Afrika se nuwe Zoeloe-koning, MisuZulu, sal ook Sondag se opening in Doha bywoon.

Reeds in die oploop na die prestige toernooi word die gasheerland se erns verklap om voortaan deel te wees van die millennium-sportsirkus waar glans en groot geld met prestasie meeding. In die advertensie van Katar se nasionale lugredery vir dié sportskouspel sing die universeel-gewilde Britse rockgroep, Queen, hul reuse-treffer We will rock you. Sport en musiek span dus nogeens eietyds saam as grenslose brugbouers om ‘n nuwe tydsgees te verbeeld waar wêreldburgerskap help om die toon aan te gee.

Leave a Reply

error: Content is protected !!