Skip to main content

Korrespondent

’n Nes van korrupsie is oopgevlek in Newcastle met die gevolg dat agt amptenare ontslaan is – twee verkeersbeamptes en ses werknemers by die plaaslike bestuurlisensie-toetssentrum.

In die mees onlangse onthulling is twee beamptes werksaam by die verkeersdepartement afgedank nadat die KwaZulu-Natalse Departement van Transport bevind het dat hulle deur vragmotorbestuurders omgekoop is.

Die beamptes was werksaam by die inspektoraat vir padverkeer, en is reeds sedert 2018/19 onder verdenking vir omkopery.

Dit wil voorkom dat ’n lokval met behulp van gemerkte note uiteindelik gelei het tot die beamptes se ontslag.

Die department het gesê albei beamptes is betrap met geld wat bekom is deur misdaad te pleeg.

Dit word beweer dat die beamptes se modus operandi behels het om vragmotorbestuurders wat die wet oortree, van die pad af te trek en weer te laat gaan sodra ’n omkoopbedrag oorhandig is.

Die departement het gesê dat hul ondersoek afgehandel is, en dat die beamptes met ontslagkennisgewings bedien is in Oktober.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het intussen bygevoeg dat die saak reeds vroeër voor die hof gedien het, maar weens onbekende redes van die rol geskrap is.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die beamptes gearresteer is tydens afloop van hul ontslag.

’n Voortslepende ondersoek het ook daartoe gelei dat ses toetsbeamptes in die pad gesteek is.

Sover vasgestel kan word is dié netwerk van kullery, waardeur leerlingbestuurders ‘gehelp’ is om vinniger geholpe te raak, nog nie afgehandel nie en kan mede-korruptes by die getal afgedankte beamptes gevoeg word.

Dieselfde department wat die verkeersbeamptes ontslaan het, het gesê sommige leerlinglisensies is uitgevaardig aan buitelandse burgers. Dié lisensies is intussen teruggetrek.

Ook die ontslane toetsbeamptes is intussen gearresteer.

Volgens die departement volg dit op die arres van drie verdagtes in Hammarsdale naby Pinetown sowat ’n week gelede. Blykbaar het die verdagtes ’n suksesvolle ‘bedryf’ bestuur waardeur hulle aansoek gedoen het namens individue wat hul bestuurlisensies wil bekom.

Die gemak waarmee die Hammarsdale-verdagtes daarin geslaag het om deur ’n verkeersdepartement verder noord te werk, blyk nou as bevestiging vir die hoë vlak van korrupsie wat in Newcastle oopgekrap is.

Die provinsiale wetgewer se minister van transport, gemeenskapsveiligheid en skakeling, Sipho Hlomuka, het gesê sy departement sal korrupsie nie duld nie. “Verkeersbeamptes wat omkoopgeld aanvaar ondermyn die provinsie se pogings om die plaag van padsterftes op ons paaie te beveg, en is nie welkom in ons department nie.

“Die feit dat twee van hulle nou afgedank is, is bewys daarvan dat ons ernstig is om vrot appels in ons midde uit te roei,” het Hlomuka gesê.

Hy het verder klem gelê daarop dat vragmotorbestuurders wat dink hulle kan wegkom met omkopery, sekuur in die departement se visier is.

Hlomuka het benadruk dat die departement se eindelike doel is om padveiligheid in KwaZulu-Natal (KZN) te verbeter deur alle onetiese en onveilige gedrag wat die lewens van motoriste en wetsgehoorsame transportryers in gevaar stel, hok te slaan.

KZN is oor die afgelope paar weke geïdentifiseer as een van die gevaarlikstes provinsies in Suid-Afrika wat padverkeer betref. Op 16 September het ’n gru-ongeluk tussen ’n vragmotor en ’n bakkie naby Pongola die lewens van 19 kinders geëis. Twee volwasse insittendes is ook in die kop-aan-kop botsing oorlede.

Die bestuurder van die vragmotor het van die ongelukstoneel af weggehardloop, maar is later gearresteer.

Leave a Reply