Skip to main content

Die gesamentlike pogings van Interpol Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gelei tot die arrestasie van ‘n Israeliese bendeleier, wat vanaf 2015 op Interpol se radar was.

Die 46-jarige Israeliese bendeleier – verbonde aan ‘n kriminele organisasie in Israel genaamd die ‘Abergil Organisation’ – is saam met sewe ander by ‘n huis in Bryanston, Johannesburg, in hegtenis geneem.

“Die Israeliese bendeleier is vanaf 2015 op Interpol se Red Notice. Hy is ’n gesoekte verdagte in Israel vir sameswering om moord te pleeg en poging tot moord,” sê die SAPD in ’n verklaring.

Volgens Israeliese owerhede is die verdagte deel van ‘n berugte bende wat handel dryf in dwelms, mense afpers en ander kriminele aktiwiteite bedryf.

In 2003 en 2004 het die gesoekte verdagte na bewering in twee afsonderlike voorvalle plofstof onder ‘n voertuig van ‘n man in Israel geplaas. As gevolg van die eerste ontploffing het vyf mense ernstige beserings opgedoen, maar almal het wonderbaarlik oorleef.

In die tweede voorval het die verdagte ook probeer om dit weer met dieselfde slagoffer te doen, waar hy ‘n bom bo-op ‘n voertuig geplaas het. In dié voorval het drie mense ook ernstige beserings opgedoen.

In die vroeë oggend-klopjag het die span op ‘n geïdentifiseerde adres in Bryanston toegeslaan en die verdagte en sewe ander gevind. Die polisie het beslag gelê op vyf aanvalsgewere, sewe pistole, ‘n bedrag van $40 000 en drie vermoedelik gesteelde motorfietse.

Leave a Reply