Skip to main content

Dit lyk of die geeste van die berugte Kemptonpark Hospitaal uiteindelik hulle ewige rus gaan kry as dié spookplek binnekort gesloop gaan word.

Die Gautengse gesondheidsepartement het in ’n verklaring bevestig dat die hospitaal gesloop gaan word om plek te maak vir ’n nuwe een.

Volgens Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir gesondheid, is daar ’n nuwe hospitaal in die pyplyn.

Die Kempton Park Distrikshospitaal sal sowat 300 beddens bevat.

Die spook-hospitaal staan al vir meer as twee dekades leeg nadat dit onverklaarbaar leeggeloop het.

Volgens Kempton Express het die departement in die verlede dit oorweeg om die hopsitaal se deur weer oop te maak sodat dit die druk op ander hospitale in die omgewing kan verlig.

Inwoners wat naby die hospitaal woon, moes noodgedwonge gesondheidsdienste by hospitale soos die Spartankliniek, Birchleigh Noord-kliniek en die Birchleigh kliniek ontvang.

Volgens Tshepo Shawa, woordvoerder van die departement, is daar nog geen begroting vir die nuwe hospitaal wat hulle wil oprig nie.

“Die departement het intussen met die Gautengse Infrastruktuuragentskap (GIFA) geskakel om die departement by te staan met ’n befondsingsvoorlegging vir die slopery van die ou hospitaal en die bou van die nuwe een,” sê Shawa.

’n Kort geskiedenis van die Kempton Park Hospitaal:

Die Kempton Park Hopsitaal het in 1978 amptelik sy deure oopgemaak.

Dit was as een van die mees gevorderde mediese fasiliteite van sy tyd beskou.

In 1996 het die hospitaal onverklaarbaar sy deure gesuit. Duursame mediese toerusting, pasiënte se mediese dokumente en beddens is net so gelos.

Die departement het dit nie as ’n gesondheidsrisiko beskou nie en dit was ook te duur om te sloop of te restoureer.

Sedertdien is die hospitaal ‘n trekpleister vir spookjagters en mense wat lief is vir die paranormale.

Leave a Reply