Skip to main content

Korrespondent

As Suid-Afrika nie dringend ophou om water te mors nie, selfs al reën dit en is die damme vol, gaan ons teen 2025 saam met lande soos Libanon, Sirië, Afghanistan, Burkina Faso en Niger onder die wêreld se top 10 lande tel met die minste per-kapita beskikbare water.

Dit beteken dat Suid-Afrika van eksterne bronne afhanklik sal moet word om drinkwater by sy vinnig-groeiende bevolking te kry, sê Abrey Nxumalo van Rand Water.

Volgens die waterverskaffer se pyplyn-batebestuurder, kom dit daarop neer dat tensy waterbesparing dringend geprioritiseer word, Suid-Afrika dalk oor drie jaar moet begin kyk daarna om water in te voer.

Tydens ’n aanbieding by die Johannesburg Chamber of Commerce and Industry, het Nxumalo gesê dat infrastruktuur Rand Water se mees kommerwekkende tekortkoming is.

Sowat 6% se water word verloor voordat dit by primêre kliënte uitkom – munisipaliteite en groot industriële verbruikers soos Sasol en die staalvervaardiger, Arcelor Mittal.

Dié syfer is egter ’n druppel aan die emmer in vergelyking met die munisipale vermorsing wat geskied by rade soos Emfuleni (die Vaaldriehoek), ironies geleë op die oewer van die Vaalrivier, Gauteng se grootste waterhulpbron.

Volgens Nxumalo word 35-40% oor die algemeen vermors deur munisipaliteite wat eenvoudig nie daartoe in staat is om waterbestuur suksesvol toe te pas nie.

Somtyds skiet dié syfer die hoogtes in, ver oor die 50% het hy gesê.

Dis een van die redes hoekom Rand Water dit oorweeg om verskaffing aan vermorsers soos Emfuleni in te kort.

Volgens data wat gebruik is ter stawing van Nxumalo se argument, was Suid-Afrika in die vorige eeu ’n land wat waterstres gehad het.

Te min is egter gedoen deur die regering om die situasie te beredder, en vandag is Suid-Afrika water-skaars – ’n onbenydenswaardige posisie wat onlangs bevestig is deur Mariette Lieferink, hoof uitvoerende beampte van die Federasie vir Volhoubare Ontwikkeling.

Nxumalo sê egter dat dit nie net kwynende en onvoldoende infrastruktuur is wat tot waterverknorsing ly nie.

Suid-Afrikaners oor die algemeen wil eenvoudig nie aanvaar dat die land waterprobleme het nie.

Hy sê dis slegs deur ’n ander ingesteldheid te kweek dat mense sal ophou om onbesonne op te tree deur tuine nat te spuit wanneer dit snikheet warm is en swembaddens vol te maak waaruit water verdamp.

Hy’t onder meer genoem dat die 13 miljoen+ verbruikers na wie water toe gepomp word regoor Gauteng, meer as twee keer die globale gemiddeld elke dag gebruik.

Onder ‘normale’ omstandighede word slegs sowat 100-120 liter per dag per individu gebruik.

In Suid-Afrika is dié syfer dikwels sowat 310 liter per dag.

Dit beteken dat Rand Water omtrent 4 300 megaliter per dag vir eindverbruikers moet pomp, ’n syfer wat dikwels opskiet na 4 900 megaliter per dag.

Nxumalo sê as verbruik aanhou teen die huidige pas sal Rand Water infrastruktuur moet aanpas om te versien aan die tipe onvolhoubare verbruik wat Suid-Afrika teen 2025 baie duur te staan kom kom.

Tans beoog die verskaffer om meer as R28 200 miljoen oor die volgende vyf jaar aan infrastruktuur te spandeer, ’n bedrag wat ver tekort skiet aan wat benodig word om Gauteng se waterstelsel op te knap.

Navorsing deur die Wêreldbank het bevind dat Suid-Afrika in die geheel sowat $2 biljoen benodig vir sy varswater infrastruktuur, waarvan die meeste broodnodig in Gauteng spandeer moet word.

Leave a Reply