Skip to main content

Die meeste Springbok-ondersteuners is vol moed vir Saterdag se toets teen Italië. Maar Niekie van den Berg is bekommerd…

Dis vandag net mooi 21 jaar gelede wat Suid-Afrika teen Italië in Genua gespeel het. Die Springbokke het die Italianers op die Stadio Luigi Ferraris totaal oordonder. Dit was maklik. Joost van der Westhuisen het sommer in die eerste minuut deurgedraf vir ‘n drie onder die pale. Die eindtelling was Suid-Afrika 54 en Italië 26. Ek onthou dit soos gister. Ek was daar. Kommentator vir die Radio.

Suid-Afrika en Italië het nie ‘n roemryke rubygeskiedenis as teenstanders nie. Die eerste kragmeting is eers in 1995 op die Stadio Olimpico in Rome beslis. Die Italianers se pizza is sommer vinnig omgedop met ‘n telling van 40-21.

Ons kan dalk vandag maklik weggevoer word omdat ons in die verlede so maklik gewen het. Suid-Afrika se grootste toetsoorwinning was hoeka teen Italië. Die slagveld was Kingspark in Durban in 1999. Honderd-en-een punte teenoor nul. Dit was ook Italië se grootste nederlaag ooit.

Gelukkig is ons geheues mos maar gerieflikheidshalwe bitter kort. Die rekordboeke sê: 15 wedstryde is gespeel; S.A wen 14, S.A. verloor een.

Genugtig! Een verloor? Jip. Ons onthou net wat ons wil. Op 19 November 2016 het die bykans ondenkbare gebeur. In die kultuurstad Florence kry die Italianers bykans die onmoontlike reg. Hulle laat die Springbokke aan droë pasta wurg met 20-18.

Wat môre betref is ek maar aan die sku kant wat enige voorspellings betref. Ek dink ek het rede daarvoor. Tot dusver het dit regtig nie so goed gegaan met die Springbokke op hulle Europese Wintertoer nie. Twee keer gespeel en twee keer verloor. Eers teen Ierland en toe teen Frankryk. Geen maar nie. Jammer. Oor vyf jaar sê die rekordboeke ons het verloor. Doef. Kil. Koud. Rekordboeke steur hulle nie aan sentiment en maars nie. Net kil feite.

Om die toer te red moet Suid-Afrika môre teen Italië wen. Uit en gedaan. Maklik gaan dit nie wees nie. Ek wil my nie uitlaat oor die Springbokke se spankeuse nie. Al wat ek weet is dat as jy gekies word vir ‘n toerspan is jy goed genoeg om onder alle omstandighede jou staal teen enige span te wys. Sjoes en klaar. Net een versoek van my kant af. Speel asseblief tog net slim rugby. Dink. Dink. Dink voor jy skop.

My kommer oor môre word ondersteun deur die feit dat Italië deur die loop van die jaar al beter begin vertoon het. Hy is nie meer net die oulike klein bambino met die krulkoppie van langsaan nie.  Vroeër vanjaar, tydens Februarie en Maart, het Italië nie te waffers teen Frankryk, Engeland, Ierland en Skotland gevaar nie. Toegegee, dis vooraanstaande spanne. Op 19 Maart kom daar ‘n draaipunt toe Italië Wallis met 22-21 klop. Dis min maar dit is wen. Dit hou nie daar op nie. Twee Suidelike Halfrondspanne volg: Samoa en Australië. Dit is veral laasgenoemde oorwinning wat vir my ‘n belangrike rigtingaanduider is. Iets het met Italiaanse rugby gebeur.

Om my punt te beklemtoon dat Italië nie net maar nog ‘n melkkoei van wêreldrugby is nie. Onthou julle hoe die Bulle in die die eerste wedstryd teen Benetton afgeslag is?

Italië se klubspanne pluk nou ook die vrugte vanweë hul deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskappe. Italië het losgebreek uit isolasie en sy groter blootstelling aan Suidelike Halfrondrugby gaan grotes laat skrik.

Voor ek vergeet: Suid-Afrika moet maar katvoet loop met die dissipline. Italië skop nie sommer mis nie. Dan weet ons nie eintlik wie vir die Springbokke gaan skop nie. Moggetroffe.

One Comment

Leave a Reply