Skip to main content

Ambisieuse Artemis-sendings mik na menskolonies doer bo

Presies ‘n halfeeu nadat die mens die laaste keer op die Maan geland het, is die planne om daarheen terug te keer amptelik onderweg ná die suksesvolle lansering gister van die kragtige Artemis I-ruimtevuurpyl. Dit skakel die ratte daadwerklik oor na permanente Maaninwoners, ook as halfwegstasie vir die epiese menstog na Mars waarin Afrikane ook fluks presteer. Sonnette Lombaard berig.

Die drang om grense oor te steek en te verskuif is so oud soos die mensdom self. Dit vuur ook vooruitgang aan. Geen grensverskuiwing in die moderne tyd was so afgewag nie as die Yanks se Maanlanding in Junie 1969. Gister is die mens se langverwagte terugkeer na die Maan ná 50 jaar ewe kragtig afgeskop met die lansering van die onbemande Artemis I-vuurpyl as toetssending om binne twee jaar weer mense op die Maan te hê – dié keer boonop permanent. En binne tien ure ná lansering het dit asemrowende foto’s van ons blou planeet teruggesein – die eerste keer sedert 1972 dat ‘n ruimtetuig wat mense sal vervoer, die Aarde van doer bo vasvang.

Die Maanlandings bly die verste reis wat die mens nog buite Moeder Aarde aangepak het, en slegs 12 mense het as ruimtevaarders die voorreg gehad om op die Maan te kon loop. Dit gaan vermeerder wyl die volgende groot grens reeds aanloklik wink, want die mens sal hopelik in die volgende dekade ook op Mars debuteer.

Hiervoor sal die maansendings ’n “toetsbed” wees vir nuwe tegnologie in die strewe om selfonderhoudende menskolonies in die buitenste ruim te vestig. Dit sal ook ‘n halfwegstasie wees na die misterieuse rooi planeet, wat die mens tydloos fassineer. Die Aarde en Maan is ongeveer ewe ver vanaf Mars en ‘n Marssending kan tussen vyf en tien maande duur! Ondanks die uitgebreide satelliet-navorsing se inzoem op Mars vir langer as ‘n halfeeu, bly dit ‘n onbekende, ongetemde en onvriendelike landskap minus water met ekstreme temperature en dodelike kosmiese strale.

As enigste nasie wat nog voete op Maangrond neergesit het, het die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa se Apollo-sendings tussen 1969-1972 ses keer die Maan suksesvol besoek. Dis opgevolg met die multi-nasionale Internasionale Ruimtestasie (ISS) wat Sondag sy 24ste bestaansjaar vier en vanwaar ruimteverkenning steeds voortgesit word. Dis ook waarby die volgende geslag, nuwerwetse en herbruikbare pendeltuie vanuit die VSA op 135 sendings tussen 1981-2011 kon dok. Nasa het sy vyf pendeltuie daarna onttrek en beplan sedertdien in samewerking met die geld en inisiatief van die private sektor se ruimtepioniers soos Elon Musk om teen 2024 na die Maan terug te keer. Vandaar sal die geskiedkundige Marssending binne ‘n dekade aangedurf word.

Verdere verkenning van die buitenste ruim en veral na die enigmatiese rooi planeet Mars as ‘n nedersetting is vanaf die 1940s op die tafel, maar dié grootse droom het eers teen die 21ste eeu skerper in visier gekom. Nasa stuur wel sedert die middel 1960s onbemande vaartuie soos Viking, Phoenix en Curiosity na Mars vir deurbraaknavorsing oor die moontlikheid om in die geharde Marsomgewing te kan oorleef. Dit hou die ruimtevaartkunde se droom oor menskolonies op Mars lewend. Een van die Marssendingpioniers was die Namibiese boorling dr. Japie van Zyl. Hy het gehelp met die Ingenuity-helikoptertuig wat kort ná sy ontydige dood in 2021 op die rooi planeet ontplooi is.

Nasa se ambisieuse Artemis-program lei die komplekse Maansendings. Artemis is die tweelingsuster van Apollo, die Maangodin in die Griekse mitologie. Die eerste tree na die groot hoop om mense na Mars te stuur, is gister afgetel toe Nasa sy kragtigtse vuurpyl nog van Cape Canaveral in Florida die ruimte ingeblaas het. Die lansering het ook die gemoderniseerde en toekomsgerigte Kennedy-ruimtestasie afgewys. Verligting was hoorbaar toe die peperduur Artemis I-vuurpyl suksesvol gelanseer is nadat dit drie keer weens tegniese probleme uitgestel is. Nou is dit fluks op pad en sal sy Orion-kapsule oor ses dae sowat 96km van die Maan wees. Die onbemande vuurpyl, opvolgsendings sal ruimtevaarders aan boord hê, gaan om die Maan wentel vir voorbereiding om daarheen terug te keer. Daar is 16 kameras aan boord. Orion sal op 11 Desember in die Stille Oseaan neerstort.

Sedert die Apollo-maansendings het die ruimte-speelveld aansienlik verander. Teen die agtergrond van die destydse Koue Oorlog en Ystergordyn het die peperduur ruimteresies aanvanklik tussen die twee groot en ryk moondhede, die VSA en Rusland, gewoed. Deesdae het dit ‘n internasionale aansienstryd ontketen en lande soos China en Indië het op die ruimteradar verskyn. En daar word gegis dat Japan, Suid-Korea, en die Verenigde Arabiese Emirate ook gereed is om binnekort Maansendings te lanseer.

Voorts was Nasa se ISS-projek van meet af ‘n gesamentlike ruimtedroom waarby Aardse politieke vriend en vyand van oraloor daarbo aktief en vreedsaam betrokke is. Tog is daar twee seksies by die stasie waarvan die Amerikaners en “bondgenote” die een bestuur en die Russe die ander deel. Tot nou het 251 ruimtevaarders en ruimtetoeriste, wat mans en vroue van 20 verskillende lande insluit, diens by die ISS gedoen, sommige meer as een keer.

Ruimtetoeris was tot nou die luukse voorreg van skatryk Aardlinge wat die tog kon bekostig. Tussen 2001-2009, is sewe ruimtetoeriste met die Russiese Soyuz-ruimtetuig na die ISS vervoer. Insluitende ons eie miljardêr-entrepreneur Mark Shuttleworth, wat in 2002 ná ‘n jaar se opleiding in Rusland as die tweede ruimtetoeris die ruimte ingeskiet is. ‘n Allemintige $20 miljoen armer kon hy vir agt dae by die ISS met Vigs- en gene-navorsing help.

Ruimtetoerisme het intussen vlerke gesprei en nog ‘n ryk, avontuurlike Suid-Afrikaner van geboorte gee nou die pas aan. Elon Musk die rykste man op Aarde, volg in die spore van die flambojante Virgin-baas Richard Branson en loop tans voor in die ruimteverkenningsprogram vanuit die private sektor. As die stigter-grootbaas én hoofingenieur van SpaceX, werk hy nou saam met Nasa, en sy bemande Dragon-ruimtetuig is in 2020 suksesvol gelanseer. Dit was die eerste private maatskappy wat ruimtevaarders na die buitenste ruim geneem en by die ISS gedok het. Nog kuberkonings met bultende beursies het tot die ruimteresies toegetree om ego’s met dié weergalose wens te stu, soos Jeff Bezos en sy ruimtemaatskappy Blue Origin.

Boonop lei Nasa in lyn met ‘n vinnig-veranderde wêreld geruime tyd vroue en mense van kleur as ruimtevaarders op vir die opwindende sendings in aantog. Maanlandings was eens die uitsluitlike voorreg van blanke mans en die ruimte-agentskap het ‘n verklaarde voorneme om dit met sy Artemis-program reg te stel.

Agter die skerms woel ruimtewetenskaplikes op die grond om die glorieryke terugkeer na die Maan in 2024 op koers te hou. Die einddoel is ‘n permanente menskolonie daar vanwaar die taai tog na Mars aangedurf kan word. Dié brawe grensoorsteek sal een van menslike vooruitgang se grootste prestasies wees.

Tot dan wag die warm planeet soos ‘n verleidelike rooi appel geduldig op mensversugtinge en berei die Atermis-sending nou onderweg die pad daarheen. Die eens onbereikbare ruimtedroom oor mens op Mars bly vir eers tussen die bladsye van wetenskapfiksiestories in boeke en op skerms, maar kom tog in sig en nader aan verwesenliking. Voorwaarts dus, Mars wink!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!