Skip to main content

“Dis snert!” sê Louis Liebenberg in reaksie op berigte op Netwerk 24 dat hy kwansuis aan ‘n vennoot in sy Forever Diamonds and Gold-diamantbesigheid sou gesê het “f*kof, dis nie my probleem nie” toe die Gautengse pa hom verlede Desember langs sy dogter se sterfbed gevra het om hulp.

Die berig oor Fivaz is die nuutste in ‘n ooglopend felle, georkestreerde media-aanslag op Liebenberg se sake- en persoonlike belange.

“Ek kan glad nie so ‘n gesprek onthou nie,” het Liebenberg aan Die Waarheid gesê. “Hy lieg blatant!”

Die pa, Peet Fivaz van Bronkhorstspruit, sê hy het op 19 Desember verlede jaar vir Liebenberg “persoonlik” gebel en gevra dat die geld waarmee hy in die Forever Gold and Diamonds-skema ingekoop het, aan hom terugbetaal word om sy dogter se laaste dae draagliker te maak. Hy vertel Liebenberg het hom afgejak. Sy dogter is op 24 Desember in Polokwane dood.

‘n Ondersoek deur Forever Diamonds and Gold se rekords wys egter dat Fivaz nooit in enige pakkie ingekoop het nie en nooit ‘n vennoot by FDG was nie. Sy dogter, Melanie, het volgens die data voor Maart verlede jaar in totaal vir rondom R83 000 ingekoop. Altesame R24 000 daarvan is deel van die byna R100 miljoen wat deur die NPA gevries is en nog as deel van ‘n voortslepende regsproses in bewaring gehou word.

Die ander sowat R59 000 het ‘n opbrengs van rondom R109 000 opgelewer.

Volgens Liebenberg het Peet se broer, Louis Fivaz, R20 000 ingesit en het dit het oor ‘n tydperk in minstens R180 000 omskep. Hy het in daardie stadium elke tien dae 50% wins gekry.

Fivaz het vanmiddag gesê hy het met Liebenberg op die maatskappy se WhatsApp-groep gepraat. Die WhatsApp-groep wys dat die groep op die 19de, sowel as twee dae voor en na daardie dag, nie oop was vir korrespondensie met vennote nie. Daar is ook geen foto van Fivaz se dogter geplaas soos hy beweer nie.

“Peet en Louis was in 2020 die mense wat ons kontant vervoer het. Hulle het my vennoot Ronelle Kleynhans bank toe en terug vergesel,” sê Liebenberg.

Kleynhans het aan Die Waarheid gesê dat sy Louis Fivaz aangenaam gevind het, maar dat Peet bra baasspelerig was.

“Louis Fivaz se sekuriteitsmaatskappy Kananga Security was in geldelike verknorsing en hy was die beskuldigde in ‘n aanrandingsaak. Hy het na my toe gekom vir hulp,” vertel Liebenberg.

“Ek het Louis op 25 Februarie 2020 ontmoet. Hy het R20 000 ingesit. Hy het oor ‘n tydperk R180 000 daaruit gemaak. Ek het sy broer nooit ontmoet nie.”

Liebenberg vertel Louis het die eerste keer op 25 Maart kom winsgeld optel. “Hy het toe ook ‘n waterstasie in ons huis kom installeer – hy het ook ‘n waterwinkel. Ek het begin om geslypte diamante by Louis te koop. Hy het ook Peet se dogter, Melanie, aan die besigheid voorgestel.

Die eerste wat Liebenberg van Peet gehoor het, is toe Louis Fivaz hom vertel het daar is mense wat sleg van hom (Liebenberg) in die dorp praat. “My broer Peet sal meer inligting daaroor bekom,” het Louis Fivaz in daardie stadium gesê.

Die Waarheid het Peet Fivaz gebel om kommentaar te lewer. Hy het gesê dat hy volstaan by wat hy aan Netwerk 24 gesê het en dat hy korrek aangehaal is. Hy was egter nie bereid om telefonies met Die Waarheid te praat nie, en het daarop aangedring dat ons deurry Bronkhorstspruit toe voordat hy persoonlik kommentaar sal lewer.

Die laaste kommunikasie tussen Peet en Liebenberg was op 22 Maart 2021, toe Peet ‘n stemboodskap aan Liebenberg gestuur het waarin hy verduidelik het hoe hy iemand “gebliksem het” omdat hy sleg van Liebenberg gepraat het.

Alle kommunikasie wat Peet met Liebenberg gehad het, was op sy dogter Melanie se foon. Elke boodskap was positief en hy het onder meer gesê alle pakkies betaal “mooi” uit, en die wat nie uitbetaal nie, is mooi verduidelik.

  • ‘n Afskrif van hierdie berig is as mediaverklaring aan Netwerk24 gestuur. Of hulle dit gaan gebruik, sal nog gesien moet word.

2 Comments

  • Klaas WentzeL says:

    Dit is n bog storie man – hoekom na amper n jaar verby is gaan hy nou eers Media 24 toe. Hulle sal nie Louis onder kry nie !!

  • Neels says:

    So moeg vir die tipe mense. Louis, kan jy nie vir eens en vir altyd hulle verwyder nie.
    Verseker gaan baie ons nog probeer kortwiek, dasrom dat ons so sukkel om nuwe kliente te kry, maar wen sal ons wen.
    The proof is in the pudding.

Leave a Reply to Klaas WentzeL Cancel Reply

error: Content is protected !!